Dinsdag 06 Oktober 2020

Grendeltyd


As ek sit en wonder

Oor elke klein geluid

En my hart wil begin bokspring

Sonder ritmes, toe wil sluit

Sal ek my deure wyd oopmaak

Vir Sy liefde om weer in te stroom

En al my slotte los gaan maak 

Sodat Hy weer die troon

Kan opneem in my maal gedagtes

En my liggaamelike huis

Waar Hy met Sy vrede in kom woon het

teen die wêreld se gedruis




Maandag 07 September 2020

Hoe Rooier, hoe mooier....

 Net gister kuier ek by ‘n vriendin met ‘n mat kwessie. 

Haar kleur is blou. Soos haar oë en 80% van die somer rokke waarin ek haar al gesien het. En sy lyk pragtig daarin. Die probleem is nou net – die mat is rooi. Tussen haar mooi Delft-laslappie teëls en die blouerige kombuiskaste, wil dit net nie so lekker vloei saam met die res nie. En matkwessies (soos enige ander dekor kwessie) inspireer my. Ek dink dadelik aan die blougroen Saphire mat wat ek nou al vir maande beny op Hertex se House website. Die “Nostalgia” reeks…so reg in my sentimentele, romantiese kraal. Ek het al planne beraam, denkbeeldige goed verkoop en al my verjaarsdag, Kersfees en herdenkings- versoeke saamgegooi om die mat van my (onlangse) drome te bekom. 

So, met my deeglike navorsing en versugtinge van die laaste paar maande, vertel ek gretig van die mooi matte op die internet en ek sien sommer die blouerige een met die laslappie ontwerp in my vriendin se oopplan-sitkamer gestalte kry en en alles aan mekaar kom bind. 
Ek vertel ook presies hoe mooi die mat van my drome is en wat ek bereid is om op die oomblik op die spel te plaas daarvoor, toe ek skielik my eie rooi-mat storie onthou. Ek sak my kop (spreekwoordelik) in skaamte, terwyl ek verder babbel  en in my hart gee ek al my begeertes oor…maar laat ek verduidelik: 

‘n Hele paar jaar gelede was ons huis die toonbeeld van die rustic-afri-franserige- look. Neutraal, 'n bietjie romanties en verfynd. Voorspelbaar. Glad nie ons nie. Die probleem was opgesluit in die "neutraal". Ek het die dekor  opgekikker met ‘n spatsel duck-egg blou – ‘n veilige opsie, maar vir my spicy man was nog ‘n skakeuring van “vaal” net een te veel. 

In dieselfde tyd begin die kleur rooi toe tydig en ontydig opduik in my lewe.  Wanneer ek ‘n present kry, is dit rooi. ‘n Rooi bloes met goue vere op van my skoonsus, ‘n rooi bedlampie en fotoraam van my vriendin op my verjaarsdag. ‘n Rooi voorskoot en bypassende vatlappies van my huishulp af. ‘n Vriendin daag by my op met ‘n wit fotoraam en ‘n bloedrooi hartjie binne in. Sy verduidelik dat sy bloot ervaar het dat sy vir my ‘n groot rooi hart moes gee en dit is nou die naaste wat sy daaraan kan kom, jammer daaroor - maar sy vertrou ek sal verstaan?  Die matkwessie-vriendin voel weer geinspireerd deur ‘n droomstorie wat ek gedeel het en sy teken ‘n portret: Ek vlieg deur die lug met die mooiste rokkie aan en dit het natuurlik rooi hartjjies al om die soom en op die rante van die canvas.  My liefste man gee vir my ‘n rooi Nespresso Koffie masjien en die laaste strooi is die rooi ketel vir ons gasstoof, wat ons by my ouers kry vir ons huweliks-herdenking. 

Rooi klokkies begin oral in my gedagtes lui en my ore tuit vir ‘n verskuilde boodskap. Rooi  was nog nooit my kleur nie. 

In die rooi seisoen van my lewe, met die krapperigheid oor ons neutrale dekor tema, besluit ek en my man dit is tyd om ‘n kopskuif te maak. Ons persoonlikhede is nie net duck-egg-neutraal nie. Nee. Ons kort warmte en kleur. Hy voel duidelik onderverteenwoordig tussen al die blougroen en skakeurings van aards. Sy voorstel? “ Wat van ‘n bietjie rooi?” Natuurlik. 

In ‘n gesprek met my life-coach (wat my op daardie stadium help krap in my kop waar ek nie self kan bykom nie), duik rooi weer op. Ek lag sommer hardop – my huiswerk? Om rooi ten volle te ondersoek. Wat beteken dit vir my? Hoe voel ek oor rooi? Hoekom vermy ek dit? Dit word ‘n ontdekkingsreis en konfrontasie met myself wat uiteindelik tot die slotsom lei dat niks my van Sy Liefde kan skei nie…

Maar waar pas die rooi mat in, vra jy?

Sien, elke middag wanneer ek op (of af) ry in Dorpstraat, ry ek verby ‘n antieke winkeltjie wat interessante meubels op hulle stoep verkoop. Ons het die kinders se baba bedjie byvoorbeeld, jare gelede, daar gekoop. Ek het ook al ‘n hele paar keer ander  goed begeer wat op die sypaadjie loer, maar weens die gebrek aan parkering en die feit dat ek gewoonlik haastig oppad is na die volgende ding, maak dit dat ek net stop as dit regtig na besigheid lyk. So, my kop draai outomaties in die ringting van die winkeltjie (uit gewoonte en nuuskierigheid) toe ek eendag die nuwe Matplek langs die winkel opmerk. ‘n Reuse groot mat is oop gegooi voor die ingang. Bloedrooi met die helderste kleure wat ek nog in ‘n mat gesien het. Daar is bottergeel, skelpienk, grasgroen en blou patrone. Stilletjies in my hart dink ek dat dit nou eintlik die perfekte vertrekpunt sou wees om ons nuwe, kleurvolle dekor-reis te begin. Daar is baie rooi in die mat, maar daar is genoeg ander kleure vir my om mee te speel. 

Vir weke ry ek verby die winkel en die mat. Ek groet beleefd die helder kleure en ry verby. Dit moet ‘n PLAAS se prys kos. Ek gaan defnitief nie stop nie. 

So is ons een Sondag oggend oppad na my skoonmense toe, toe ons verby die matwinkel ry en lees:

 “FINAL CLEARANCE AUCTION TODAY FROM 12PM. EVERYONE WELCOME” 

My hart sak in my skoene. Ek sal my mat nou defnitief finaal moet groet. ‘n Plaas se geld het ons nie. Sonder om te dink vertel ek vir Manlief van die helder rooi mat en hoe dit nou eintlik perfek sou werk om ons sitkamer aan die gang te sit met ‘n nuwe kleurskema en dat ek nog nooit soveel helder kleure bymekaar gesien het op een mat nie, maar dat dit onmoontlik groot en duur moet wees.  
Tot my verbasing antwoord hy met ‘n entoesiastiese: “Moet ons ‘n kans vat?” Ek is uit die veld geslaan. Ons is al klaar amper laat vir die Vadersdag ete by Skoonmense, hoe op aarde gaan ons dit nou regkry? Maar Manlief bel ‘n vriend se studente-kind en vra waar hy is. “Nee Oom net om die draai van Dorpstraat – hoe kan ek help?” Toeval? Manlief verduidelik dat ons ons oog op ‘n mat het. Die veiling gaan oor ‘n paar minute begin. Sien hy kans om namens ons te bie? Nie hoër as hierdie bedrag nie… Studentekind stem in en ons ry weg. Ek is nie eens bekommerd nie. Die bedrag en die groot mat gaan nie strook nie. Ek maak vrede. Ten minste het ons probeer. 

Vadersdagete is in volle swang en omdat ons niks verder hoor nie, neem ons aan dat die bie-ery nie suksesvol was nie. Ons is net reg vir die poeding toe Manlief se foon lui: “ Oom, dit is die groot helderrooi mat wat julle wou gehad het, né?” Manlief sê ja. Ek luister by sy oor. “Oom ek het hom vir julle gekry, maar die mense wat saam gebie het, is bietjie ongelukkig. Hulle wil oorbie. Niemand het raakgesien dat dit DIE mat was waarop ons bie nie. Hulle dog dit is ‘n ander, kleiner een. Mense bied nou dubbel die bedrag aan vir die mat, maar die winkel het mos klaar die bod toegestaan? Ek dink Oom moet gou deurkom.” My wind is uit. Ek is stom verbaas. Hoe is dit moontlik? Die 3m x 4m reuse mat is verkoop teen die prys wat ons gemaak het! Manlief gryp dadelik sy sleutels en ry deur. Ek dink hy kan dit self nie glo nie. Ons het wraggies die mat gekry!

Na ‘n lang wag vir (enige) tyding, bel Manlief. Hy hét die mat. Almal in die winkel het hom geluk gewens met die winskopie van die eeu en die eienaar het hom (bietjie onwillig) toegelaat om dadelik te betaal en die mat in te laai. Hy kom gou deur om ons op te laai. 

By skoonmense aangekom is almal nuuskierig oor die mat. (Ek het natuurlik in die tydjie wat Manlief weg was, die prentjie vir die familie ingekleur.)  Ons gooi die mat oop op die grasperk voor die voordeur. Dit lê die hele voortuin toe.  Ek lag vir my ongeloof en hoe fyn my Hemelse Vader geluister het na ‘n klein fluistering van my hart. Ek het nie eens gedink Hy hoor nie. Dit het net te onmoontlik gelyk. En hier lê die mat nou voor my. Helderste kleure waaraan jy kan dink wat vrolik teruggroet in die wintersonnetjie. ‘n "Kick-start" vir ‘n nuwe dekor avontuur in ons huis. ‘n Verteenwoordiging van ons almal se uiteenlopende persoonlikhede, saamgeweef in ‘n harmonie van kleure en patrone…

Nou,  jare na die rooi mat insident, dink ek weer aan die blougroen Nostalgia-Saphire-Hertex-mat en gister se gesprek. Dié mat voel  nou vir my effens flouerig. Ek wil net die mat hê, as dit weer van Hom af kom. Hoe kan ek nou wil uitmis op so ‘n avontuur? En dinge op die spel plaas vir iets wat bloot net vir my mooi is? Nee wat internet mat – ek sal geduldig wag vir my Tapyt en al die ander versugtinge van my hart.

Hy is ‘n Goeie Vader.

Hy weet wat ons nodig het EN wanneer. Soek ons eers na Hom en Sy Geregtigheid, word hierdie  dinge sommer so bygevoeg. Hy kom en bind ons gesin opnuut en kleurvol aanmekaar, wat krapperig was in neutraal. Dit klink meer soos Sy Koninkryk. 

Ek vertrou op Hom, want selfs mat-avonture is in Sy repertoire. En regtig, niks kan ons van Sy liefde skei nie!

Maandag 24 Augustus 2020

'n Skapie in Wolfsklere

 Brutus, ons Duitse Herdershond, is ‘n gróót hond. Hy is ‘n BEAUT. Mooiste gelaatstrekke en profiel. ‘n Stert wat nét reg krul. Geen heup of gewrigsprobleme nie – en die dierbaarste geaardheid waaraan jy kan dink. 

Sy impossante gestalte skrik menigte verbyganger af om die klokkie te lui of miskien per ongeluk by ons erf in te kom. (Min wetend dat hy wat Brutus is, geen hond haar af sal maak nie en totaal onbewus is van die effek wat hy op sy aanskouers het) 

Wanneer Brutus blaf, is dit régtig net vir ander honde. Só, as jy per ongeluk voor die hek staan en iemand anders stap agter jou met ‘n hond verby – kan jy dalk geflous word om te dink dat Brutus ‘n kwaai hond is. Hy is nie. Ons studente huurders wat op die erf bly stap gereeld met hom. Vir die jong dames is hy die perfekte metgesel: goeie afskrikmiddel, gehoorsaam, saggeaard. 

Brutus was nog nooit die Alpha nie. Ons het hom nou al so min of meer 7 jaar  lank en in daardie tyd het hy my al soveel keer verbaas. (En ‘n bietjie in my mou laat lag vir sy lafhartigheid.) 

Hy dink hy is klein. En Magteloos. 

Ons Skottie, Max, sou byvoorbeeld doodluiters op Brutus se bed gaan lê asof dit aan hom behoort; dan sou Brutus, sleepstert en vraende oë aan my kom stamp todat ek opstaan en vir Maxie van sy bed afjaag. Max was ‘n tiende van sy grootte. Of Brutus sou byvoorbeeld glad nie opklim na ons stoep toe, wat so 60cm van die grond af was nie. Hy sou elke keer omstap en die stoep van die huis se kant benader. Maak nie saak hoeveel keer ons hom roep of paai of help om op te klim nie. Hy kan nie. Of eerder hy dink hy kan nie. 

Hy is uit en uit geteel met ‘n gesinshond-temperament. Gemaklik tussen mense en kinders en ek is dankbaar daarvoor, maar daar is nadele aan die feit dat hy (ENIGE) mens se beste vriend is. 

Sy mensliewendheid het hom al ‘n paar keer in die sop laat beland. Ek moes hom al by Animal Welfare gaan haal wanneer hy by die hek uitglip en heel gemaklik saam met ‘n vreemdeling begin stap of in hulle kar spring. Hierdie Honde- Mamma se einde: Lang trane , groot soektog. 

Gelukkig red sy voorkoms hom dan gewoonlik. Hy lyk net té Koninklik teenoor die gehawendheid van die bedelaarman wat ‘n leiband met sy gordel geprakseer het. (Dankie tog die prentjie het nie vir die sekuriteitswag in ons buurt sin gemaak nie.) Of hy is bietjies te groot vir die hawelose kindertjies wat in die parkeer area by die Mall met hom speel – ‘n kilometer van ons huis af… 

Die dag toe ‘n inbreker dit wel waag om, Brutus se voorkoms ten spyt, oor ons muur te spring en ons huishulp die man skreeuend verwilder het uit die tuin, het Brutus swaaistert langs die misdadiger gesit asof hy maar net te bly is vir die nuwe geselskap in ons erf.  Sonder om te blik of te bloos of te blaf. 

Vir Manlief irriteer dit , nodeloos om te sê, tot in sy kleintoontjie. Hy is baie lief vir die hond, maar voel dit is : “Net nie reg nie” Al die ‘spunk’ is volgens hom uit die hond geteël. Ek stem tot ‘n mate saam…dierbaar is hy wat Brutus is, maar braaf (?) nie juis nie. 

My eie irritasie met die hond, lê egter op ‘n ander vlak. 

Die manier waarop Brutus homself sien, herinner my aan die manier waarop ons baie keer die lewe benader. 

Met sy groot lyf, sterk spiere, skerp sintuie, en reuse kake lewe Brutus tussen ons soos ‘n skoothondjie. Hy besef glad nie waartoe hy instaat is nie. Ons wat saam met hom lewe, is dankbaar daarvoor. Dit versteur nie ons gemaklike lewe saam met hom nie. Ons moedig dit eintlik aan. 

Dit laat my dink aan die ou storie van die arend wat tussen die hoenders grootgeword het en nooit besef het dat hy kan vlieg nie! 

Onderdruk ons nie ook baie maal die “Brutus” binne ons nie? Ons wil tog net nie die mense rondom ons ongemaklik maak nie. Of ons ware kleure wys nie. Of die status quo-appelkarretjie omgooi nie. Ons voel net te blootgestel. 

Ons vergeet dat die Leeu van Juda binne in ons elkeen, wat Jesus Christus aangeneem het, bly. ‘n Vorstelike Krag wat by Magte is om vêr meer te doen as wat ons ooit kan bid of dink. ‘n  Kreatiewe, Liefdevolle, Genesende Krag. Die Redder van die Wêreld. Vredevors. Immanuel. 

Al wat ek kan aflei is dat ons bang is vir wat dit kan beteken? Wanneer ons die skrefie van ons hart se deure oopmaak en verblind word deur die Grootsheid van Sy drome vir ons en die begeertes wat Hy in ons harte geplaas het, voel ons oorweldig. 

Ons slaan die  deur toe. Ons probeer onsself oortuig dat dit wat ons daar binne sien, ‘n illusie is en lewe dan verder in die eintlike leuen-wêreld wat ons vir onsself skep. Daar waar ander mense gemaklik voel in ons teenwoordigheid en Syne nie is nie. 

Ons onderdruk die knaende gevoel dat ons eintlik vir soveel meer gemaak is en raak afgestomp daarvoor. 

In die geval van Brutus, weet ek dat dit vir ons almal beter is dat hy nie weet wat sy potensiaal as wilde dier sou wees nie. Maar ek voel tog jammer vir hom. Hy is ‘n groot wolf wat na homself kyk as ‘n baba lammetjie. 

Nee. 

Ek wil die Leeu in my ontdek. Ek wil voel met my hart se deur wa-wyd oop. Ek wil inkyk en sien hoe Sy Heerlikheid manifesteer in my lewe en deur my vloei. Ek wil uitvind waarheen  Sy potensiaal my kan lei en ek wil Sy Koningskap in my ten volle ervaar. Soos in die Hemel – so ook op die aarde. 

‘n Skoothondjie -verseker nie! 

Sela. 

Visserskind

Ek wonder hoe het jy gevoel

Daardie dag toe Hy staan

In die aandlug se koel

En jy

‘n Klein seuntjie

 met ‘n hemelse doel

 

Toe Sy oë vir jou glimlag

 asof Hy weet

En jy dalk eers jou geskenkie

se waarde wou meet

 

Toe die Man wat diep in jou siel inkyk

Jou eenvoudige kinder-kosblik gebruik

Om vir al die baie (duisende) mense

Siekes, gesondes, dromers, wensers…

Hulle honger na lewe en iets wat kan voed

Kom aanspreek en heelmaak en weer moed

Uitdeel  vir ‘n nuwe werklikheid

Een van oorvloed en liefde en dankbaarheid

Toe Hy sê: “ Bring wat jy het. Dit is Genoeg.

Ek kán jou gebruik.

 Ek plant.

Jy oes.”

Vrydag 14 Augustus 2020

Storm

 Stormagtig is die see in my

my voete voel onvas

soveel vrese wat my beet kan kry

in my gedagtes en my hart


Maar dis asof hierdie heen en weer

en golwe wat my bootjie slaan

my laat fokus op my eie seile

en die rigting wat ek gaan


vir lank was daar 'n ligte wind

 'n paar deinings nou en dan

waar ek ligweg net kon koes

en vashou aan U hand


maar hierdie is 'n ander storm

dit woed en skud en breek

sodat ek als wat ek al geleer het

nou een vir een probeer


Ek roep in desperaatheid

 stemloos deur die storm se geraas

U antwoord met 'n sagte stem 

en vrede wat my weer verbaas


"My genade is genoeg vir jou. 

Vir Ewig. Weer en Weer. 

Ek het My asem in jou ingeblaas. 

Kom sit weer alles neer."



Maandag 03 Augustus 2015

Kapasiteit

‘n Goeie vriend van my het die irriterende gewoonte om in nuwe geselskap een of ander tyd hierdie vraag te vra: “ As jy enige iets met jou lewe kon doen en jy versker was dat daar geen struikelblokke in die pad sou wees nie, wat sou jy doen?” Amper soos  om vir ‘n kind te vra: “ Wat wil jy eendag word as jy groot is?” Dit is ‘n vraag wat die meeste mense aanvanklik bietjie ongemaklik maak en onkant vang.  Sy volgende vraag is dan gewoonlik: “ Wat keer jou om dit nie te doen nie?” In die 15 jaar wat ons al vriende is, was daar nog net twee mense wat kon antwoord dat hulle presies doen waarvan hulle kleintyd gedroom het. In altwee hierdie gevalle het dit opoffering gekos. Die lewe het eers ‘n paar draaie met hulle geloop todat hulle uiteindelik op ‘n kruispad te lande gekom het en die groot sprong na ‘n “droom” geneem het. Net twee mense (!) wat regtig doen wat hulle nog altyd graag wou. Dit het my bietjie laat dink oor God se droom vir ons lewens. Daardie knaende gedagte of ding wat jy nog altyd graag sou wou doen of probeer: “ Eendag” of “ As jou skip inkom” of  “ as jy bietjie losser is by die werk/huis en meer tyd het”…
Vanoggend lees ek weer die stukkie in Matt 6:25-34 waar Jesus vertel van die voëls en die lelies en hoe ons Hemelse Vader vir hulle sorg. ‘n Vader wat al ons bekommernisse op Hom wil neem (1 Petrus 5:7 ) en ons wil help om soos lelies te blom waar ons geplant is…
Hierdie Vader wat vir ons die Goeie Nuus gebring het. Wat ons in Christus Jesus meer as oorwinnaars maak. Wat ons tot ALLES in staat maak en selfs die slegste ervarings ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet en geroep is om Sy wil te doen. (Rom 8:28)
Hoe sal jy hierdie vrae beantwoord as ek vir jou sê dat die somtotaal van jou vorige ervarings jou perfek voorberei het vir dít wat ons Hemelse Vader vandag deur jou wil doen? Dat Hy deur dit alles jou kapasiteit vergroot het, sodat Hy jou kan gebruik soos nog nooit tevore nie? Sy strategie vir jou lê opgesluit in wie jy is. Jy is spesifiek gemaak met ‘n doel. Al lyk dit soms nie vir die wêreld (of vir jou) so nie. Sy drome vir jou is groot en ongelooflik. Hy wat ‘n koning van ‘n skaapwagter soos Dawid maak, ‘n leier soos Moses van iemand wat sukkel om te praat. ‘n Krygsman van ‘n bang Gideon en die lys hou aan en aan…
As jy vandag voel soos ‘n lepel wat as ‘n graaf gebruik word, laat Hom toe  om saam met jou te droom oor jou lepel status, voor jy daardie lepel in die dak steek… ;-)

"...Our deepest fear is not that we are inadequate.
Our deepest fear is that we are powerful beyond measure.
It is our light, not our darkness that most frightens us.
We ask ourselves, Who am I to be brilliant, gorgeous, talented, fabulous?
Actually, who are you not to be?
You are a child of God.
Your playing small does not serve the world.
There is nothing enlightened about shrinking so that other people won't feel insecure around you.
We are all meant to shine, as children do.
We were born to make manifest the glory of God that is within us.
And as we let our own light shine, we unconsciously give other people permission to do the same.
As we are liberated from our own fear, our presence automatically liberates others."'A Return To Love' (1992) by Marianne Williamson
Matthew 6:25-34
Do Not Worry
25 “Therefore I tell you, do not worry about your life, what you will eat or drink; or about your body, what you will wear. Is not life more than food, and the body more than clothes? 26 Look at the birds of the air; they do not sow or reap or store away in barns, and yet your heavenly Father feeds them. Are you not much more valuable than they? 27 Can any one of you by worrying add a single hour to your life[e]?

28 “And why do you worry about clothes? See how the flowers of the field grow. They do not labor or spin. 29 Yet I tell you that not even Solomon in all his splendor was dressed like one of these. 30 If that is how God clothes the grass of the field, which is here today and tomorrow is thrown into the fire, will he not much more clothe you—you of little faith? 31 So do not worry, saying, ‘What shall we eat?’ or ‘What shall we drink?’ or ‘What shall we wear?’ 32 For the pagans run after all these things, and your heavenly Father knows that you need them. 33 But seek first his kingdom and his righteousness, and all these things will be given to you as well. 34 Therefore do not worry about tomorrow, for tomorrow will worry about itself. Each day has enough trouble of its own.

Woensdag 08 Julie 2015

Klippie in my skoen...

Om “‘n klippie in die skoen te hê”  is ‘n goeie beskrywing van irritasie en wat dit beteken om geirriteerd te wees. Iets is net nie lekker nie, al is dit eintlik onbenullig klein. Dit is gewoonlik ook nie iets wat net "eenmalige wrywing" veroorsaak nie. Nee, die meeste van ons kan onvoorsiene ongemak redelik goed hanteer, indien dit net een keer gebeur.  Dis die herhaling  van die ongemak wat irritasie veroorsaak. Soos ons tuimeldroeër se hartseer: "kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee"wat die kenwysie van koue reënerige dae word. (As dit ‘n redelike ou tuimeldroeër was, kon ek dit dalk nog verstaan, maar dié kermkous is maar skaars ‘n jaar oud! Met ‘n “sagte” siklus kamtig ingebou, wat soos die winter aanstap al hoe minder sag word…)

Daar is waarskynlik, soos met die klippie in die skoen, ‘n eenvoudig oplossing vir die skawende-staal-liedjie wat die tuimeldroeër sing. Ek vermoed  dit is so eenvoudig soos olie. ‘n Buffer tussen die onderdele wat mekaar (my!) so skaaf. En ek vermoed dat dit ook die oplossing is vir die meeste irritasies in ons lewens, groot en klein:  Olie.
   
Vars olie in ons lampies en ‘n salwing om ons skaniere weer goed aan die werk te kry. ‘n Buffer wat  wat ons nodig het om ons teen die alledaagse wrywing in die lewe te beskerm.
Sonder so ‘n buffer is ons soos staal op staal. Ons verweer mekaar en belemmer eintlik ons eie funksionaliteit. Ons het in die eerste plek die Gesalfde nodig. Christus Jesus, wat letterlik “om gesmeer te wees” beteken. Jesus wat drup van God se Teenwoordigheid en Sy Heilige Gees wat ons ook Gesalfdes maak. Ge-olie en gerat vir dit wat oor ons pad mag kom.

Dat daar wrywing oor ons pad gaan kom is ‘n feit. Ons kan dit nie vermy nie, maar wanneer ons ge-olie is, is die irritasie soos ‘n sandkorreltjie binne in ‘n oesterskulp. Die irritasie wat afvryf aan die binne-kant van die skulp, vorm in plaas van ‘n letsel, ‘n volmaakte pêrel. ‘n Kosbare skat uit dit wat eintlik veronderstel was om skade aan te rig. Soos die irritasies ons binnekom, laat ons Hom toe om daaraan af te vryf, todat dit volmaak is, al neem dit soms 'n tydjie en al is dit ongemaklik. Hy is besig met n meesterstuk.

So, mag ons vandag ons irritasies olie. Mag die Heerlikheid van Christus en die Heilige Gees afvryf en pêrels vorm in ons binneste waar daar dalk klippies vassit, sodat dit wat gestuur was om letsels te bring, ‘n kosbare juweel word. ‘n Offerhande wat ons vir Hom kan terug gee met vreugde.

Psalm 100:4
Enter his gates with thanksgiving, and his courts with praise! Give thanks to him; bless his name!

Revelation 21:21

The twelve gates were twelve pearls, each gate made of a single pearl. The great street of the city was of gold, as pure as transparent glass.

Maandag 08 Junie 2015

Bedagsaam

Be-dag-saam

HAT: be-dag’ b.nw 1 Voorberei: Op alles bedag wees. 2 Uitgedink: ‘n Bedagte ekskuus
be-dag’saam b.nw en bw. Versigtig, met oorleg, nie oorhaastig nie: Bedagsaam optree. ‘n Bedagsame meisie wat ‘n ou tante oor die straat help. bedag’saamheid

Bedags, in ons gejaag na ‘n plekkie in die son, vergeet ons soms om aan ander te dink. Ons wentel om ons eie baan en is behep met alles wat in ons eie sterrestelsel aan die gebeur is. Ons vergeet dat die ander planete hier om ons, besig is met dieselfde stryd en eintlik deel vorm van ‘n baie groter geheel, as dit wat ons met die blote oog kan sien.

 Ons is almal interafhanklik van mekaar en eintlik maar klein deeltjies van die grootste Hemel-Liggaam… ons is Christus se Liggaam in hierdie wêreld. Verskillende dele aanmekaar geweef om as één te funksioneer en op te tree. Om bedagsaam te wees.

Wat beteken dit? 

Ek dink die sleutel lê in “dag”. In die konteks van bedag wees, beteken dit om mooi te dink oor dinge. Dink voor jy doen. Maar: wanneer jy bedagSAAM is, gaan dit oor meer as een persoon. Jy word die geleentheid gegee om die DAG te wees in iemand se nag. Jou geDAGte, wat dan oorgaan in ‘n aksie, laat die son deurbreek en die Lig skyn.  Daar is 'n omwenteling en die lig breek deur...


So, kom ons wees vandag bedag op ons gedagtes en laat onsself toe om be-DAG-sáám te wees.

Acts 2:44
 44 And all the believers met together constantly and shared everything with each other, 45 selling their possessions and dividing with those in need. 46 They worshiped together regularly at the Temple each day, met in small groups in homes for Communion, and shared their meals with great joy and thankfulness, 47 praising God. The whole city was favorable to them, and each day God added to them all who were being saved.

Dinsdag 02 Junie 2015

Hoe diep?

Hoe diep wil jy liefgehê word?

Die laaste ruk is ek nogals gekonfronteer met hierdie vraag in my eie lewe.

Hoe diep wil ek Liefde toelaat?
Wat beteken dit om "diep" Liefde te ontvang?

Die eerste beeld wat by my opgekom het was die een in Openbaring 3:20. Jesus staan by die deur van ons harte en klop, sodat Hy 'n feesmaal saam met ons kan hou...

MAAR dis asof Hy hierdie keer nie net aan my voordeur of "huisbesoek sitkamer" -deur kom klop het nie. Hy wil ook inkom in die kamers waar ek dalk nie so gemaklik is met Hom daar nie. Dalk die badkamer waar die pype al lank verstop is en dit sleg ruik, of die slaapkamer waar die mure kraak. Die braai-kamer met die vorige aand se paartie en al die kaste waar jare se geraamtes vol stof lê...

Hy wil in elke hoekie van die huis 'n feesmaal hou, maar Hy is 'n gentleman. Hy wag vir ons om die deure oop te maak sodat Hy al die geraamtes en plumbing kan uitsorteer. Ons moet Sy Gees daar toelaat. Hulle Drie maak die perfekte make-over span.

Die tweede beeld waaraan ek gedink het, is dié van 'n spons. Ons is emosionele en ervarings-sponse. Deur die loop van ons lewens absorbeer ons dit wat oor ons pad kom en wat infiltreer deur ons spesifieke persoonlikheid en menswees. Goeie en slegte dinge. Goeie en slegte filters. Dit maak ons wie ons is.

Ons sponse groei en verhard (of versag) op sekere plekke soos ons sekere emosies toelaat en vasvang in ons netwerk van Self.

Wanneer ons dan onder druk is, vloei dit wat ons oor die jare vasgevang / ge-absorbeer het, na buite. Binne elke situasie is daar dan ook die potensiaal om nuwe dinge te absorbeer. 'n Spons vol seerkry, lek seerkry na buite en die seer kan dalk weer in 'n ander spons invloei...

MAAR daar is 'n alternatief. Sy Teenwoordigheid. Wanneer ons ons 'sponse' bring na die emmer van Sy Teenwoordigheid en toelaat dat ons seerkry daar uitvloei, kan ons Sy perfekte liefde absorbeer.  Dit neutraliseer die seerkry en maak plek vir vars Lewende Water. Wat is nodig in die proses? Om toe te laat dat Hy saggies op die seer dele van ons sponse druk. Hy weet dat ons dalk net 'n bietjie op 'n slag kan hanteer. Hy is liefdevol, genadig, lank-moedig en Goed. Volgende keer druk Hy dalk 'n bietjie harder sodat Sy liefde dieper kan invloei. Hy wil ons liefhê tot in die diepste-diep van ons wese. Tot daar waar jy gevorm is en waar jy dalk nie eers weet van die harde dele of skewe filters wat jy opgebou het oor die jare nie.

En die uiteinde van dit alles? Wanneer ons toelaat dat Hy invloei en ons vul met Sy Volheid en elke dag lewe in Sy Teenwoordigheid, neem ons daardie emmer saam, waar ons ook al gaan. Ons verander die atmosfeer en raak 'n plekkie waar ander se seerkry kan uitvloei en kan neutraliseer.

Ons raak sponse vol van Hom en Sy Lewende water, sodat ander ook dieper Liefgehê kan word.

Mag ons WEEK in Hom vandag en emmers vol perfekte liefde ronddra sodat ons ander met Sy liefde kan verkwik al vat dit 'n bietjie DRUK van Sy kant af.

2 Corintihans 1: 3-4

3-4 What a wonderful God we have—he is the Father of our Lord Jesus Christ, the source of every mercy, and the one who so wonderfully comforts and strengthens us in our hardships and trials. And why does he do this? So that when others are troubled, needing our sympathy and encouragement, we can pass on to them this same help and comfort God has given us. 5 You can be sure that the more we undergo sufferings for Christ, the more he will shower us with his comfort and encouragement. 6-7 We are in deep trouble for bringing you God’s comfort and salvation. But in our trouble God has comforted us—and this, too, to help you: to show you from our personal experience how God will tenderly comfort you when you undergo these same sufferings. He will give you the strength to endure.



Maandag 18 Mei 2015

Blom

Klokblom-pers
Kleine blommetjie
Papierdun  velletjie
Ook jy sing tot Sy eer
Want môre is jy weg
En blom iets anders weer

Dinsdag 16 September 2014

Hibiscus (Roos van Sharon)

oorgegee val ek terug
in kroonblare
se sag

uit my stulp die vrugbeginsel
wat okergeel na hoogtes mik
Hemelwaarts gerig

uit die dieptes van die holte
kan nuwe lewe stip

Ek is ryp en verborge
in die Tuin van die Lewe

mag my geur versprei
mag U my altyd lei
en in die blomme-prag
wat U is
my laat rus

Dou

Nuwe lewe tussen groen gras
alles skoongewas
na die reen en wind en weer
blink die druppels
roerloos stil
wieg
en val versadig neer
diamante blink
 oor die halmpies gestrooi
elkeen met 'n reenboog
wat knipoog
in blou of geel en rooi
'n glinster paradys
in my grasperk
oopgesluit

Appelboord

By die afgrond
moes ek spring
dit, weet ek nou,
was vir my wins
want onder
was U daar gewees
op die groen gras
 speels
 my vasgehou
en koesterend laat voel
hoe sterk U liefde
my omvou

U was daar
 toe ek moes spring
onder die appelboom
het ons gesit
U't my stywer vasgehou
en al wat ek onthou
was sagte lippe op my kop
"Jy is Myne, my Pop"

"Helder Stemme", het U
in my oor gefluister
en ek het geweet
dat ek
van nou af
fyn sal luister

U liefde vir my
is sterker as die dood
dit weet ek nou
ek kon dit voel,
daar in die
Appelboord

Donderdag 04 September 2014

Flolinde die Vrolike Skoenlapper


Flolinde die vriendelike skoenlapper woon in die Fielasbos. Sy het sysagte rëenboogvlerkies en is mal daaroor om deur die digte bos te vlieg en na al die wonderlike plante te kyk. Op ‘n sonnige dag is Flolinde besig om te droom oor bont bloeisels en die sagte somerwind toe sy skielik KAPLAKS in ‘n groot rots vas vlieg! Haar mamma sou nou sê Flolinde se kop is in die wolke, maar vir haar voel dit of hy hier onder haar pienk blommekroontjie sit. Sy verstaan nie hoe hy in die wolke kan wees en op haar lyfie nie!
Sy wonder nog so oor die wolke en haar kop toe die rots waarin sy vasgevlieg het, begin bibber. “Wie kielie hierdie Bielie?” vra ‘n diep stem. Flolinde skud haar koppie en kyk op. Die rots is toe nie ‘n rots nie, maar ‘n Momtjorra! Hulle is reuse gediertes wat stadig deur die Fielasbos loop. So stadig, dat min mense hulle raaksien. Flolinde sien dat die Momtjorra vir haar wag om te antwoord. Sy vlieg ‘n entjie weg en kyk in sy een groot oog.
 “Ek is Flolinde die Vrolike Skoenlapper, en jy…” sy wag ‘n bietjie. Die Momtjorra het geel en pers kolle oor sy hele lyf! Dit beteken dat hy hartseer is! “En jy is hartseer?” vra sy nou. Die Momtjorra laat sak sy kop baie stadig asof hy wil “ja”  sê.
Flolinde wil nog troos toe daar ‘n ‘n Takbaard agter die Momtjorra uitspring. Takbaarde is lelike vaal gediertes wat krakerig deur die bos klouter. Hy skree: “Momtjorra is vol kolle! Momtjorra is vol kolle!”
Flolinde is sommer dadelik vies. Weet die Takbaard dan nie dat dit beteken dat hy hartseer is nie? Sy vlieg tot bo by die Momtjorra se oor en fluister hard genoeg sodat hy kan hoor: “ Ou Takbaard is net jaloers. Hy is vaal en bruin en kan nie sulke mooi pers en geel kolle soos jy kry nie. Al beteken dit jy is harsteer. Moet jou nie aan hom steur nie. Ek sal vir hom ‘n les leer.”
 Die Momtjorra kyk verbaas hoe Flolinde hoog in die lug opvlieg en haar vlerkies wild begin skud. Fyn goue lag-vlokkies val van haar vlerkies af en land binne- in die Takbaard se bek wat nog heeltyd besig is om te koggel. En daar begin hy skater van die lag!  Nie ‘n lelike lag soos dié wat Takbaarde gewoonlik het nie – ‘n vrolike lag wat uit sy takkerige maag kom.  Hy lag so lekker dat hy skoon vergeet van die kolle en vrolik begin aanstap deur die bos.
 Die Momtjorra kyk na sy lyf. Sy kolle is besig om ligter te raak. Die lag-vlokkies sit aan sy growwe lyf vas, maar die groot traan wat aan sy een oog hang, wil nie weggaan nie. Flolinde vlieg af tot by sy oog en met haar vrolike stem vra sy: “Momtjorra, waarom is jy dan so hartseer?”  Baie stadig, soos net Momtjorras kan praat,  antwoord hy:”Ag ekke wil so graag ‘n mooi blom pluk vir my huis, maar my pote is groot en lomp. As ek afbuk om een te pluk maak ek my hand te groot oop. Dan trek ek sommer ‘n hele boom uit! Ek kan nie aan die Fielasbos se lekker blomme ruik nie. Hulle is te fyntjies vir my. Ek maak hulle stukkend”

Die groot traan wil net op Flolinde se vlerkies val toe sy skielik ‘n blink plan kry! Die sagte somerwind!  “Momtjorra, ek ken ‘n plek in die Fielasbos waar reuse blomme groei! Ons skoenlappers gaan haal nektar daar as die somerwind waai! Dis net om die draai!” Die Momtjorra glimlag stadig.Sy kolle is weg! En stadig. Baie stadig stap hy agter Flolinde aan. So stadig dat min mense hom raaksien, maar net betyds vir die somerwind en pratige blomme vir sy huis!

Maandag 12 Mei 2014

Perdeblommetjies vir Pinkster

Ek droom gistraand van 'n ontploffing op die maan in allerhande kleure. Dit lyk eers soos 'n plant wat groei en dan soos 'n reuse dandelion of perdeblommetjie wat ontplof. Ek is êrens op ’n skoolveld besig. Daar is ‘n groot paviljoen aan die een kant en een of ander byeenkoms is aan die gang. Die dandelion saadjies het tot op die skoolveld geskiet en dryf stadig verby. Hulle is ENORM. ’n Mens kan aan hulle hang en opstyg! Ek gryp na die naaste een, hop eers en styg dan op terwyl ek styf aan die saadjie vashou. Dit is n bietjie scary maar heerlik! Oral rondom my is die lug gevul met die mooiste kleure.

Aan die een kant van die veld staan ‘n ‘onskuldige’ dogtertjie. Sy is besig om vir die mense op die veld te vertel dat, as hulle graag wil voel hoe dit voel om met die dandelion te vlieg, hulle net voor haar moet kom kniel. Dit voel glo presies dieselfde. Sy het kussings op die beton paviljoen uitgepak en mense gaan staan in ’n ry voor haar. Hulle kniel een vir een. Uit die hoogte kan ek sien dat hulle vir ’n oomblik gelukkig lyk op hulle kniee, maar die glimlag verdwyn vinnig. Wanneer hulle wegstap lyk hulle terleurgesteld en val weer agter in die ry in. Hulle het meer verwag. Soos ek vlieg met die dandelion probeer ek vir die mense skree dat dit baie lekkerder is om die ware Jakob te probeer! Hulle kan almal ook vlieg! Maar dit lyk bloot te vreemd en gevaarlik…

Dit het my laat dink aan my eie storie. Vir ‘n lang tyd in my lewe was ek self besig om voor dinge te kniel. Party meer onskuldig as ander…
Ek het die leuen geglo dat dit daardie gevoel sou wees waarna my hele wese smag. Ek het geweet ons is gemaak vir soveel meer – ek kon net nie lekker my vinger daarop sit nie. Ek het dit bly soek. Selfs al het ek ‘n verhouding met die Here gehad.

‘n Ontploffing op die maan en om met dandelion saadjies te vlieg klink ‘n bietjie far-fetched. Ek weet. Ek besef nou dat ek ook baie keer so gevoel het oor mense se kamtige “Geestelike Ervarings”. Party keer was dit ‘n bietjie out-there vir my, todat ek eendag besluit het om die saadjie wat verby vlieg vas te gryp en in die lug te spring. Al lyk dit vreemd. Ek wou meer hê! My ervaring? Wat ‘n AVONTUUR! En as jy eers eenmaal besluit het om te vlieg, daag daardie saadjies oral op…  

As ek nou terug kyk, besef ek dat geen een van die ander “aardse” ervarings of dinge waarvoor ek gekniel het, met die Heilige Gees kan vergelyk nie. Die tydelike “high" is niks in vergelyking met die hoogtes waar jy kan sweef as jy net jou trots in sou sak steek  en totaal-en-al alle beheer Oorgee nie. Jou fokus is dan op die dinge daar bo en ‘n biejtie afstand gee ‘n mens weer perspektief oor die dinge hieronder.

Ek het eenmaal iemand hoor sê: “How will you keep them on the farm, when they have seen Paris?” en ja, ek weet die plaas hou vir party van ons meer bekoring in as Parys, maar nietemin.
  
Ons is partymaal so bang gepraat en so versigtig vir misleiding, dat ons self in die proses mislei word!

Ek wonder of daardie eerste uitstorting van die Heilige Gees in Pinkster, nie ook soos ‘n ontploffing op die maan gevoel het vir die dissipels nie? Vreemd, nuut, wonderlik scary. Almal wat daardie dag besluit het om te vlieg, sou nooit weer dieselfde wees nie. Geen aardse ding, persoon of ervaring kon ooit weer daarmee vergelyk nie…

Hierdie maand dink ons weer aan daardie eerste keer. Die Heilige Gees se uitstorting. God se krag wat vir ons almal beskikbaar gemaak is. Ook vir jou. Al lyk dit dalk vir jou vreemd en ongewoon…jy is gemaak daarvoor. Dis eers wanneer jy vlieg dat jy dit besef. Soos ‘n vis wat op land was en vir die eerste keer die water voel!

So, wanneer daardie saadjie verby vlieg, vergeet die leuens van tydelike highs en dit wat jy dink jy weet van ‘n verhouding met die Heilge Gees en gryp dit aan! Vra hierdie Pinkster vir jou eie ontploffing, hou jou oë oop vir perdeblomsaadjies  – en Bon Voyage!

2 Corinthians 3:17 (Amplified)

Now the Lord is the Spirit, and where the Spirit of the Lord is, there is liberty (emancipation from bondage, freedom)

Acts 2: 12-21 (Living Bible)

They stood there amazed and perplexed. “What can this mean?” they asked each other.
13 But others in the crowd were mocking. “They’re drunk, that’s all!” they said.
14 Then Peter stepped forward with the eleven apostles and shouted to the crowd, “Listen, all of you, visitors and residents of Jerusalem alike! 15 Some of you are saying these men are drunk! It isn’t true! It’s much too early for that! People don’t get drunk by 9:00 a.m.!16 No! What you see this morning was predicted centuries ago by the prophet Joel— 17 ‘In the last days,’ God said, ‘I will pour out my Holy Spirit upon all mankind, and your sons and daughters shall prophesy, and your young men shall see visions, and your old men dream dreams. 18 Yes, the Holy Spirit shall come upon all my servants, men and women alike, and they shall prophesy. 19 And I will cause strange demonstrations in the heavens and on the earth—blood and fire and clouds of smoke; 20 the sun shall turn black and the moon blood-red before that awesome Day of the Lord arrives. 21 But anyone who asks for mercy from the Lord shall have it and shall be saved.’



Dinsdag 11 Maart 2014

Swart op Wit

'n Tikmasjien
met klawers
wat note
vinger-lig lostokkel
woorde frases strofes verse

saam-gesing met die
tikkeling

ritmies verbind en meegesleur
in die trant van die storie
en die geur van ink
vasgevang
vir altyd

swart wit swart wit swart

note simbolies
woord-gespring
tot die bladsy vol
van duikelings blom
met 'n lied
uit die klawers
geskiet

My Jam

Liedjies filtreer die
frekwensies van my hart
heavy-metal-eerlik-kwaad
of female vocalist seergemaak

Partykeer is dit Rock en Roll
wat head-bang air guitar
tot ek voel ek is Vol

ander kere weer 'n Country Song
wat hartseer verlang en
erken ek was bang

of 'n volledige simfonie
'n orkes wat bassuin
"Hoe Groot is U"

somtyds weer net een noot
wat saggies "Amen" uiter
en "Dis weer ek, Here" fluister

maar meestal net 'n Happy Song
'n kenwysie gebore uit
All Day Long
Soos agtergrond musiek
in die hysbak of Mall
'n spreekkamer of restaurant
'n Sing-a-long-song

Want my hart bly Brand

Hy is my Greatest Hits
My all time favourites
die Original Score

My Lied
My Lewe
My Gunsteling Song




Sondag 27 Oktober 2013

Trots

trots is my stoeltjie
en ego sy pote
van hierbo af
lyk jy klein
en Ek
'n biejtie groter

maar trots is skerp
en ego lendelam
as Ek wankelrig
afklim
kaalvoet
langs jou staan
kan ek in jou oe kyk
en sien hoe mooi
jy eintlik lyk

Saterdag 10 Augustus 2013

‘n Glimlag soos Min

Die sonlig glinster goud in elke druppel water wat stadig van Lynette se hand afgly. Met die sonnetjie wat haar warm bak, hou sy hulle fyn dop. Elkeen vorm sy eie rimpeling op die water in die rivier. Wat ‘n pragtige dag vir ‘n piekniek! Sy lig haar kop op van haar arm, wat slap en ontspanne oor die rand van die roeibootjie hang. Aan die oorkant op die wal sien sy die res van haar groot familie saam kuier. Op die oog af lyk dit na die perfekte prentjie…. Skielik gil een van die klein kindertjies en hardloop in ’n kringetjie al om die groot mense. Ja-nee, as ‘n mens so op n afstand na hulle kyk, sou jy hulle in ‘n advertensie  kon gebruik! Maar sy weet dat dit baie ver van die waarheid af is

Vir die een of ander rede word sy al vir jare as die familie-vertroueling gesien. Griewe, verskonings, frustrasies  en bekommernisse word alewig in haar skoot gestort. Asof sý nooit ‘n versadigingspunt kan bereik nie. Sy moet dalk haar dienste begin adverteer, dink sy skalks.  “Lynette-se-Oor, die Herwin-drom: waar jy veilig van jou vullis ontslae kan raak, met die hoop dat dit nuttig aangewend sal word in die toekoms.” Sy glimlag. Seker maar omdat sy weier om by die gemors ingesleep te word en redelik neutraal bly, dat sy op goeie voet met die meeste lede van haar familie is. Hulle is maar ‘n vlambare groepie mense bymekaar…

Sy lê terug in die bootjie en maak haar oë toe terwyl die gesprekke aan die oorkant op die water weerklink. Sy dink aan al die onderlinge strominge van emosies en hoe elkeen maar swaar, aan sy of haar bagasie, dra. Dit is asof tyd en herinnering die wonde dieper sny as wat hulle aanvanklik was. Veral die wonde wat soos n bose kringloop herhaaldelik weer oopgemaak word. Soos erosie. Maar hoe keer ‘n mens dit? Daar is maar min mense, wat sy ken, wat dié kuns aangeleer het om die lewe nie toe te laat om hulle te verbitter nie. Vir die meeste mense gaan dit bloot oor oorlewing. Nadat ons deur die meul van die lewe is, leer jy strategieë, skaf vir jou wapens aan en bou hoë mure sodat jy, jou reeds geskende hart, kan beskerm. Dit bly ‘n masker-speletjie  en die prys vir die een wat die beste kan voorgee? Eensaamheid. ‘n Neutraliserende proses waarin jy later glad nie meer in voeling is met jou emosies nie. Alles net om te ‘cope’ met die emosionele bagasie wat jy opgaar in jou kas…

 Terwyl sy sit en dink aan elkeen op die oorkantse oewer se seerkry en geraamtes, vlieg ‘n skoenlapper onverwags tot op haar voorkop. Sy maak haar oë oop en sien hoe hy land op haar blomme-rok. Hy bly net mooi lank genoeg sit om te besef dat daar nie nektar of stuifmeel in dié blomme is nie. Sy glimlag half skeef. “Jy is ook geflous ou vlindertjie”, dink sy hardop. En dan, soos die vars briesie oor die rivier die skoenlapper wegwaai, waai tannie Netta se gesig voor haar in. Daar was tóg iemand, wat met ‘n glimlag oudgeword het, ten spyte van ‘n klomp terugslae.

Tannie Netta. Haar groot blou oë het altyd geglinster. Asof daar ‘n ekstra blink sterretjie in elkeen was. Wanneer sy lag het haar diep dimpels en rooi wange haar soos die sagte ryp perskes in die vrugte boord op die plaas laat lyk. Sy kon enige situasie ontlont met ‘n grappie en het ‘n bo-natuurlike sin vir humor en wysheid gehad. ‘n Mens waaruit die lewe gestraal het. Sy kry sommer hoendervleis as sy dink aan haar kinderdae op die plaas. Op die plaas kon hulle net kinders wees. Die dae was vol verrassings en nuwe ervaringe. Die vars lug en groot plaaswerf het almal sommer weer moed gegee vir die res van die jaar. Dit was ‘n oase waar hulle as gesin mekaar kon leer ken, buite die gejaagde lewe in die stad.

Dáárdie vakansie was egter 'n keer punt in haar lewe.…Sy onthou dit nog so goed. Sy was elf. Hulle het oudergewoonte by Oom Louis en Tannie Netta op die plaas gaan kuier en sorgeloos die rustige plaaslewe geniet.

Dit sou in ‘n oogwink verander. Sy ril as sy weer daaraan dink.

Dit was ‘n ekstra koue oggend toe een van die plaaswerkers uitasem en blink van die sweet en trane al stotterend by die kombuisdeur ingestorm het. Die wasem het opgeslaan van sy warm lyf. Met groot oë het hy vertel van die ongeluk. Dit was Oom Louis. Met rukke en stote het hy gestamel dat die trekker ‘n groot klip in die koringlandery getref en omgeslaan het. Sy hart was so stukkend soos die storie wat hulle in grepe aanmekaar moes las. Die skok en die koue van die middag het hom laat bewe soos ‘n riet terwyl hy elke nou en dan sy trane (en sy neus) met een veeg teen die rugkant van sy hand afgevee het. Hulle kon Oom Louis nie daar onder uit kry nie, dit was te laat. Tannie Netta moes kom en die buurplaas laat weet om te kom help.

Lynette kan onthou dat sy gesien het hoe die lewe letterlik uit haar liewe tannie se gesig verdwyn. Haar gelaat het van appelkoos na grafgrys verander en haar oë was vir die eerste keer dof met trane wat stadig opgewel -en oor haar wange begin rol het. Tyd het vir ‘n paar minute doodstil gaan staan.

Verder as daardie oomblikke onthou sy nie veel nie. Net hier en daar grepe van gebeure. Hulle vakansie is kortgeknip. Daar was ‘n warboel van mense wat kom help het, haar ouers wat probeer sin maak uit dit alles en moeilike vrae probeer beantwoord, terwyl hulle met hul eie seer gesukkel het. Haar ma het eers agtergebly om vir Tannie Netta te help. Haar pa is met die kinders huistoe en sou solank na die boedel en ander praktiese reëlings omsien.

Terug by die huis onthou sy wel dat sy telefoon oproepe tussen haar ma en pa probeer afluister het en alhoewel sy nie veel kon uitmaak van die gesprek nie, kon sy na die tyd aan haar pa se gesig sien dat dit nie goed gaan op die plaas nie.

Die kinders is nie na die begrafnis toe nie en haar ma het na ‘n paar weke huistoe gekom. Skool het weer begin en die lewe het aangegaan in die stad asof die wêreld nie eintlik notisie neem van geliefdes wat afsterf nie…

‘n Paar maande later, nadat die ergste stof gaan lê het, kondig haar pa een vrydagmiddag aan dat hulle hul tasse moet pak: “Ons gaan plaastoe!” het hy skyn-opgewonde gesê, maar almal kon die onsekerheid in sy stem hoor. Wat sou hulle daar aantref as hulle gaan? Sou tannie Netta nog Tannie Netta wees? Wat sou hulle maak met 'n Tannie Netta sonder haar sonskyn persoonlikheid? Watter leemte het Oom Louis op die plaas gelos? Alles vrae wat nie een van hulle durf vra het nie, maar tog duidelik in mekaar se oë kon lees.

Tasse is gepak en asems opgehou. Die 362km plaas toe, is in doodse stilte gery.

Dit was eers toe hulle deur die bekende laning Bloekombome ry en die stofpad ruik, dat die ou, vreugdevolle gevoel van die plaas vakansies oor hulle in die kar gespoel het. Goeie herinneringe wat, soos die lig deur die bome, in hulle gedagtes geflikker het. Aan die einde van die laning kon hulle die plaas opstal sien en oudergewoonte het tannie Netta op die stoeptrappies gestaan en wag.

Toe die kar uiteindelik tot stilstand kom en hulle uitklim om te groet, kon Lynette sommer dadelik sien dat dit die ‘ou’ tannie Netta is wat vriendelik en haastig by die trappies afloop. Haar hare was netjies versorg. Dieselfde blos van voorheen was weer op haar wange en dit was asof die glinstering in haar oë dieper weggesink het in die blou. Die lig daarin het amper vreemd van binne gekom.

Uit die hoek van haar oog kon sy die verligting (en verbasing) op haar ouers se gesigte sien, maar na die vorige vakansie en die somberheid in gesprekke oor die plaas was sy in haar kinderlikheid redelik skepties en verward oor die vrolikheid. Sy het nie die vrede vertrou nie en kon nie wag om vir tannie Netta te vra wat intussen gebeur het nie.

Met die eerste na-middag koffie in die sonkamer het sy nie op haar laat wag nie. So tussendeur die karringmelk beskuit happe het sy sommer reguit gevra of tannie Netta na Oom Louis verlang? Tannie Netta het sag geglimlag, maar Lynette het aanhou por en sommer aspris gevra: “Weet Tannie dat as iemand dood is, hulle nooit weer terugkom nie?” Tannie Netta het geknik. Dimpels diep weggesink langs haar glimlag. “is jy jammer hy is nie meer hier nie? Hoekom glimlag jy? Hoekom is jy nie hartseer nie?!...” het sy amper geskree. Uitasem en ‘n bietjie skaam vir haar uitbarsting het sy  vir ‘n antwoord gewag. Sy was nie jammer nie. Sy wou wéét.

Tannie Netta was nie vies nie. Dit was eintlik asof sy dié stroom vrae verwag het. Sy het vir Lynette op haar skoot getel en styf vasgedruk. So het hulle vir ‘n hele rukkie gesit, todat sy dit nie meer kon hou nie. Lynette het haarself bietjie losgewoel, omgedraai en stip in die tannie se oë gekyk. “ Hoekom lyk jy gelukkig?” het sy weer probeer.

Hierdie keer het Tannie Netta vir Lynette afgetel, haar aan die hand gevat en in die gang afgeloop. “Kom,” het sy gesê, “ek wil jou iets gaan wys.”

Haar ma en pa en die ander kinders, wat die hele petalje sit en dophou het, was stomgeslaan, maar stilweg het hulle met dieselfde vrae geworstel. Voorheen sou hulle dadelik vir Lynette aanspreek oor haar arrogansie, maar hulle het haar laat begaan. Hulle wou ook weet wat die vonkel terug gesit het in daardie blou oë.

In die hoofslaapkamer van die groot plaashuis was daar ‘n hele klomp halfgepakte kartondose. Op die spieëlkas het hopies fotos gelê en orals was herinneringe aan Oom Louis versprei. Tannie Netta het ‘n skoenboks onder die groot dubbelbed uitgetrek en dit na Lynette uitgehou. Sy het dadelik dié boks herken. Dit was haar sywurms wat sy die vorige vakansie saamgebring het. Sy het skoon van hulle vergeet! Sy het nader gestap en die boks by tannie Netta gevat. Versigtig het sy die deksel op ‘n skrefie oopgemaak en toe daar niks gebeur nie, die deksel heeltemal afgelig – nuuskierig om te sien wat daar binne aangaan. Piepklein swart spikkeltjies was in lang rye oor die hele boks versprei. ‘n Paar sy kokonne was nog in die hoeke vasgespin, maar van die wurms was daar niks meer te sien nie. Met die boks in haar hande het sy fronsend gewag vir ‘n verduideliking. Tannie Netta het op die bed gaan sit en begin vertel: “Dis alles Oom Louis se goed wat hier rondstaan my kind. Jou tannie Netta sal altyd vir hom lief wees. Jy weet, ons was 53 jaar getroud. Dis ouer as wat jou Mammie is. Wanneer ‘n mens so lank saam is word jy regtig deel van mekaar. Jy sal nog sien eendag” Sy het met haar hand beduie dat Lynette by haar moet kom sit. “Ons was geseënd met goeie jare saam, my Hartjie en al weet ‘n mens dat jy nie vir altyd vir mekaar gespaar kan bly nie is daar niks wat jou kan gereed maak vir daardie oomblik van afskeid nie.” vir ‘n oomblik het sy eers stilgebly. “Ek het nie geweet of ek ooit weer sal kan glimlag nie…” Lynette het haar tannie fyn dopgehou en toe die trane oor haar wange begin rol, kon sy nogsteeds nie met sekerheid sê dat die tannie hartseer lyk nie.

“Die dae sonder Oom Louis was swaar en ek was baie kwaad vir die Here dat Hy hom kom vat het. Ek het party dae sommer hardop geloop en praat en stry met Hom en gewens Hy kom haal my ook! Tot eendag…” Haar dimpels het weer diep in haar wange gesink . “Tot die dag wat ek besluit om die stoepkamer reg te pak en op dié boks onder die spaarkamer bed afgekom het. Ek het eers gedink dis van julle speelgoed of so iets, todat ek die gefladder binne-in gehoor het. Dit was omtrent ‘n gedoente toe ek die deksel aflig en daar ‘n hele spul sywurm motte by die boks uitvlieg!” Tannie Netta het sommer hardop vir haarself gelag. ‘n Glimlag het ook skalks om Lynette se mond kom sit. “Maar Lynettie, weet jy wat was die wonderlikste? Terwyl ek daar staan, met die boks in my hande, is dit asof ek die Here se stem duidelik kan hoor en ek besef dat dit tyd is om vir Oom Louis ook te laat gaan. Die Here het, op Sy manier , daardie dag vir my kom wys dat ons lewe saam hier op aarde, soos daardie goue sydraad was. Ek kan maar daaraan vashou. Dit was mooi jare saam, maar oom Louis het nou ophou spin. Sy sydraad was net mooi lank genoeg vir die mooi kokon wat hy hier agter gelaat het. Die kokon wat hom nou vir altyd sou laat vlieg! Ek het nog nooit voorheen so ‘n helder boodskap gehoor wat sommer daar en dan my ou hart gesond kom maak het nie! Ek het dadelik op oom Louis se gunsteling stoel in die sitkamer gaan sit en behoorlik gehuil vir al die mooi (en moeilike) jare wat ons saam kon deel. Na ‘n ruk het my trane darem opgedroog en dit was asof ek Vrede en rustigheid en ‘n Vreugde in my hart ontvang het, wat ek nie voorheen geken het nie. Oom Louis vlieg. Hy het vir Jesus geken. Ek kan hom nie meer vashou nie, maar ek kan nog my goue draad klaarspin tot die dag wat ek in my kokonnetjie moet gaan inkruip en my permanente vlerke kry, want ek ken Hom ook!” Tannie Netta het haar oog geheimsinnig geknip. Lynette het terug geglimlag - sy kon nie ‘n sweempie valsheid in haar tannie se stralende gesig bespeur nie en daardie glimlag was stralend tot die dag van haar dood.

                               ----------------------------------------------------------

Die wit skoenlapper kom maak weer speels ‘n draai en vlieg dan na die oorkantste wal waar Lynette se familie nogsteeds piekniek hou. Ons almal is gemaak om ‘n goue draad met ons lewens te spin, besef sy. Sy loer weer oor die rand van die roeibootjie en kyk na haarself in die water. Dan laat sak sy haar hand in die rivier en toe sy hom oplig, glinster ‘n druppel en val terug op die plek waar haar oë vroeër terug gekyk het. "Hy het vir Jesus geken. Ek ken Hom ook." eggo tannie Netta se woorde.

Sy skrik amper vir die gedagte aan ‘n glimlag soos haar tannie s’n, maar laat dit toe om ryp te word in haar wange. Soos ‘n soet perske wat die bitter laat wegsmelt en sag in die lyntjies om haar oë inkruip - om te bly.

Woensdag 24 Julie 2013

Pampierie en Trantralie

Tussen hier en daar en wie weet waar is die Jasbos. Die Jasbos is vol allerhande gediertes wat gelukkig saam woon en werk. Dit is ’n wonderlike bos met vreemde plante, groot riviere en die meeste blomme en vrugte wat jy nog ooit gesien het!

In die bos is daar ’n grot. Voor die grot lê ’n rots met ’n klein skeurtjie daarin – dit is die enigste manier om in die grot te kom. In die grot woon twee gediertes. Die een gedierte is ’n lang maer diertjie met sagte wit pels en ’n  skerp bekkie. Sy naam is Pampierie. Hy kan baie goed vlieg met sy dun vlerkies en ook die pragtigste liedjies sing. Saam met Pampierie bly Trantralie. Trantralie is weer ’n ronde gedierte met groot ronde oë en ‘n growwe pels. Hy kan sy kop en sy pote in sy lyfie intrek sodat dit amper lyk asof hy net ’n ronde balletjie is.

Elke dag vlieg Pampierie tot bo in die grot en dan deur die nou rotsskeur Jasbos toe. Daar sing hy die wonderlikste liedjies en pluk sappige bessies heel bo in die bome sodat hy en Trantralie daarvan kan eet. Dit is ’n belangrike werk.

Trantralie kan nie vlieg nie en daarom bly hy elke dag by die huis. Sy gunsteling tyd van die dag is wanneer die son deur die rotsskeur skyn en hy vir Pampierie hoog bo in die bome kan hoor sing. Dan maak hy sy lyfie bol en rol heen en weer oor die grotvloer todat hy pootuit op sy magie gaan lê en wag vir Pampierie om terug te kom.

Terwyl hy wag, wonder Trantralie baie keer hoekom hy so ’n ronde lyfie het. Hy het al probeer om deur die rotsskeur te klim, maar sy lyfie is net te rond! Hy sal darem ook graag wil sien hoe dit daar buite lyk. Dan oefen hy in die stilligheid om sy maag plat in te trek sodat hy ook eendag deur die rotsskeur kan klim en bessies kan gaan pluk. Maar maak nie saak hóé  hard Trantralie probeer nie, sy lyfie kan maar net nie platter nie. Dan gaan rol hy maar weer op die grotvloer en luister met toe oë na die wonderlike geluide van die Jasbos wat by die rotsskeur inwaai.

Toe die dae weer al warmer begin word, weet Trantralie dat Pampierie ekstra lank sal wegbly. Op so ’n dag besluit hy om te kyk of hy nie sy magie al plat genoeg kan intrek om deur die skeur te pas nie.

Dit is ’n baie lang klim tot bo in die grot en Trantralie is skoon uitasem toe hy uiteindelik by die skeur aankom. Eers steek hy net sy agterpoot deur. Toe sy voorpoot en toe hy sy ander agterpoot wil insit, sit hy … VAS! Benoud druk hy aan die kante van die skeur om sy pote uit te kry. Hy druk en trek en druk en trek en toe…PLOP!! skiet hy los en bons teen die ander kant van die grotmuur vas! Trantralie knyp sy oë styf toe en bons so hard dat hy wéér ‘n keer terug skiet! So bons-bons-bons hy tot heel onder in die grot. Gelukkig het jy ‘n dik growwe pels wat hom beskerm! Toe hy uiteindelik tot stilstand kom draai sy kop en hy voel effe snaaks.

Versigtig maak hy eers sy een oog –en toe sy ander oog oop. Alles om hom lyk ‘n bietjie vreemd! Hy was nog nooit in hierdie deel van die grot nie! Hy knip sy oë ‘n paar keer en dan sien hy ‘n dun ligstraaltjie wat op die vloer van die grot ‘n ronde kolletjie maak. Hy trek sy kop en sy pote in en rol al agter die ligstraaltjie aan.

Die lig raak al hoe helderder en tot sy groot verbasing rol hy tot by ‘n gaatjie in die rotswand waardeur die lig skyn. Die gaatjie is koeël rond! Perfek vir sy ronde lyfie! Hy steek eers sy agterpoot deur, toe sy voorpoot en toe sommer sy hele lyfie. Dit pas perfek! Opgewonde rol hy na buite en daar sien hy vir die heel eerste keer die pragtige Jasbos! Daar is plante van allerhande kleure en klein ogies wat vriendelik om elke bossie en blaartjie loer.

Êrens hoog bo-kant hom kan hy vir Pampierie hoor sing! Hy maak sy ogies toe om te luister en skrik nogals toe ‘n diep stem hier langs hom sê: “Hallo daar Trantralie! Ons het vir jou gewag!”

Trantralie probeer sien wie dit is wat nou met hom praat. Eers kyk hy langs hom dan agter hom en toe loer hy tussen sy bene deur…maar hy sien niemand nie.
“ Hier is ek. Hier bo,” sê die die stem weer. Trantralie kyk op. Langs hom staan ’n massiewe boom. Hy kyk stip daarna en dan sien hy dit…die boom het ’n glimlag...groot vriendelike oë en… die takke is sy arms! “Ek is Kasper, die oudste boom in die Jasbos.” “E..e.. hoe weet jy wat my naam is?” vra Trantralie baie braaf. Die ou boom glimlag en sê: “Almal in die Jasbos het ’n werkie om te doen. Ons almal is spesiaal en verskillend gemaak. Van die begin van tyd af is daar gediertes hier in die bos wat sorg dat almal gelukkig en tevrede kan saamleef. Die dag toe jy uitgebroei het, het daar ‘n klomp saadjies onder die grond gaan lê. Hulle lê en wag vir jou sodat hulle blomme, bome en selfs vrugte kan word!” Trantralie verstaan nie lekker nie. Kasper verduidelik verder: “Trantralie, ek weet jy hou daarvan om met jou lyfie in ‘n bolletjie rond te rol-” “ O ja!” val Trantralie hom in die rede. “ Dis die lekkerste ding op aarde!” “Nou ja,” verduidelik Kasper, “as jy oor die woud se vloer rol met jou growwe pels, tel jy stuifmeel op en versprei dit deur die Jasbos. Dan kan die plante daardie stuifmeel gebruik om nuwe saadjies te maak. Die saadjies wat onder die grond vir jou lê en wag, het ook nodig dat jy oor hulle rol. Met jou pels maak jy die grond bokant hulle los en kan die reën en sonlig by hulle uitkom. Hulle het dit nodig om te groei!”

Trantralie kan sy ore nie glo nie. Vir hóé lank het hy in die grot gewens hy kan soos Pampierie lyk! Hy het so baie keer probeer om sy lyfie plat te maak en hy wou so graag ook help om bessies bymekaar te maak!! Boon-op het Pampierie geraas as hy so rondrol en al die stof in die grot in die lug opskiet.

“Jy sien Trantralie, sonder jou is daar ’n klomp dinge in die Jasbos wat nie werk nie! Ek stel voor dat jy sommer dadelik met jou spesiale werk begin!”

Trantralie maak opgewonde sy lyfie bol en begin rol. Dit is die lekkerste holderste-bolderste- bollemakiesie-rol wat hy nog ooit gerol het! Hy sien nuwe plante, kleure, eienaardige diertjies en vlinders. Dis asof sy lyfie sommer self die rondrol pad ken! Hy rol hiernatoe en daarnatoe en al die rondte todat hy weer teen Kasper se stam te lande kom.

Trantralie lag uit sy ronde magie uit. Hy weet sommer, daardie gaatjie in die grot, was net vir hom bedoel. Hy sal nou elke dag vir Pampierie in die Jasbos kan gaan luister. Hy sal kan help om bessies bymekaar te maak en hy het ook nou ‘n belangrike werk. Hy kan nie wag om dit vir sy maat te vertel nie. En dit is presies wat hy daardie middag, toe Pampierie by die rotsskeur invlieg, doen! Pampierie is so bly, dat hy sommer ‘n spesiale liedjie vir Trantralie sing, tot vroeg die volgende oggend.

Dit is die mooiste lente wat die Jasbos in ‘n lang tyd gesien het. Al die gediertes is verstom oor  die nuwe kleure en blomme en later, toe die somer kom, smul hulle aan die lekkerste nuwe vrugte. Alles te danke aan Trantralie wat ondek het wat sy werkie is en hoe spesiaal hy gemaak is.


Van daardie dag af woon almal gelukkig en tevrede in die Jasbos. Tussen hier en daar en wie weet waar!