Maandag 20 Junie 2011

Oorgawe

Toe ek finaal stukkend val
en as mooi versierde blompot
uitgestal
in 'n duisend stukke lê

Het U met 'n sagte hand
'n skerf kom vat
en met sy snykant
(stukkend, gebreek)
iets nuuts kom kerf
en my laat weet

dat die vorm van my hart
blootgelê met die slag
al meer soos ekke lyk

U het die skerpste kant gebruik
en sonder meer
MY laat ontluik

Sondag 19 Junie 2011

Loslappie of Laslappie

Wat is die goue draad wat ons almal aan mekaar bind?

 Wat is dit wat maak dat ons 'n gemene deler het? Is dit die stoffasie waarvan ons gemaak is? Of dalk omdat ons fyn besnaard is? Dalk juis omdat ons almal vol draadwerk is..? Ons kom dalk nie almal uit dieselfde fabriek nie, maar ons is sorgvuldig aanmekaar geweef. Nog lank voordat ons self kon besef wie of wat ons is.

Psalm 139: ( Message)

 13-16 Oh yes, you shaped me first inside, then out; 
      you formed me in my mother's womb. 
   I thank you, High God—you're breathtaking! 
      Body and soul, I am marvelously made! 
      I worship in adoration—what a creation! 
   You know me inside and out, 
      you know every bone in my body; 
   You know exactly how I was made, bit by bit, 
      how I was sculpted from nothing into something. 
   Like an open book, you watched me grow from conception to birth; 
      all the stages of my life were spread out before you, 
   The days of my life all prepared 
      before I'd even lived one day.


Ons is pragtige stukke lap aanmekaar geweef deur die Kunstenaar wat elke draadjie sorgvuldig uitgekies het.

 Maar dit stop nie daar nie. Baie keer is ons los-lappies wat eerder LASlappies moet wees.

Ons is gemaak om langs mekaar, aan mekaar gebind te wees - juis sodat ons 'n groter doel kan dien. Alleen bedek ons maar 'n klein oppervlakte, maar saam kan ons 'n reuse area bedek en warmte gee waar dit nodig is.

Ons moet hande vat. En nie noodwendig met die laslappies wat soos jy lyk nie. Dalk juis met 'n lappie wat 'n kontrasterende tekstuur of patroon het, sodat julle altwee tot julle reg kan kom...

Mag die liefde van die Here ons aanmekaar bind met 'n onbreekbare band sodat ons 'n Genade Kombers vir mense in die koue kan wees en terselfdertyd iets vir mekaar kan beteken!