Dinsdag 27 Maart 2012

My Pa

Wat beteken dit om God se kind te wees?

Sy kind. 'n Afstammeling van die Almagtige...'n erfgenaam...'n kindjie...sjô....

In my oë is dit iemand wat totaal en al afhanklik is van iemand anders vir hul versorging, net soos 'n aardse kind, maar in God se wêreld werk dit anders om. Hoe meer 'volwasse' jy raak, hoe meer afhanklik raak jy van sy Leiding. Jy weet jy kan niks sonder Hom doen nie, en jy wil ook nie. Jy weet wat die gevolge daarvan is om jou eie kop te volg - jy moes dit al in die verlede dra en jy het al Sy ongelooflike Vrede ervaar wanneer jy net bloot gehoorsaam was. Maak nie saak hoe absurd dit vir jou in daardie oomblik geklink het nie. Soos 'n goeie pappa wil Hy jou hand vat en jou oor die besige straat lei. Jy weet dit nou. Al kan jy nie die motors sien aankom nie, kan jy Hom blindelings vertrou met elke tree. Wanneer om te stap en wanneer om te stop. Wanneer jy losruk en self wil oorstap - dis wanneer jy nie die bus sien aankom nie...

Kind wees is ook vir my sinoniem met verwondering. Om opgewonde te wees oor elke nuwe ervaring en dit ten volle te beleef en te ontdek. Soos om die eerste keer jou tone in koue seewater te steek of selfs net agter te kom dat daar wel iets soos swaartekrag is. Jou eerste sjokolade of dalk jou eerste stukkie suurlemoen. Vreemd maar ongelooflik en fassinerend. Dinge wat jou met verwondering vul... en saam met Hom is daar elke dag iets nuuts om te ontdek. Ek staan altyd verstom oor die nuwe maniere wat Hy kies om met my en ander mense om my te praat. So uniek aan ons elkeen en baie min op 'n 'tradisionele' manier. Anders as wat ek gedink het, is Hy nie altyd in die preek nie, maar baie keer in 'n liedjie of 'n skildery, die sonsopkoms of iemand wat uitbundig gelukkig is. In vriendskap en veral in kinders.Tot in my asemhaling. Hoe kan ons in elk geval die Heerser van die Heelal net op een plek gaan soek as Hy Alomteenwoordig is? Hoe kan ons Hom ooit beperk en in 'n blik druk? Net soos kinders elke dag iets anders ondek, wil Hy homself elke dag anders/nuut aan ons openbaar.

Om God se Kind te wees impliseer ook dat  daar iemand is wat jou beter ken as enige iemand anders.  Miskien voel jy dat jou aardse ouers jou nooit regtig verstaan of geken het nie, maar God ken jou al van voor jou geboorte af. Hy weet wat jou sterk en swakpunte is. Hy het self dié kombinasie noukeurig uitgekies, sodat jy, deur wie jy is, vir die res van die wêreld 'n baie unieke stukkie van Sy hart kan wys. Net soos ons karakter eienskappe of kenmerke van onsself in ons kinders kan raaksien, wil God Homself deur ons kom wys. Jou eiesoortige tentoonstelling daarvan is dalk al waarop iemand anders gewag het om te besef hoe lief hulle hemelse Vader hulle het, en dat Hy hulle ook wil gebruik. Dat hulle êrens hoort.

Dit bring my by die volgende deel van Kindwees. Ons het 'n Huis waar die deure altyd wyd oopstaan en Hy met oop arms vir ons wag. Ons mag maar by Hom gaan rus. Hy wil ons - meer as enige iets anders - vashou, sodat ons met ons kop op sy bors, sy hartklop kan hoor. Geborge, tuis en veilig. Binne-in Hom weggesteek.

Dis waarom Hy ons Sy kinders gemaak het. Om ons te oorrompel met Sy liefde. Bo ons begrip en verstand. Beter as dit wat ons ooit kan bid of dink.Oorvloedige versorging wat verder gaan as net dit wat ons nodig het, maar by dit wat ons hartsbegeerte is, wil uitkom. Hy wil daardie goed in jou lewe aanspreek wat diep in jou hart gebêre is. Hy het dit immers daar geplaas met 'n rede - sodat jy die vreugde kan ervaar wanneer dit realiseer! Ouers gaan soek na die perfekte Kersfeespersent om die glimlag op hul kinders se gesiggies te geniet en hoeveel te meer wil ons Hemelse Pa nie daardie vreugde sien nie!  Gee dit vir Hom. Wat dit ook al is.  Hy werk dalk nog 'n rukkie aan jou karakter sodat jy dit wat Hy vir jou wil gee ten volle kan geniet wanneer jy dit ontvang, maar vertrou Hom daarvoor. Hy wil jou oë sien glinster en jou beker laat oorloop!

Hy is ons Perfekte Hemelse Pappa. Sonder baggage en sy eie seerkry en foute. Volmaakte liefde - spesiaal vir jou. Sy Kind.

♪ My Pa is die Koning van die heelal jy weet
En kom wat wil ek sal dit nooit vergeet
Die winde kan waai en die berge kan val
Hy't gesê Hy voorsien en Hy sal!
Ek's die Koning se kind, ja dit maak my 'n prins
My lewe is Christus, selfs die dood is 'n wins
Vir niks is ek bang nie, dit sê ek jou nou
My Pa is die Koning onthou ♪


Maandag 26 Maart 2012

Solar

( 'n vriendin se storie...)


Ek hardloop altyd verder weg
my voetstappe eggo die ritme
die ritme
op die pad
my hart
klop my ore toe

Ek wil nie omkyk
of omdraai nie
want agter my
lê die growwe pad
deurgetrap
ek wil wegkom
wegloop
weg

Die horison wink ver vir my
ek wil dààr kom
arriveer
my skaduwee inhaal
wat voor my uitstrek
ek wil die donker
kleiner trek

en dan kom iemand langs my
staan
geen haas
geen weg
net omgedraai

in stilte kyk sy nà die Son
en haar skaduwee

agter
haar

Maandag 12 Maart 2012

een van Drie

groot oopvlerk skoenlapper is jy
wat sag oor my bors
jou reënboog vlerke sprei
partykeer warm
partykeer koud
partykeer 'n kool vuur wat brand

die tintelende ritsel
maak my ore oop
vir dit wat ek moet hoor
en bevestig in my hart
dat ek die regte rigting loop

die sagte wind
van jou gewapper
vang my soms onkant
as my vel koud en warm begin rimpel

jy is Sy teenwoordigheid
Sy stem
geluidloos
in my hartsblom
oopgemaak vir bestuiwing
vrugte dra
saad te skiet
en later
die oes te haal

Vrydag 09 Maart 2012

Plooibaar

my glimlag kraak nie meer
my strak gesig
stywe mondhoeke sou bars
oë wou ontvlug
my hart wat standbeeldagtig
sinies kyk
hoe kamma vreugde lyk

ek hoor die helder geluid
en skrik partykeer selfs
is dit ek wat so
uitbundig klink?

die eggo val vreemd
en ongewoon vars
op my ore
verstom luister ek
na my keel
waaruit die klanke glip

my mond gee deesdae maklik mee
plooibaar
hoef ek haar nie meer te dwing
om saam te speel
want voor ek weet
(of kan keer)
lag ek weer

my kaartgesig is afgeskraap
my hand lê oop
om deur te lees
en as my trane
Verspot Vinnig Vloei
van blyskap
(of wat ook al)
rus ek in die wete
dat hulle in Goeie Hande val

my glimlag kraak nie meer



Isaiah 51:11
... everlasting joy shall be upon their heads. They shall obtain joy and gladness, and sorrow and sighing shall flee away...

Isaiah 60:5
Then you shall see and be radiant, and your heart shall thrill and tremble with joy[at the glorious deliverance] and be enlarged;...

John 15:11
I have told you these things, that My joy and delight may be in you, and that your joy and gladness may be of full measure and complete and overflowing...

Hebrews 1:9
... Therefore God, [even] Your God (Godhead), has anointed You with the oil of exultant joy and gladness above and beyond Your companions....

Nehemiah 8:10
This day is holy to God. Don't feel bad. The joy of God is your strength!"