Maandag 07 September 2020

Hoe Rooier, hoe mooier....

 Net gister kuier ek by ‘n vriendin met ‘n mat kwessie. 

Haar kleur is blou. Soos haar oë en 80% van die somer rokke waarin ek haar al gesien het. En sy lyk pragtig daarin. Die probleem is nou net – die mat is rooi. Tussen haar mooi Delft-laslappie teëls en die blouerige kombuiskaste, wil dit net nie so lekker vloei saam met die res nie. En matkwessies (soos enige ander dekor kwessie) inspireer my. Ek dink dadelik aan die blougroen Saphire mat wat ek nou al vir maande beny op Hertex se House website. Die “Nostalgia” reeks…so reg in my sentimentele, romantiese kraal. Ek het al planne beraam, denkbeeldige goed verkoop en al my verjaarsdag, Kersfees en herdenkings- versoeke saamgegooi om die mat van my (onlangse) drome te bekom. 

So, met my deeglike navorsing en versugtinge van die laaste paar maande, vertel ek gretig van die mooi matte op die internet en ek sien sommer die blouerige een met die laslappie ontwerp in my vriendin se oopplan-sitkamer gestalte kry en en alles aan mekaar kom bind. 
Ek vertel ook presies hoe mooi die mat van my drome is en wat ek bereid is om op die oomblik op die spel te plaas daarvoor, toe ek skielik my eie rooi-mat storie onthou. Ek sak my kop (spreekwoordelik) in skaamte, terwyl ek verder babbel  en in my hart gee ek al my begeertes oor…maar laat ek verduidelik: 

‘n Hele paar jaar gelede was ons huis die toonbeeld van die rustic-afri-franserige- look. Neutraal, 'n bietjie romanties en verfynd. Voorspelbaar. Glad nie ons nie. Die probleem was opgesluit in die "neutraal". Ek het die dekor  opgekikker met ‘n spatsel duck-egg blou – ‘n veilige opsie, maar vir my spicy man was nog ‘n skakeuring van “vaal” net een te veel. 

In dieselfde tyd begin die kleur rooi toe tydig en ontydig opduik in my lewe.  Wanneer ek ‘n present kry, is dit rooi. ‘n Rooi bloes met goue vere op van my skoonsus, ‘n rooi bedlampie en fotoraam van my vriendin op my verjaarsdag. ‘n Rooi voorskoot en bypassende vatlappies van my huishulp af. ‘n Vriendin daag by my op met ‘n wit fotoraam en ‘n bloedrooi hartjie binne in. Sy verduidelik dat sy bloot ervaar het dat sy vir my ‘n groot rooi hart moes gee en dit is nou die naaste wat sy daaraan kan kom, jammer daaroor - maar sy vertrou ek sal verstaan?  Die matkwessie-vriendin voel weer geinspireerd deur ‘n droomstorie wat ek gedeel het en sy teken ‘n portret: Ek vlieg deur die lug met die mooiste rokkie aan en dit het natuurlik rooi hartjjies al om die soom en op die rante van die canvas.  My liefste man gee vir my ‘n rooi Nespresso Koffie masjien en die laaste strooi is die rooi ketel vir ons gasstoof, wat ons by my ouers kry vir ons huweliks-herdenking. 

Rooi klokkies begin oral in my gedagtes lui en my ore tuit vir ‘n verskuilde boodskap. Rooi  was nog nooit my kleur nie. 

In die rooi seisoen van my lewe, met die krapperigheid oor ons neutrale dekor tema, besluit ek en my man dit is tyd om ‘n kopskuif te maak. Ons persoonlikhede is nie net duck-egg-neutraal nie. Nee. Ons kort warmte en kleur. Hy voel duidelik onderverteenwoordig tussen al die blougroen en skakeurings van aards. Sy voorstel? “ Wat van ‘n bietjie rooi?” Natuurlik. 

In ‘n gesprek met my life-coach (wat my op daardie stadium help krap in my kop waar ek nie self kan bykom nie), duik rooi weer op. Ek lag sommer hardop – my huiswerk? Om rooi ten volle te ondersoek. Wat beteken dit vir my? Hoe voel ek oor rooi? Hoekom vermy ek dit? Dit word ‘n ontdekkingsreis en konfrontasie met myself wat uiteindelik tot die slotsom lei dat niks my van Sy Liefde kan skei nie…

Maar waar pas die rooi mat in, vra jy?

Sien, elke middag wanneer ek op (of af) ry in Dorpstraat, ry ek verby ‘n antieke winkeltjie wat interessante meubels op hulle stoep verkoop. Ons het die kinders se baba bedjie byvoorbeeld, jare gelede, daar gekoop. Ek het ook al ‘n hele paar keer ander  goed begeer wat op die sypaadjie loer, maar weens die gebrek aan parkering en die feit dat ek gewoonlik haastig oppad is na die volgende ding, maak dit dat ek net stop as dit regtig na besigheid lyk. So, my kop draai outomaties in die ringting van die winkeltjie (uit gewoonte en nuuskierigheid) toe ek eendag die nuwe Matplek langs die winkel opmerk. ‘n Reuse groot mat is oop gegooi voor die ingang. Bloedrooi met die helderste kleure wat ek nog in ‘n mat gesien het. Daar is bottergeel, skelpienk, grasgroen en blou patrone. Stilletjies in my hart dink ek dat dit nou eintlik die perfekte vertrekpunt sou wees om ons nuwe, kleurvolle dekor-reis te begin. Daar is baie rooi in die mat, maar daar is genoeg ander kleure vir my om mee te speel. 

Vir weke ry ek verby die winkel en die mat. Ek groet beleefd die helder kleure en ry verby. Dit moet ‘n PLAAS se prys kos. Ek gaan defnitief nie stop nie. 

So is ons een Sondag oggend oppad na my skoonmense toe, toe ons verby die matwinkel ry en lees:

 “FINAL CLEARANCE AUCTION TODAY FROM 12PM. EVERYONE WELCOME” 

My hart sak in my skoene. Ek sal my mat nou defnitief finaal moet groet. ‘n Plaas se geld het ons nie. Sonder om te dink vertel ek vir Manlief van die helder rooi mat en hoe dit nou eintlik perfek sou werk om ons sitkamer aan die gang te sit met ‘n nuwe kleurskema en dat ek nog nooit soveel helder kleure bymekaar gesien het op een mat nie, maar dat dit onmoontlik groot en duur moet wees.  
Tot my verbasing antwoord hy met ‘n entoesiastiese: “Moet ons ‘n kans vat?” Ek is uit die veld geslaan. Ons is al klaar amper laat vir die Vadersdag ete by Skoonmense, hoe op aarde gaan ons dit nou regkry? Maar Manlief bel ‘n vriend se studente-kind en vra waar hy is. “Nee Oom net om die draai van Dorpstraat – hoe kan ek help?” Toeval? Manlief verduidelik dat ons ons oog op ‘n mat het. Die veiling gaan oor ‘n paar minute begin. Sien hy kans om namens ons te bie? Nie hoër as hierdie bedrag nie… Studentekind stem in en ons ry weg. Ek is nie eens bekommerd nie. Die bedrag en die groot mat gaan nie strook nie. Ek maak vrede. Ten minste het ons probeer. 

Vadersdagete is in volle swang en omdat ons niks verder hoor nie, neem ons aan dat die bie-ery nie suksesvol was nie. Ons is net reg vir die poeding toe Manlief se foon lui: “ Oom, dit is die groot helderrooi mat wat julle wou gehad het, né?” Manlief sê ja. Ek luister by sy oor. “Oom ek het hom vir julle gekry, maar die mense wat saam gebie het, is bietjie ongelukkig. Hulle wil oorbie. Niemand het raakgesien dat dit DIE mat was waarop ons bie nie. Hulle dog dit is ‘n ander, kleiner een. Mense bied nou dubbel die bedrag aan vir die mat, maar die winkel het mos klaar die bod toegestaan? Ek dink Oom moet gou deurkom.” My wind is uit. Ek is stom verbaas. Hoe is dit moontlik? Die 3m x 4m reuse mat is verkoop teen die prys wat ons gemaak het! Manlief gryp dadelik sy sleutels en ry deur. Ek dink hy kan dit self nie glo nie. Ons het wraggies die mat gekry!

Na ‘n lang wag vir (enige) tyding, bel Manlief. Hy hét die mat. Almal in die winkel het hom geluk gewens met die winskopie van die eeu en die eienaar het hom (bietjie onwillig) toegelaat om dadelik te betaal en die mat in te laai. Hy kom gou deur om ons op te laai. 

By skoonmense aangekom is almal nuuskierig oor die mat. (Ek het natuurlik in die tydjie wat Manlief weg was, die prentjie vir die familie ingekleur.)  Ons gooi die mat oop op die grasperk voor die voordeur. Dit lê die hele voortuin toe.  Ek lag vir my ongeloof en hoe fyn my Hemelse Vader geluister het na ‘n klein fluistering van my hart. Ek het nie eens gedink Hy hoor nie. Dit het net te onmoontlik gelyk. En hier lê die mat nou voor my. Helderste kleure waaraan jy kan dink wat vrolik teruggroet in die wintersonnetjie. ‘n "Kick-start" vir ‘n nuwe dekor avontuur in ons huis. ‘n Verteenwoordiging van ons almal se uiteenlopende persoonlikhede, saamgeweef in ‘n harmonie van kleure en patrone…

Nou,  jare na die rooi mat insident, dink ek weer aan die blougroen Nostalgia-Saphire-Hertex-mat en gister se gesprek. Dié mat voel  nou vir my effens flouerig. Ek wil net die mat hê, as dit weer van Hom af kom. Hoe kan ek nou wil uitmis op so ‘n avontuur? En dinge op die spel plaas vir iets wat bloot net vir my mooi is? Nee wat internet mat – ek sal geduldig wag vir my Tapyt en al die ander versugtinge van my hart.

Hy is ‘n Goeie Vader.

Hy weet wat ons nodig het EN wanneer. Soek ons eers na Hom en Sy Geregtigheid, word hierdie  dinge sommer so bygevoeg. Hy kom en bind ons gesin opnuut en kleurvol aanmekaar, wat krapperig was in neutraal. Dit klink meer soos Sy Koninkryk. 

Ek vertrou op Hom, want selfs mat-avonture is in Sy repertoire. En regtig, niks kan ons van Sy liefde skei nie!