Dinsdag 16 September 2014

Hibiscus (Roos van Sharon)

oorgegee val ek terug
in kroonblare
se sag

uit my stulp die vrugbeginsel
wat okergeel na hoogtes mik
Hemelwaarts gerig

uit die dieptes van die holte
kan nuwe lewe stip

Ek is ryp en verborge
in die Tuin van die Lewe

mag my geur versprei
mag U my altyd lei
en in die blomme-prag
wat U is
my laat rus

Dou

Nuwe lewe tussen groen gras
alles skoongewas
na die reen en wind en weer
blink die druppels
roerloos stil
wieg
en val versadig neer
diamante blink
 oor die halmpies gestrooi
elkeen met 'n reenboog
wat knipoog
in blou of geel en rooi
'n glinster paradys
in my grasperk
oopgesluit

Appelboord

By die afgrond
moes ek spring
dit, weet ek nou,
was vir my wins
want onder
was U daar gewees
op die groen gras
 speels
 my vasgehou
en koesterend laat voel
hoe sterk U liefde
my omvou

U was daar
 toe ek moes spring
onder die appelboom
het ons gesit
U't my stywer vasgehou
en al wat ek onthou
was sagte lippe op my kop
"Jy is Myne, my Pop"

"Helder Stemme", het U
in my oor gefluister
en ek het geweet
dat ek
van nou af
fyn sal luister

U liefde vir my
is sterker as die dood
dit weet ek nou
ek kon dit voel,
daar in die
Appelboord

Donderdag 04 September 2014

Flolinde die Vrolike Skoenlapper


Flolinde die vriendelike skoenlapper woon in die Fielasbos. Sy het sysagte rëenboogvlerkies en is mal daaroor om deur die digte bos te vlieg en na al die wonderlike plante te kyk. Op ‘n sonnige dag is Flolinde besig om te droom oor bont bloeisels en die sagte somerwind toe sy skielik KAPLAKS in ‘n groot rots vas vlieg! Haar mamma sou nou sê Flolinde se kop is in die wolke, maar vir haar voel dit of hy hier onder haar pienk blommekroontjie sit. Sy verstaan nie hoe hy in die wolke kan wees en op haar lyfie nie!
Sy wonder nog so oor die wolke en haar kop toe die rots waarin sy vasgevlieg het, begin bibber. “Wie kielie hierdie Bielie?” vra ‘n diep stem. Flolinde skud haar koppie en kyk op. Die rots is toe nie ‘n rots nie, maar ‘n Momtjorra! Hulle is reuse gediertes wat stadig deur die Fielasbos loop. So stadig, dat min mense hulle raaksien. Flolinde sien dat die Momtjorra vir haar wag om te antwoord. Sy vlieg ‘n entjie weg en kyk in sy een groot oog.
 “Ek is Flolinde die Vrolike Skoenlapper, en jy…” sy wag ‘n bietjie. Die Momtjorra het geel en pers kolle oor sy hele lyf! Dit beteken dat hy hartseer is! “En jy is hartseer?” vra sy nou. Die Momtjorra laat sak sy kop baie stadig asof hy wil “ja”  sê.
Flolinde wil nog troos toe daar ‘n ‘n Takbaard agter die Momtjorra uitspring. Takbaarde is lelike vaal gediertes wat krakerig deur die bos klouter. Hy skree: “Momtjorra is vol kolle! Momtjorra is vol kolle!”
Flolinde is sommer dadelik vies. Weet die Takbaard dan nie dat dit beteken dat hy hartseer is nie? Sy vlieg tot bo by die Momtjorra se oor en fluister hard genoeg sodat hy kan hoor: “ Ou Takbaard is net jaloers. Hy is vaal en bruin en kan nie sulke mooi pers en geel kolle soos jy kry nie. Al beteken dit jy is harsteer. Moet jou nie aan hom steur nie. Ek sal vir hom ‘n les leer.”
 Die Momtjorra kyk verbaas hoe Flolinde hoog in die lug opvlieg en haar vlerkies wild begin skud. Fyn goue lag-vlokkies val van haar vlerkies af en land binne- in die Takbaard se bek wat nog heeltyd besig is om te koggel. En daar begin hy skater van die lag!  Nie ‘n lelike lag soos dié wat Takbaarde gewoonlik het nie – ‘n vrolike lag wat uit sy takkerige maag kom.  Hy lag so lekker dat hy skoon vergeet van die kolle en vrolik begin aanstap deur die bos.
 Die Momtjorra kyk na sy lyf. Sy kolle is besig om ligter te raak. Die lag-vlokkies sit aan sy growwe lyf vas, maar die groot traan wat aan sy een oog hang, wil nie weggaan nie. Flolinde vlieg af tot by sy oog en met haar vrolike stem vra sy: “Momtjorra, waarom is jy dan so hartseer?”  Baie stadig, soos net Momtjorras kan praat,  antwoord hy:”Ag ekke wil so graag ‘n mooi blom pluk vir my huis, maar my pote is groot en lomp. As ek afbuk om een te pluk maak ek my hand te groot oop. Dan trek ek sommer ‘n hele boom uit! Ek kan nie aan die Fielasbos se lekker blomme ruik nie. Hulle is te fyntjies vir my. Ek maak hulle stukkend”

Die groot traan wil net op Flolinde se vlerkies val toe sy skielik ‘n blink plan kry! Die sagte somerwind!  “Momtjorra, ek ken ‘n plek in die Fielasbos waar reuse blomme groei! Ons skoenlappers gaan haal nektar daar as die somerwind waai! Dis net om die draai!” Die Momtjorra glimlag stadig.Sy kolle is weg! En stadig. Baie stadig stap hy agter Flolinde aan. So stadig dat min mense hom raaksien, maar net betyds vir die somerwind en pratige blomme vir sy huis!