Sondag 27 Oktober 2013

Trots

trots is my stoeltjie
en ego sy pote
van hierbo af
lyk jy klein
en Ek
'n biejtie groter

maar trots is skerp
en ego lendelam
as Ek wankelrig
afklim
kaalvoet
langs jou staan
kan ek in jou oe kyk
en sien hoe mooi
jy eintlik lyk

Saterdag 10 Augustus 2013

‘n Glimlag soos Min

Die sonlig glinster goud in elke druppel water wat stadig van Lynette se hand afgly. Met die sonnetjie wat haar warm bak, hou sy hulle fyn dop. Elkeen vorm sy eie rimpeling op die water in die rivier. Wat ‘n pragtige dag vir ‘n piekniek! Sy lig haar kop op van haar arm, wat slap en ontspanne oor die rand van die roeibootjie hang. Aan die oorkant op die wal sien sy die res van haar groot familie saam kuier. Op die oog af lyk dit na die perfekte prentjie…. Skielik gil een van die klein kindertjies en hardloop in ’n kringetjie al om die groot mense. Ja-nee, as ‘n mens so op n afstand na hulle kyk, sou jy hulle in ‘n advertensie  kon gebruik! Maar sy weet dat dit baie ver van die waarheid af is

Vir die een of ander rede word sy al vir jare as die familie-vertroueling gesien. Griewe, verskonings, frustrasies  en bekommernisse word alewig in haar skoot gestort. Asof sý nooit ‘n versadigingspunt kan bereik nie. Sy moet dalk haar dienste begin adverteer, dink sy skalks.  “Lynette-se-Oor, die Herwin-drom: waar jy veilig van jou vullis ontslae kan raak, met die hoop dat dit nuttig aangewend sal word in die toekoms.” Sy glimlag. Seker maar omdat sy weier om by die gemors ingesleep te word en redelik neutraal bly, dat sy op goeie voet met die meeste lede van haar familie is. Hulle is maar ‘n vlambare groepie mense bymekaar…

Sy lê terug in die bootjie en maak haar oë toe terwyl die gesprekke aan die oorkant op die water weerklink. Sy dink aan al die onderlinge strominge van emosies en hoe elkeen maar swaar, aan sy of haar bagasie, dra. Dit is asof tyd en herinnering die wonde dieper sny as wat hulle aanvanklik was. Veral die wonde wat soos n bose kringloop herhaaldelik weer oopgemaak word. Soos erosie. Maar hoe keer ‘n mens dit? Daar is maar min mense, wat sy ken, wat dié kuns aangeleer het om die lewe nie toe te laat om hulle te verbitter nie. Vir die meeste mense gaan dit bloot oor oorlewing. Nadat ons deur die meul van die lewe is, leer jy strategieë, skaf vir jou wapens aan en bou hoë mure sodat jy, jou reeds geskende hart, kan beskerm. Dit bly ‘n masker-speletjie  en die prys vir die een wat die beste kan voorgee? Eensaamheid. ‘n Neutraliserende proses waarin jy later glad nie meer in voeling is met jou emosies nie. Alles net om te ‘cope’ met die emosionele bagasie wat jy opgaar in jou kas…

 Terwyl sy sit en dink aan elkeen op die oorkantse oewer se seerkry en geraamtes, vlieg ‘n skoenlapper onverwags tot op haar voorkop. Sy maak haar oë oop en sien hoe hy land op haar blomme-rok. Hy bly net mooi lank genoeg sit om te besef dat daar nie nektar of stuifmeel in dié blomme is nie. Sy glimlag half skeef. “Jy is ook geflous ou vlindertjie”, dink sy hardop. En dan, soos die vars briesie oor die rivier die skoenlapper wegwaai, waai tannie Netta se gesig voor haar in. Daar was tóg iemand, wat met ‘n glimlag oudgeword het, ten spyte van ‘n klomp terugslae.

Tannie Netta. Haar groot blou oë het altyd geglinster. Asof daar ‘n ekstra blink sterretjie in elkeen was. Wanneer sy lag het haar diep dimpels en rooi wange haar soos die sagte ryp perskes in die vrugte boord op die plaas laat lyk. Sy kon enige situasie ontlont met ‘n grappie en het ‘n bo-natuurlike sin vir humor en wysheid gehad. ‘n Mens waaruit die lewe gestraal het. Sy kry sommer hoendervleis as sy dink aan haar kinderdae op die plaas. Op die plaas kon hulle net kinders wees. Die dae was vol verrassings en nuwe ervaringe. Die vars lug en groot plaaswerf het almal sommer weer moed gegee vir die res van die jaar. Dit was ‘n oase waar hulle as gesin mekaar kon leer ken, buite die gejaagde lewe in die stad.

Dáárdie vakansie was egter 'n keer punt in haar lewe.…Sy onthou dit nog so goed. Sy was elf. Hulle het oudergewoonte by Oom Louis en Tannie Netta op die plaas gaan kuier en sorgeloos die rustige plaaslewe geniet.

Dit sou in ‘n oogwink verander. Sy ril as sy weer daaraan dink.

Dit was ‘n ekstra koue oggend toe een van die plaaswerkers uitasem en blink van die sweet en trane al stotterend by die kombuisdeur ingestorm het. Die wasem het opgeslaan van sy warm lyf. Met groot oë het hy vertel van die ongeluk. Dit was Oom Louis. Met rukke en stote het hy gestamel dat die trekker ‘n groot klip in die koringlandery getref en omgeslaan het. Sy hart was so stukkend soos die storie wat hulle in grepe aanmekaar moes las. Die skok en die koue van die middag het hom laat bewe soos ‘n riet terwyl hy elke nou en dan sy trane (en sy neus) met een veeg teen die rugkant van sy hand afgevee het. Hulle kon Oom Louis nie daar onder uit kry nie, dit was te laat. Tannie Netta moes kom en die buurplaas laat weet om te kom help.

Lynette kan onthou dat sy gesien het hoe die lewe letterlik uit haar liewe tannie se gesig verdwyn. Haar gelaat het van appelkoos na grafgrys verander en haar oë was vir die eerste keer dof met trane wat stadig opgewel -en oor haar wange begin rol het. Tyd het vir ‘n paar minute doodstil gaan staan.

Verder as daardie oomblikke onthou sy nie veel nie. Net hier en daar grepe van gebeure. Hulle vakansie is kortgeknip. Daar was ‘n warboel van mense wat kom help het, haar ouers wat probeer sin maak uit dit alles en moeilike vrae probeer beantwoord, terwyl hulle met hul eie seer gesukkel het. Haar ma het eers agtergebly om vir Tannie Netta te help. Haar pa is met die kinders huistoe en sou solank na die boedel en ander praktiese reëlings omsien.

Terug by die huis onthou sy wel dat sy telefoon oproepe tussen haar ma en pa probeer afluister het en alhoewel sy nie veel kon uitmaak van die gesprek nie, kon sy na die tyd aan haar pa se gesig sien dat dit nie goed gaan op die plaas nie.

Die kinders is nie na die begrafnis toe nie en haar ma het na ‘n paar weke huistoe gekom. Skool het weer begin en die lewe het aangegaan in die stad asof die wêreld nie eintlik notisie neem van geliefdes wat afsterf nie…

‘n Paar maande later, nadat die ergste stof gaan lê het, kondig haar pa een vrydagmiddag aan dat hulle hul tasse moet pak: “Ons gaan plaastoe!” het hy skyn-opgewonde gesê, maar almal kon die onsekerheid in sy stem hoor. Wat sou hulle daar aantref as hulle gaan? Sou tannie Netta nog Tannie Netta wees? Wat sou hulle maak met 'n Tannie Netta sonder haar sonskyn persoonlikheid? Watter leemte het Oom Louis op die plaas gelos? Alles vrae wat nie een van hulle durf vra het nie, maar tog duidelik in mekaar se oë kon lees.

Tasse is gepak en asems opgehou. Die 362km plaas toe, is in doodse stilte gery.

Dit was eers toe hulle deur die bekende laning Bloekombome ry en die stofpad ruik, dat die ou, vreugdevolle gevoel van die plaas vakansies oor hulle in die kar gespoel het. Goeie herinneringe wat, soos die lig deur die bome, in hulle gedagtes geflikker het. Aan die einde van die laning kon hulle die plaas opstal sien en oudergewoonte het tannie Netta op die stoeptrappies gestaan en wag.

Toe die kar uiteindelik tot stilstand kom en hulle uitklim om te groet, kon Lynette sommer dadelik sien dat dit die ‘ou’ tannie Netta is wat vriendelik en haastig by die trappies afloop. Haar hare was netjies versorg. Dieselfde blos van voorheen was weer op haar wange en dit was asof die glinstering in haar oë dieper weggesink het in die blou. Die lig daarin het amper vreemd van binne gekom.

Uit die hoek van haar oog kon sy die verligting (en verbasing) op haar ouers se gesigte sien, maar na die vorige vakansie en die somberheid in gesprekke oor die plaas was sy in haar kinderlikheid redelik skepties en verward oor die vrolikheid. Sy het nie die vrede vertrou nie en kon nie wag om vir tannie Netta te vra wat intussen gebeur het nie.

Met die eerste na-middag koffie in die sonkamer het sy nie op haar laat wag nie. So tussendeur die karringmelk beskuit happe het sy sommer reguit gevra of tannie Netta na Oom Louis verlang? Tannie Netta het sag geglimlag, maar Lynette het aanhou por en sommer aspris gevra: “Weet Tannie dat as iemand dood is, hulle nooit weer terugkom nie?” Tannie Netta het geknik. Dimpels diep weggesink langs haar glimlag. “is jy jammer hy is nie meer hier nie? Hoekom glimlag jy? Hoekom is jy nie hartseer nie?!...” het sy amper geskree. Uitasem en ‘n bietjie skaam vir haar uitbarsting het sy  vir ‘n antwoord gewag. Sy was nie jammer nie. Sy wou wéét.

Tannie Netta was nie vies nie. Dit was eintlik asof sy dié stroom vrae verwag het. Sy het vir Lynette op haar skoot getel en styf vasgedruk. So het hulle vir ‘n hele rukkie gesit, todat sy dit nie meer kon hou nie. Lynette het haarself bietjie losgewoel, omgedraai en stip in die tannie se oë gekyk. “ Hoekom lyk jy gelukkig?” het sy weer probeer.

Hierdie keer het Tannie Netta vir Lynette afgetel, haar aan die hand gevat en in die gang afgeloop. “Kom,” het sy gesê, “ek wil jou iets gaan wys.”

Haar ma en pa en die ander kinders, wat die hele petalje sit en dophou het, was stomgeslaan, maar stilweg het hulle met dieselfde vrae geworstel. Voorheen sou hulle dadelik vir Lynette aanspreek oor haar arrogansie, maar hulle het haar laat begaan. Hulle wou ook weet wat die vonkel terug gesit het in daardie blou oë.

In die hoofslaapkamer van die groot plaashuis was daar ‘n hele klomp halfgepakte kartondose. Op die spieëlkas het hopies fotos gelê en orals was herinneringe aan Oom Louis versprei. Tannie Netta het ‘n skoenboks onder die groot dubbelbed uitgetrek en dit na Lynette uitgehou. Sy het dadelik dié boks herken. Dit was haar sywurms wat sy die vorige vakansie saamgebring het. Sy het skoon van hulle vergeet! Sy het nader gestap en die boks by tannie Netta gevat. Versigtig het sy die deksel op ‘n skrefie oopgemaak en toe daar niks gebeur nie, die deksel heeltemal afgelig – nuuskierig om te sien wat daar binne aangaan. Piepklein swart spikkeltjies was in lang rye oor die hele boks versprei. ‘n Paar sy kokonne was nog in die hoeke vasgespin, maar van die wurms was daar niks meer te sien nie. Met die boks in haar hande het sy fronsend gewag vir ‘n verduideliking. Tannie Netta het op die bed gaan sit en begin vertel: “Dis alles Oom Louis se goed wat hier rondstaan my kind. Jou tannie Netta sal altyd vir hom lief wees. Jy weet, ons was 53 jaar getroud. Dis ouer as wat jou Mammie is. Wanneer ‘n mens so lank saam is word jy regtig deel van mekaar. Jy sal nog sien eendag” Sy het met haar hand beduie dat Lynette by haar moet kom sit. “Ons was geseënd met goeie jare saam, my Hartjie en al weet ‘n mens dat jy nie vir altyd vir mekaar gespaar kan bly nie is daar niks wat jou kan gereed maak vir daardie oomblik van afskeid nie.” vir ‘n oomblik het sy eers stilgebly. “Ek het nie geweet of ek ooit weer sal kan glimlag nie…” Lynette het haar tannie fyn dopgehou en toe die trane oor haar wange begin rol, kon sy nogsteeds nie met sekerheid sê dat die tannie hartseer lyk nie.

“Die dae sonder Oom Louis was swaar en ek was baie kwaad vir die Here dat Hy hom kom vat het. Ek het party dae sommer hardop geloop en praat en stry met Hom en gewens Hy kom haal my ook! Tot eendag…” Haar dimpels het weer diep in haar wange gesink . “Tot die dag wat ek besluit om die stoepkamer reg te pak en op dié boks onder die spaarkamer bed afgekom het. Ek het eers gedink dis van julle speelgoed of so iets, todat ek die gefladder binne-in gehoor het. Dit was omtrent ‘n gedoente toe ek die deksel aflig en daar ‘n hele spul sywurm motte by die boks uitvlieg!” Tannie Netta het sommer hardop vir haarself gelag. ‘n Glimlag het ook skalks om Lynette se mond kom sit. “Maar Lynettie, weet jy wat was die wonderlikste? Terwyl ek daar staan, met die boks in my hande, is dit asof ek die Here se stem duidelik kan hoor en ek besef dat dit tyd is om vir Oom Louis ook te laat gaan. Die Here het, op Sy manier , daardie dag vir my kom wys dat ons lewe saam hier op aarde, soos daardie goue sydraad was. Ek kan maar daaraan vashou. Dit was mooi jare saam, maar oom Louis het nou ophou spin. Sy sydraad was net mooi lank genoeg vir die mooi kokon wat hy hier agter gelaat het. Die kokon wat hom nou vir altyd sou laat vlieg! Ek het nog nooit voorheen so ‘n helder boodskap gehoor wat sommer daar en dan my ou hart gesond kom maak het nie! Ek het dadelik op oom Louis se gunsteling stoel in die sitkamer gaan sit en behoorlik gehuil vir al die mooi (en moeilike) jare wat ons saam kon deel. Na ‘n ruk het my trane darem opgedroog en dit was asof ek Vrede en rustigheid en ‘n Vreugde in my hart ontvang het, wat ek nie voorheen geken het nie. Oom Louis vlieg. Hy het vir Jesus geken. Ek kan hom nie meer vashou nie, maar ek kan nog my goue draad klaarspin tot die dag wat ek in my kokonnetjie moet gaan inkruip en my permanente vlerke kry, want ek ken Hom ook!” Tannie Netta het haar oog geheimsinnig geknip. Lynette het terug geglimlag - sy kon nie ‘n sweempie valsheid in haar tannie se stralende gesig bespeur nie en daardie glimlag was stralend tot die dag van haar dood.

                               ----------------------------------------------------------

Die wit skoenlapper kom maak weer speels ‘n draai en vlieg dan na die oorkantste wal waar Lynette se familie nogsteeds piekniek hou. Ons almal is gemaak om ‘n goue draad met ons lewens te spin, besef sy. Sy loer weer oor die rand van die roeibootjie en kyk na haarself in die water. Dan laat sak sy haar hand in die rivier en toe sy hom oplig, glinster ‘n druppel en val terug op die plek waar haar oë vroeër terug gekyk het. "Hy het vir Jesus geken. Ek ken Hom ook." eggo tannie Netta se woorde.

Sy skrik amper vir die gedagte aan ‘n glimlag soos haar tannie s’n, maar laat dit toe om ryp te word in haar wange. Soos ‘n soet perske wat die bitter laat wegsmelt en sag in die lyntjies om haar oë inkruip - om te bly.

Woensdag 24 Julie 2013

Pampierie en Trantralie

Tussen hier en daar en wie weet waar is die Jasbos. Die Jasbos is vol allerhande gediertes wat gelukkig saam woon en werk. Dit is ’n wonderlike bos met vreemde plante, groot riviere en die meeste blomme en vrugte wat jy nog ooit gesien het!

In die bos is daar ’n grot. Voor die grot lê ’n rots met ’n klein skeurtjie daarin – dit is die enigste manier om in die grot te kom. In die grot woon twee gediertes. Die een gedierte is ’n lang maer diertjie met sagte wit pels en ’n  skerp bekkie. Sy naam is Pampierie. Hy kan baie goed vlieg met sy dun vlerkies en ook die pragtigste liedjies sing. Saam met Pampierie bly Trantralie. Trantralie is weer ’n ronde gedierte met groot ronde oë en ‘n growwe pels. Hy kan sy kop en sy pote in sy lyfie intrek sodat dit amper lyk asof hy net ’n ronde balletjie is.

Elke dag vlieg Pampierie tot bo in die grot en dan deur die nou rotsskeur Jasbos toe. Daar sing hy die wonderlikste liedjies en pluk sappige bessies heel bo in die bome sodat hy en Trantralie daarvan kan eet. Dit is ’n belangrike werk.

Trantralie kan nie vlieg nie en daarom bly hy elke dag by die huis. Sy gunsteling tyd van die dag is wanneer die son deur die rotsskeur skyn en hy vir Pampierie hoog bo in die bome kan hoor sing. Dan maak hy sy lyfie bol en rol heen en weer oor die grotvloer todat hy pootuit op sy magie gaan lê en wag vir Pampierie om terug te kom.

Terwyl hy wag, wonder Trantralie baie keer hoekom hy so ’n ronde lyfie het. Hy het al probeer om deur die rotsskeur te klim, maar sy lyfie is net te rond! Hy sal darem ook graag wil sien hoe dit daar buite lyk. Dan oefen hy in die stilligheid om sy maag plat in te trek sodat hy ook eendag deur die rotsskeur kan klim en bessies kan gaan pluk. Maar maak nie saak hóé  hard Trantralie probeer nie, sy lyfie kan maar net nie platter nie. Dan gaan rol hy maar weer op die grotvloer en luister met toe oë na die wonderlike geluide van die Jasbos wat by die rotsskeur inwaai.

Toe die dae weer al warmer begin word, weet Trantralie dat Pampierie ekstra lank sal wegbly. Op so ’n dag besluit hy om te kyk of hy nie sy magie al plat genoeg kan intrek om deur die skeur te pas nie.

Dit is ’n baie lang klim tot bo in die grot en Trantralie is skoon uitasem toe hy uiteindelik by die skeur aankom. Eers steek hy net sy agterpoot deur. Toe sy voorpoot en toe hy sy ander agterpoot wil insit, sit hy … VAS! Benoud druk hy aan die kante van die skeur om sy pote uit te kry. Hy druk en trek en druk en trek en toe…PLOP!! skiet hy los en bons teen die ander kant van die grotmuur vas! Trantralie knyp sy oë styf toe en bons so hard dat hy wéér ‘n keer terug skiet! So bons-bons-bons hy tot heel onder in die grot. Gelukkig het jy ‘n dik growwe pels wat hom beskerm! Toe hy uiteindelik tot stilstand kom draai sy kop en hy voel effe snaaks.

Versigtig maak hy eers sy een oog –en toe sy ander oog oop. Alles om hom lyk ‘n bietjie vreemd! Hy was nog nooit in hierdie deel van die grot nie! Hy knip sy oë ‘n paar keer en dan sien hy ‘n dun ligstraaltjie wat op die vloer van die grot ‘n ronde kolletjie maak. Hy trek sy kop en sy pote in en rol al agter die ligstraaltjie aan.

Die lig raak al hoe helderder en tot sy groot verbasing rol hy tot by ‘n gaatjie in die rotswand waardeur die lig skyn. Die gaatjie is koeël rond! Perfek vir sy ronde lyfie! Hy steek eers sy agterpoot deur, toe sy voorpoot en toe sommer sy hele lyfie. Dit pas perfek! Opgewonde rol hy na buite en daar sien hy vir die heel eerste keer die pragtige Jasbos! Daar is plante van allerhande kleure en klein ogies wat vriendelik om elke bossie en blaartjie loer.

Êrens hoog bo-kant hom kan hy vir Pampierie hoor sing! Hy maak sy ogies toe om te luister en skrik nogals toe ‘n diep stem hier langs hom sê: “Hallo daar Trantralie! Ons het vir jou gewag!”

Trantralie probeer sien wie dit is wat nou met hom praat. Eers kyk hy langs hom dan agter hom en toe loer hy tussen sy bene deur…maar hy sien niemand nie.
“ Hier is ek. Hier bo,” sê die die stem weer. Trantralie kyk op. Langs hom staan ’n massiewe boom. Hy kyk stip daarna en dan sien hy dit…die boom het ’n glimlag...groot vriendelike oë en… die takke is sy arms! “Ek is Kasper, die oudste boom in die Jasbos.” “E..e.. hoe weet jy wat my naam is?” vra Trantralie baie braaf. Die ou boom glimlag en sê: “Almal in die Jasbos het ’n werkie om te doen. Ons almal is spesiaal en verskillend gemaak. Van die begin van tyd af is daar gediertes hier in die bos wat sorg dat almal gelukkig en tevrede kan saamleef. Die dag toe jy uitgebroei het, het daar ‘n klomp saadjies onder die grond gaan lê. Hulle lê en wag vir jou sodat hulle blomme, bome en selfs vrugte kan word!” Trantralie verstaan nie lekker nie. Kasper verduidelik verder: “Trantralie, ek weet jy hou daarvan om met jou lyfie in ‘n bolletjie rond te rol-” “ O ja!” val Trantralie hom in die rede. “ Dis die lekkerste ding op aarde!” “Nou ja,” verduidelik Kasper, “as jy oor die woud se vloer rol met jou growwe pels, tel jy stuifmeel op en versprei dit deur die Jasbos. Dan kan die plante daardie stuifmeel gebruik om nuwe saadjies te maak. Die saadjies wat onder die grond vir jou lê en wag, het ook nodig dat jy oor hulle rol. Met jou pels maak jy die grond bokant hulle los en kan die reën en sonlig by hulle uitkom. Hulle het dit nodig om te groei!”

Trantralie kan sy ore nie glo nie. Vir hóé lank het hy in die grot gewens hy kan soos Pampierie lyk! Hy het so baie keer probeer om sy lyfie plat te maak en hy wou so graag ook help om bessies bymekaar te maak!! Boon-op het Pampierie geraas as hy so rondrol en al die stof in die grot in die lug opskiet.

“Jy sien Trantralie, sonder jou is daar ’n klomp dinge in die Jasbos wat nie werk nie! Ek stel voor dat jy sommer dadelik met jou spesiale werk begin!”

Trantralie maak opgewonde sy lyfie bol en begin rol. Dit is die lekkerste holderste-bolderste- bollemakiesie-rol wat hy nog ooit gerol het! Hy sien nuwe plante, kleure, eienaardige diertjies en vlinders. Dis asof sy lyfie sommer self die rondrol pad ken! Hy rol hiernatoe en daarnatoe en al die rondte todat hy weer teen Kasper se stam te lande kom.

Trantralie lag uit sy ronde magie uit. Hy weet sommer, daardie gaatjie in die grot, was net vir hom bedoel. Hy sal nou elke dag vir Pampierie in die Jasbos kan gaan luister. Hy sal kan help om bessies bymekaar te maak en hy het ook nou ‘n belangrike werk. Hy kan nie wag om dit vir sy maat te vertel nie. En dit is presies wat hy daardie middag, toe Pampierie by die rotsskeur invlieg, doen! Pampierie is so bly, dat hy sommer ‘n spesiale liedjie vir Trantralie sing, tot vroeg die volgende oggend.

Dit is die mooiste lente wat die Jasbos in ‘n lang tyd gesien het. Al die gediertes is verstom oor  die nuwe kleure en blomme en later, toe die somer kom, smul hulle aan die lekkerste nuwe vrugte. Alles te danke aan Trantralie wat ondek het wat sy werkie is en hoe spesiaal hy gemaak is.


Van daardie dag af woon almal gelukkig en tevrede in die Jasbos. Tussen hier en daar en wie weet waar!

Borrel

seepbelborrel
reënboogglad
uitspring,  opstyg
waternat
glinster en stadig
op en op dryf 
vlugvoets voel voel
sf(i)erige lyf

deur die lug
wikkel en warrel
en sweef
plotseling land
sysag galant
kleure wat kleef
en meng
in die Lig 
swemmende strominge
stop
en dan...
POP!
mooiste 
fynglas
'Oomblik Gedig'  

Saterdag 20 Julie 2013

DNA

U Woord is Gees
en dit gee Lewe
so is ons aanmekaar
gewewe

U het net een woord gesê
en toe die stof gaan lê
kon ons
U beeld
daaruit stap

perfek gemaak
net soos U wou
'n skamele
man en vrou

iets nietigs klein
soos watestof en gas
het die hemelruim verras

die kroon van U skepping
wat orde bring
help herskep
van liefde sing

Selle laat vibreer
met nuwe Lewe
en die sleutel
van dit alles?

in
Vergewe