Vrydag 25 Maart 2011

Die Groot Showdown

God wil nie verduidelik word nie.

Hy wil ervaar word.

Hy wil eerder hê jy moet hom voel as van hom weet.

Hy wil aan jou raak en jou met verwondering vul.

Hy wil jou beminde wees en jou op dieselfde onverklaarbare manier liefhê as wat jou perfekte ander helfte sou kon - as daar menslik so iets moontlik was.

He Gets YOU!

Om die liefde te verklaar, te analiseer en te bestudeer  haal die misterie daaruit. Dit vat die magic weg. Daardie hol kol op jou maag - onverwagte hoendervleis en skoenlappers wat jou hart se ritme deurmekaar dans...

God is nie 'n formule nie. Ook nie vasgevang in 'n stel reëls of goeie gewoontes nie. God is jou antwoord op persoonlike en retoriese vrae.  Spesiaal in jou eie dialek en in jou gunsteling kleur geskryf. Dinge waarvan net Jy hou. God is daarin. Hy wil jou bly en gelukkig maak op ongewone en unieke maniere, sodat jy 'n baken kan wees in iets wat dalk vir ander soos 'n donker nag lyk.

Fisiologies sou 'n mens dit seker kon verduidelik. Chemies. Analities en Filosofies, maar wat is nou lekkerder? Om  presies te verstaan dat dit ( wat jy as halsoorkop verlief ervaar) eintlik niks ander is as 'n chemiese reaksie binne 'n spesifieke konteks met noodwendige gevolge ? of  om met Liefdesvlerke te sweef, sterre in jou oë te hê en vir dae lank nie eers honger te voel nie?

God is eerder 'n HOE as 'n WAT.

God is 'n konstante bewustheid van 'n groter konteks.

Jy is besig om 'n misterieuse karakter in 'n toneel te vertolk waarvan jy maar net 'n klein gedeelte ken. (en jou gedeelte is, sover jy kan sien, ook nog lank nie voltooi nie.) Jy weet dat dit onteenseglik deel uitmaak van 'n groter vertoning, en dat jou paar reeltjies van kardinale belang is. Jy weet net nie wat die groter Storie behels nie.Jy weet dit is mooi en kan die gehoor se reaksie aanvoel wanneer jy jou deeltjie doen. Jy weet dit is Kragtig, maar ken nie die einde nie.

So nou en dan, agter die verhoog, terwyl jy jouself met alledaagse dinge besig hou, hoor jy hoe iemand anders hulle eie woorde oefen, en kom jy agter dat hulle besig is met dieselfde storielyn. Julle karakters verskil baie, maar somehow is julle besig om dieselfde storie te vertel. Julle is albei ewe opgewonde en raai saam oor hoe wonderlik die einde gaan wees.

Jesus is die Hoofkarakter. (Sy gewildheid hang af van hoe goed jy hom persoonlik ken. Soos dit gaan met die meeste celebs, is dit moeilik om 'n opinie te vorm as jy dit op hoorsê moet baseer...) Hy speel teenoor elke ander speler. Hy help jou selfs jou woorde onthou. Hy is ook die enigste karakter wat jy regtig goed leer ken. Almal wat besluit om deel te neem aan die toneel het toegang tot 'n kopie van sy Teks om te lees. Omdat jy hom ken, raak jy nooit moeg daarvoor nie. Dit bly tot jou spreek en verras jou elke keer met die aweregse manier waarop Sy karakter binne die konteks sorg vir spanning, opwinding en konflik binne die storielyn.

Met jou teks as skatkis diep in jou siel gebere kry jy meer as een geleentheid om jou toneeltjie te oefen, daarmee te eksperimenteer en dan uiteindelik op te voer. Partykeer word jy gevra om dit binne 'n ander konteks te doen as dit waaraan jy gewoond was. Verskillende intonansies word gebruik, maar jou eie unieke stempel word telkens op die deel van die storie afgedruk. Dit spreek tot verskillende mense en jy bly verbaas oor dit wat gebeur wanneer jy dit opvoer.

Jy voel terselfdertyd opgewonde en benoud. Hoe beter jy jou woorde ken, hoe meer besef jy dat dit net jy is wat dit kan doen. Dit is immers vir jou geskryf, en jy is daarvoor bedoel.

Jou karakter groei soos jy ouer raak.

 Partykeer wil lede van die gehoor regiseur speel. Jy luister na hulle raad of interpretasie van wie jy is en voel dan totaal misluk - todat jy weer toelaat dat die Skrywer self jou gerusstel. Jy hoef nie nou al alles te verstaan nie, en Hy het reeds die volgende hoofstuk vir jou beplan, juis omdat jy bereid was om die vorige een op te voer...

Wanneer jy jou gedeelte uiteindelik afhandel, word jy deel van die orkes. Dan sien jy die hele prentjie. Jy spoor die ander toneelspelers aan met die mooiste musiek, en kan nie wag om die volgende karakters te ontmoet en die storie verder te sien ontknoop nie.

Almal wag in spanning vir die Einde, waarin almal en alles gaan sin maak. Die Slot toneel.

NS: Dalk is jy tans in 'n ander toneelspel besig om 'n karakter te vertolk waarmee jy net nie jouself kan vereenselwig nie. Maak nie saak hoeveel oudisies jy al bygewoon het nie - niks voel soos JY nie. Al ontvang jy goeie kritiek en dit lyk of jy die rol meestelik vertolk, weet jy dat JY nêrens in die teks is nie.

Wel, dan het ek goeie nuus vir jou. Jou teks is klaar op jou hart geskryf. Meestelik. Spesiaal net vir jou. Jy word onvoorwaardelik in jou eie rol aanvaar en die Skrywer sal maar te bly wees as jy die dramatiese stilte ( wat al te lank vir spanning sorg) kom vul met jou eie vertolking van wie jy is. Hy wag vir jou. En jy is nie alleen nie. As jy sukkel om jou eie woorde te vind, kan jy die Verhoog Assistent raadpleeg of gaan na-slaan in die Kopie van die Hoofkarakter se Teks.

Die orkes wil jou intro so graag speel - en wie weet, dalk volg jou storielyn deur myne en maak my teks ook meer sin...

Mercy there was great, and grace was free -
Pardon there was multiplied to me,
There the burdened soul found liberty,
At Calvary.
                    WILLIAM R. NEWELL