Maandag 14 November 2011

Gevriesde Hoender Lesse

Gevriesde hoenders is 'n tameletjie. 'n Taai tameletjie. Veral as die bevrore spulletjie meer as vyf hoenders is wat mekaar aankleef. Dan raak dit 'n mini-hoenderberg in jou wasbak en neem dit BAIE lank om te ontdooi. Langer as wat ek kon of wou wag een haastige middag...

Die probleem was die volgende: Die grootmaat hoenders wat ons gekoop, haastig verpak en gevries het, moes nou nuwe eienaars kry en ek moes die bevrore massa van mekaar loskry voordat hulle heeltemal ontdooi sodat ek elkeen in sy eie sakkie kon sit en weer kon vries - my timing moes perfek wees.

Eers het ek versigtig kouer-as-louerige water ingetap en al ses hoenders, in die groot sak waarin hulle gekom het, onderdompel. Na sowat 'n uur was daar nog geen vordering in die ontdooi proses nie. Net die een onderste vlerkie was 'n bietjie sagter as die res, maar NEE. Hoender kubus was hoender kubus. Weerstandig en (myns insiens) sommer hardkoppig, het al die yskoue lywe aan mekaar bly vasklou.

Dis toe dat ek 'n nuwe aanslag probeer. Ek maak die water 'n bietjie warmer, begin trek aan watter ledemaat ook al uitsteek en as handvatsel kan dien, maar GEEN VORDERING. Tot my ergenis breek ek per ongeluk van die boudjies en vlerkies in my poging om die res van die hoender los te trek en later lyk dit meer soos 'n post modernistiese beeldhouwerk in protes teen die mishandeling van pluimvee as "hoenders-in-die-wasbak".

Ek (nou redelik desperaat) gaan haal my houtspaan uit die laai en met vingers wat heeltemal doodgevries is, voel-voel ek na my geel rubberhandskoene êrens in die kas. Hierdie hoenders maak my die hoenders in, maar ek is nie chicken nie!

Met adrenalien wat deur my are pomp en stadig maar seker die lewe na my hande terug bring, kap ek na die hoenders. Ek gebruik elke moontlike angle en probeer die houtspaan so diep as moontlik tussen die ongeveerdes indruk, terwyl ek krampagtig probeer vasklou aan die res van die glibberige hoendermassa.

Velle skeur. Bene breek. Water spat. Hande gly, maar al wat wil loskom is die flippin' hoenders!

Uitasem en uit idees staan ek 'n bietjie terug en probeer besluit of ek nie dalk die spul gelyk in die oond kan boender en sommer vir die hele buurt gebakte hoender moet aanbied vir aandete nie. Dalk kan ek dan dit wat oorbly vries..? Spaar die nuwe eienaars die moeite van gaarmaak..?

My aandag word gelukkig afgelei deur die noodkrete van my honger kinders en vir 'n uur of wat vergeet ek bietjie van die hoender petalje. Ek maak broodjies, antwoord 'n paar sms'e, help met huiswerk, gee die honde kos en onthou toe skielik weer van my verminkte vleiskristal in die wasbak.

Tot my groot verligting het die effens warmer water stadig maar seker tussen elke hoender ingeloop en kon ek hulle nou met amper geen moeite losmaak van mekaar...Ek het sommer hardop begin lag! 'n Klein bietjie meer geduld sou die ding doen! Effortless!

Dit het my dadelik laat dink aan hoe ons baie keer moeilike situasies van konflik (of wat ook al) in ons lewens hanteer. Ons wil NOU 'n oplossing hê en forseer dan baie keer ons eie wil of siening/mening daarop af, terwyl ons eintlik maar net moet terugstaan en oorgee. Toelaat dat God se warm Liefde tussenin vloei en die situasie ontdooi of ontknoop. Ons (en die ander partye betrokke) kan dan heelwat HELER uit die stryd tree as ons Hom net toelaat om ons fights names ons in liefde te fight.

Wanneer ons net ons 'gevriesde hoenders' tot by die Warm Water bring en dit daar laat soak, SAL dit (op die regte tyd) ontdooi en loskom.

Ys het geen weerstand teen Warm Water nie, maak nie saak hoe hard of lank dit al gevries is nie.

Amen.