Woensdag 28 November 2012

Crimson Tide

crimson tide
approaching
overwhelming humanity
shaking the foundations
of our vanity

flow
with the waves
and the coming swell
we are ready Lord
Come

make us well
and well up in us

that we may break
on the shore
let the tide
shake us
let your blood
be our guide
clean out the debris
like never before

Gushing Great Power
we will be found

in
the
aftermath

beauty from ashes
crowns from dust
eternally Yours

Christ
in
us

Dinsdag 06 November 2012

Wilger ( vir Jeanne)

Onder U boom kan ek gaan sit en rus
my hart in U takke toegevou
terwyl die stormwind druis
in groenweivelde
van lower en gras
terwyl die weerlig blits

Granaat ( vir Elizna)

Granate verras met pitte wat sag én hard is
'n Blosende dop met 'n kroontjie daarop
'n Skatkis vol potensiaal
Edelstene ingeprop
en vasgedruk
om met soetheid oop te spring
en vol van sap en glinstering
dors te les
en te verkwik

Ruiterwit (vir Retha)

Sy voetstappe weerklink
in my hart se eggo
wat die ritme verklik

vinniger wanneer Hy naby is

rustiger in die stormwind

Hy gallop deur my angs
maak my vrese stil
met hoewe wat klap
dring Hy my hartskamer in
en die stilte wat volg
in Sy asem wat jaag
gee my nuwe krag

Hy is die Ruiter
en die Wit Perd
my krag en my skild
ek is Syne en Hy myne

vir altyd Sy kind

Bootreis (vir Alret)

U was en is en sal altyd wees
'n hawe vir my
waar ek in my vrees
by U kan kom rus

my bootjie vasgemeer
aan U anker van liefde
U Genadetroon
wat my teen die golwe beskerm
en my mooi laat hoor
waar ek my net moet laat sak
of my anker moet lig

sodat ek deur U wind aangeblaas
op die roete kan seil
wat U vir my wys

Maandag 02 Julie 2012

Joe en die Soetwyn


('n Kortverhaal)

Martie buk vieserig af om die blikkies kos en pasta wat nou oor die hele parkeerterrein gestrooi lê, op te tel. “Kan die ou nie kyk waar hy loop nie!” dink sy hardop terwyl ‘n mansstem agter haar om verskoning probeer vra. Sy besef dat dit deels ook  haar skuld was dat hulle in mekaar vas geloop het. Haar kop is deesdae gereeld op ‘n ander plek. Sy gaan staan regop en draai stadig om, om die ander helfte van die ongelukkie in die oë te kyk.

Dan word sy yskoud.

Voor haar staan haar gewese tuinman in sy volle glorie en glimlag tandloos-verleë. Hy lyk heeltemal anders as die laaste keer dat sy hom gesien het…hy ruik ook sommer beter! Sy skrik half vir haar gedagtes en glimlag terug.
 “Skuus Johannes..ek…” Sy sukkel om woorde te vind terwyl die gedagtes deur haal kop maal: Hy lyk so selfversekerd. Sommer jonger ook. Stukkende klere, maar darem skoon… “ Nee wat mevrou,” help hy haar uit haar woordelose verknorsing “ ek het okkie mooi gekyk wa ek loepie. Ek help gou optel.”

Hulle buk altwee af, vermy ‘n kop-stamp net-net en ontmoet mekaar se oë toe hulle weer opstaan.

“Sjoe, dankie Johannes. Dit is lekker om jou weer te sien! Jy lyk goed!” sê-vra sy amper en sy bedoel dit. (Al klink dit bietjie vreemd in haar ore.) Sy kan haar nuuskierigheid nie bedwing nie. Hierdie man is defnitief nie dieselfde een wat sy twee jaar tevore moes wegjaag omdat hy vir die soveelste keer dronk by die werk opgedaag het en boonop ‘n vrag tuingereedskap gesteel het - waarmee sy hom op heterdaad betrap het nie!

Hy sien haar verbasing en sê amper met ‘n ondeundheid in sy stem :” Ja mevrou, ek wiet! Dis die Hére se werk die!” Hy gaan staan ewe kordaat met sy hande langs sy sye, kierts regop – soos iemand wat op aandag staan – asof Martie maar inspeksie kan kom doen om behoorlik te sien hoe baie ánders hy nou eintlik is.

“ Hy het my kô vat da yt die modder en gemorste. Sommer net soe!” Hy klap sy bruin knobbelrige vingers voor haar oë en toe sy effens terugdeins kan sy sien hoe sy klein ogies glinster.

“Ja, Johannes? Hoe so?” Sy kan nie help om skepties te wees nie, maar is tog nuuskierig om uit te vind hoe dié metamorfose moontlik kan wees.

Hy vertel al te gretig: “ Kyk hie, Mevrou wiet mos lat ek als wat ek gehad het verloor het virrie bottel.” Martie knik instemmend en dink aan die dronkverdriet party saterdae oggende voor haar tuinhekkie…“mevrou se werkie wassie laatste ene wat ek gehad het. Ek was so diep in daai gat vannie drink dat ek nie eens kon swem tot  bo nie!” Hy verduidelik dramaties met sy hande asof hy dié gat nog kan sien. Martie glimlag effens. Sy onthou nog sy eiesoortige manier van praat en sy sin vir humor wat haar ‘n hele paar dinge laat oorsien het, in die tyd wat hy by haar gewerk het.

Hy borduur voort: “ nou soe is ekke toe maar op straat. Als verloor en niemand soek Joe se lyf naby nie. Die moeilikgeit trek agter my aan soes ‘n trop bieste. Ek slaap waar ek kan en hou die koue en die hongerte weg mettie bottel. Partydae is ek soe getjarra ek wietie wa ek was of hoe ek daar gekom hettie. Ek en my tjommas da steel amal vir ‘n ietsie te ete en ons hol heeldag weg vir polieste en securities.” Hy swaai weer sy hande wild, asof hy dié herinneringe wil wegwaai. Dan kyk hy af na sy stukkende skoene en sê skaars hoorbaar. “ Dit was nie goeie tye daai nie, mevrou…ek was oep my laaste” die spyt en selfverwyt wil net-net deurskemer toe hy skielik opkyk en glimlag. Hy weet dit is die deel van die storie waarvoor Martie staan en wag en rek die dramatiese stilte ekstra lank uit voor hy verder gaan. : “ek loep toe eendag hier neffens toe die dors my weer vat en ek vra vir ‘n meisietjie in die parking vir ‘n geldjie vir kos. Ma ek lieg. Ek wiet mos dis vir drank. Ek dink toe sy maak of sy my nie horie. Mense doen dit. Dan hou ek maar bietjie aan – maak ‘n grappie of so – en dan gee hulle maar ietsie omlat ek my soe vermakerig hou. Maar dié meisie…” en Johannes kyk haar reguit in die oë “ sỳ kyk in my oge tot hier diep binne in my hart in..” hy rek sy ogies so groot dat Martie vir die eerste keer die wit om die donker bruin kan sien terwyl hy met sy wysvinger op sy hart druk. “Sy sê sy hettie geld nie, maar sy gaat vir my bid! Mevrou! Ek skrik sommer my dors helemal weg! Ek had mos anner planne en ek is ôk nie lus virrie storie nie. Ek sê sommer nei, dis nie nodig nie. Ek is bekeerd en mense het al gebid virrie drankduiwel mar dit het niks gemaak nie.”    

Hy staan ‘n tree nader asof hy nou vir Martie ‘n groot geheim gaan meedeel en sê dan amper vererg: “Maar die meisietjie het seker gesien ek glo nie wat ek sê nie, want toe ek weer sien vat sy my hanne en vra wat my naam is. Ek en my hanne bewe so vannie dop en die dors dat dit amper lyk asof ons twee nou gaat dans! Maar sy lossie!” Martie keer haar glimlag toe sy die erns op sy gesig sien.

“ Ek sê toe maar dis "Johannes", soos mevrou my ken en my ma my genoem het. Ek bedoel – dis mos ‘n kind van die Here dié– netnou slat die weerlig my of kom Hy my straf as ek nie reg sê nie!Virrie mense oppie straat was ek sommer net Joe of Johnny ma meeste mense da worry nie wie jy issie almal het maar hulle dinge so ons vra okkie yt nie.”  Hy wag 'n oomblik sodat dié inligting kan insink en dan vertel hy verder:

“Maar mevrou, dinge gebeur mos nie soes ons dink nie… Ek koes nog virrie lightning toe vra sy of ek weet lat my naam beteken ‘die Here is Genadig’ ?  Ek sê toe nei, hoe bedoel sy dan nou? Sy sê, sy wiet ek dink die Here wil my straf vir alles wat ek aldag aanvang, maar Hy het klaar sy eie Seun gestraf in my plek…” Hy kyk weer af na sy skoene en dis asof hy daardie oomblik weer herleef : “ My mond wat altyd soe baie tjol praat was stil…en my hanne ôk...”

Toe hy opkyk kan Martie sien dat sy oë vol trane skiet. Hy kyk stip na haar en vat aan sy hart. “ Vir my, Johannes Arendse, het Hy nie kom straf nie. Hy het my net kom haal en vir my gekom wys hoe lief Hy vir my is! Reken biejtie! Na al die goeterse wat ek al gemaak het!” Martie sluk aan die knop in haar keel terwyl hy die trane, wat nou vrylik oor sy verkreukelde wange met die baie myle op, vloei wegvee.

Dan maak hy sy keel skoon en sê weer met nuwe ywer : “ Die meisietjie was toe nie klaar nie hoor! Sy bid toe sommer laaank vir my…enne…ek gaan sit toe sommer langs die muur en die trane loep! En mevrou wiet, sy bid en sy sê vir my goeterse van my kleintyd wat net die Here vir haar kon fluister...en sy bid vir áls! Ek sit da teen die muur en dit voel asof iemand ‘n hele bottel soetwyn in my binneste in oepmaak.” Sy ogies blink weer ondeund. “ Soe ‘n warm gevoel wat oor my hele liggaam van my mag af sprei.” Hy vryf in vervoering oor sy maag met sy oë toe. “ en dié warm vat somma die dronk weg wat nog in my lyf was en ek voel skoon! Soes ‘n nuwe sikspens! Helemal skoon! Daar teen die muur en die vullis en als is ek ‘n Witgewaste Johannes! Ek kon sommer die nuwe wit klere sién wat Hy vir my gegee het!” hy klink trots en steek sy arms na Martie toe uit asof sy ook die nuwe klere moet raaksien.

Sy staan versteen en luister. Alhoewel sy onder ander omstandighede ongemaklik sou wou omdraai en wegloop, kry sy dit nie hierdie keer reg om haarself te verskoon en te loop nie. Hy gee haar ook nie eintlik ‘n kans nie, maar sy is nie ondankbaar daarvoor nie...

“Mevrou, ek wiet nie hoe lank ek daar gesit het nie. Toe ek weer my oë oepmaak is dié meisietjie weg en ek is helemal nugter! My hart brand. Rêrig! Vuurwarm in my borskaste. Sommer nou nog as ek van my Here praat! ”

Sy gesig verhelder soos hy verder gaan: “Dis toe lat ek besluit om shelter toe te gaan en daar te slaap en ek vra toe ôk somma of daar nie iemand is wat oor die Here wil praat nie. Mies Stander wat mos altyd sop skep is toe hoeka daar en ons het weer gebid en als en later het sy my by haar kerk gedoop. Nou help ek daar by hulle. Somma los werkies van verf of tuinmaak en so. Dit hou my lyf uit die moeilikgyt en ek bid sommer vir die mensies wat daar kom slaap. Van my tjommas was ook al daar…” hy glimlag en lag dan so lekker dat sy ogies op klein skrefies trek en die kepe diep om sy haasbek mond sit. “ Hulle sien nie eens die nuwe Joe nie. Party stap somma verby! Ma ek blame hulle nie. Ek is mos ‘n nuwe mens!” Dan kry hy ‘n ver-af kyk in sy oë en sê heel ernsig: “ Ek dink baie aan die vroeëre dae en wat van my sou gewôrre het as daai meisietjie nie my hanne kô vat hettie…”

Vir ‘n oomblik – wat vir haar soos ‘n ewigheid voel – kyk hulle woordeloos vir mekaar en glimlag.

Dit is Martie wat eerste die stilte breek: “Ek is bly Johannes. Sjoe, dit is wonderlik…” en dan is dit haar beurt om die trane weg te vee.

Hy kyk na haar en dit voel asof sy blik reg deur haar “grêndgeit” en voorgee sny tot diep in haar hart.

“ Mevrou wiet, as Hy, wat die Here is, dit vir Johannes kon doen – dan kan Hy dit mos somma maklik vir Mevrou ôk doen! Ek het noggie soe ‘n liefde gevoel nie. Nie eens by my eie ma nie. Rêrig. Dit maak als bieterer en bieterer. Promise. Ons amal kan ma ons smile opsit virrie mense ma Hy wiet als. Hy sien onse modder en Hy wil dit wegvat. Mevrou se grênd modder ôk!” Hy glimlag toe sy bietjie ontspan. “ Ek sal bid lat Hy met mevrou ôk moet kô dans!”

Sy soek na haar sonbril in haar handsak om haar trane weg te steek en kry net ‘n flouerige: “Dankie, Johannes..” uit. Met daardie woorde draai hy om en stap terug in die rigting van die winkel, sonder om weer om te draai.

Skielik voel die verstrooide kruideniersware en die ander goed waarmee haar kop só besig was, nie meer belangrik nie.

Terug in die motor skakel sy die radio aan en probeer nog sin maak van die vreemde middag toe die liedjie se woorde haar agter die stuurwiel laat versteen: “ …nuwe wyn…minder woorde…nuwe wyn…Skinker Gees bring nuwe wyn…dis ‘n teengif vir die passie wat so kwyn…beste wyn… soetste wyn...U Nuwe Wyn…”

“Johannes” dink sy, “die Here is Genadig”… en sy weet sommer dat dié Soetwyn-warmte wat sy nou voel, ook besig is om al die modder van haar lyf af te was…

Maandag 02 April 2012

Skoon


Hoe kom ‘n mens agter dat iets nagemaak is? Dat dit nie die oorspronklike is nie? Dat jy ‘n rat voor die oë gedraai is? Of ‘n kat in die sak gekoop het? Jy ken die ware Jakob. Dit wat eg is. Jy het iets wat as ‘n verwysing dien en waarmee jy die na-maaksel kan vergelyk. Jy weet hoe dit veronderstel is om te wees/klink/ proe/ voel wat ook al.

Ons het ook ‘n sesde sintuig. ‘n Ingeboude gevoelligheid vir dinge wat opreg is en dit wat nie is nie. Ons gebruik dit om situasies te evalueer en dan daarop te reageer. Dit is ‘n oorlewings-meganisme . ‘n Manier om onsself te beskerm.

Net so wil die Heilige Gees ons beskerm en help om te onderskei tussen dit wat van God af kom en dit wat nie van Hom af is nie. Hy wil ons intuïsie wees en ons help om nie ons ore vir die verkeerde stem uit te leen nie.

Dit hang alles van jou fokus af.

Die Here gee vir ons absolute Vryheid deur ons, vir eens en vir altyd, te vergewe vir dit wat ons verkeerd gedoen het, besig is om te doen, en nog gaan doen. Hy wil hê ons moet fokus op die feit dat ons skoon is, want dit is juis dit wat dit makliker maak om die verkeerde goed in jou lewe raak te sien, reg te stel en heel te maak.

Dink byvoorbeeld aan ‘n baie deurmekaar huis. Só vol goed dat ‘n mens nie eens die meubels en ornamente kan raaksien nie. Vuil en slordig. In so ‘n huis is dit baie moeilik om skoon te lewe. Daar is te veel goed in jou pad en die maklikste uitweg is om dit maar net nog vuiler te maak. Die skoonmaak werk is net te oorweldigend en ‘n mens weet nie eens waar om te begin nie! Dis waar Jesus inkom. Die dag toe jy Hom in jou lewe innooi, het Hy die Extreme Makeover in jou huis begin. Hy het vir jou die kans gegee om ‘n blink nuwe huis te kry, sonder dat jy dit verdien. Heeltemal verniet, alhoewel dit Sý lewe gekos het. Nou wil Hy saam met jou, die nuwe huis benut en jou die kans gee om die meubels te gebruik waarvoor hulle gemaak is. Die tuin te geniet in al die seisoene van jou lewe en in die studio van jou binne kamer, nuwe maniere van aanbidding ontdek en skep.

Hy weet ons kan nooit van al die clutter ontslae raak op ons eie nie. Partykeer het ons selfs ‘n stootskraper nodig om voor te begin! Die uitdaging is nou net om op die skoon huis gefokus te bly en nie toe te laat dat  ons aandag gefokus word op die stof wat daar partykeer in die huis is, of wanneer daar weer iets rondstaan wat gebêre moet word nie. Ons kan maklik in die strik trap, maar gelukkig weet ons ons huis is van voor af opgerig. Die ou huis is heeltemal plat gestoot en daar is nuwe fondasies gegrawe, boumateriale en afwerkings gebruik. Dit is ook heeltemal afbetaal en ons hoef nie te swoeg en te sweet om dit te prober verdien nie! Die prys is betaal, die werk is gedoen. Wanneer ons  dan op ‘n deurmekaar kas afkom, wat ons stelselmatig omgekrap het,  kan ons dit saam met die Heilige Gees uitsorteer. Ons kan dankbaar die gemors raaksien ( baie makliker - noudat die res van die huis skoon is) en die kwessies aanspreek wat uitgesorteer moet word. Ons bly mense met foute, maar dankie tog dat die Here na die skoon huis kyk en nie na elke klein foutjie wat insluip nie! Ons kan al die nuwe clutter net so vir Hom aangee en rus in die wete dat Hy dít ook sal uitsorteer. Deur Sy Bloed kom was Hy ons huis elke dag skoon.

So, wanneer ons partykeer wonder of dit alles nie net ‘n droom was en ons nogsteeds in die vuil huis bly nie, kan ons daardie stemmetjie net laat divert na House Keeping en dankbaar op die rusbank van Sy genade gaan sit. Ons hoef nie verstrengel te raak in die feit dat ons nog foute maak en omkrap nie. Ons het ‘n nuwe huis. Finish en klaar. Die oue is verby die nuwe het gekom. Dankie tog. Vrede is ons s’n vir altyd.

Mag ons altyd daarop bly fokus, want dit is juis hierin wat ons krag lê… “ the power of a hurricane is found in the calm of it’s centre”

Wanneer ons begin skoon voel, sal ons skoon wil bly…

As jy vandag voel dat jou huis vol clutter is en jy toegegooi is onder alles wat verkeerd voel in jou lewe, gee dit vir Hom. Hy kan nie wag om vir jou ‘n nuwe huis te gee nie. Jy hoef nie skaam te voel nie, Hy weet in elk geval van alles en Hy wil dit so graag kom wegvat. Moenie oopmaak vir die stemmetjie wat vir jou die albums van die verlede deur die venster wil aangee of jou wil laat verstaan dat jy ver van perfek af is nie. Sluit daardie deure en gee vir Hom die voordeur sleutel...

Romans 8:1-6

 There is no condemnation now for those who live in union with Christ Jesus.2 For the law of the Spirit, which brings us life in union with Christ Jesus, has set me[a] free from the law of sin and death.3 What the Law could not do, because human nature was weak, God did. He condemned sin in human nature by sending his own Son, who came with a nature like our sinful nature, to do away with sin.4 God did this so that the righteous demands of the Law might be fully satisfied in us who live according to the Spirit, and not according to human nature.5 Those who live as their human nature tells them to, have their minds controlled by what human nature wants. Those who live as the Spirit tells them to, have their minds controlled by what the Spirit wants.6 To be controlled by human nature results in death; to be controlled by the Spirit results in life and peace.

Ephesians 2:4-10


 4 But God, who is rich in mercy, because of His great love that He had for us,[c] 5 made us alive with the Messiah even though we were dead in trespasses. You are saved by grace! 6 Together with Christ Jesus He also raised us up and seated us in the heavens, 7 so that in the coming ages He might display the immeasurable riches of His grace through His kindness to us in Christ Jesus. 8 For you are saved by grace through faith, and this is not from yourselves; it is God’s gift— 9 not from works, so that no one can boast. 10 For we are His creation, created in Christ Jesus for good works, which God prepared ahead of time so that we should walk in them.

Dinsdag 27 Maart 2012

My Pa

Wat beteken dit om God se kind te wees?

Sy kind. 'n Afstammeling van die Almagtige...'n erfgenaam...'n kindjie...sjô....

In my oë is dit iemand wat totaal en al afhanklik is van iemand anders vir hul versorging, net soos 'n aardse kind, maar in God se wêreld werk dit anders om. Hoe meer 'volwasse' jy raak, hoe meer afhanklik raak jy van sy Leiding. Jy weet jy kan niks sonder Hom doen nie, en jy wil ook nie. Jy weet wat die gevolge daarvan is om jou eie kop te volg - jy moes dit al in die verlede dra en jy het al Sy ongelooflike Vrede ervaar wanneer jy net bloot gehoorsaam was. Maak nie saak hoe absurd dit vir jou in daardie oomblik geklink het nie. Soos 'n goeie pappa wil Hy jou hand vat en jou oor die besige straat lei. Jy weet dit nou. Al kan jy nie die motors sien aankom nie, kan jy Hom blindelings vertrou met elke tree. Wanneer om te stap en wanneer om te stop. Wanneer jy losruk en self wil oorstap - dis wanneer jy nie die bus sien aankom nie...

Kind wees is ook vir my sinoniem met verwondering. Om opgewonde te wees oor elke nuwe ervaring en dit ten volle te beleef en te ontdek. Soos om die eerste keer jou tone in koue seewater te steek of selfs net agter te kom dat daar wel iets soos swaartekrag is. Jou eerste sjokolade of dalk jou eerste stukkie suurlemoen. Vreemd maar ongelooflik en fassinerend. Dinge wat jou met verwondering vul... en saam met Hom is daar elke dag iets nuuts om te ontdek. Ek staan altyd verstom oor die nuwe maniere wat Hy kies om met my en ander mense om my te praat. So uniek aan ons elkeen en baie min op 'n 'tradisionele' manier. Anders as wat ek gedink het, is Hy nie altyd in die preek nie, maar baie keer in 'n liedjie of 'n skildery, die sonsopkoms of iemand wat uitbundig gelukkig is. In vriendskap en veral in kinders.Tot in my asemhaling. Hoe kan ons in elk geval die Heerser van die Heelal net op een plek gaan soek as Hy Alomteenwoordig is? Hoe kan ons Hom ooit beperk en in 'n blik druk? Net soos kinders elke dag iets anders ondek, wil Hy homself elke dag anders/nuut aan ons openbaar.

Om God se Kind te wees impliseer ook dat  daar iemand is wat jou beter ken as enige iemand anders.  Miskien voel jy dat jou aardse ouers jou nooit regtig verstaan of geken het nie, maar God ken jou al van voor jou geboorte af. Hy weet wat jou sterk en swakpunte is. Hy het self dié kombinasie noukeurig uitgekies, sodat jy, deur wie jy is, vir die res van die wêreld 'n baie unieke stukkie van Sy hart kan wys. Net soos ons karakter eienskappe of kenmerke van onsself in ons kinders kan raaksien, wil God Homself deur ons kom wys. Jou eiesoortige tentoonstelling daarvan is dalk al waarop iemand anders gewag het om te besef hoe lief hulle hemelse Vader hulle het, en dat Hy hulle ook wil gebruik. Dat hulle êrens hoort.

Dit bring my by die volgende deel van Kindwees. Ons het 'n Huis waar die deure altyd wyd oopstaan en Hy met oop arms vir ons wag. Ons mag maar by Hom gaan rus. Hy wil ons - meer as enige iets anders - vashou, sodat ons met ons kop op sy bors, sy hartklop kan hoor. Geborge, tuis en veilig. Binne-in Hom weggesteek.

Dis waarom Hy ons Sy kinders gemaak het. Om ons te oorrompel met Sy liefde. Bo ons begrip en verstand. Beter as dit wat ons ooit kan bid of dink.Oorvloedige versorging wat verder gaan as net dit wat ons nodig het, maar by dit wat ons hartsbegeerte is, wil uitkom. Hy wil daardie goed in jou lewe aanspreek wat diep in jou hart gebêre is. Hy het dit immers daar geplaas met 'n rede - sodat jy die vreugde kan ervaar wanneer dit realiseer! Ouers gaan soek na die perfekte Kersfeespersent om die glimlag op hul kinders se gesiggies te geniet en hoeveel te meer wil ons Hemelse Pa nie daardie vreugde sien nie!  Gee dit vir Hom. Wat dit ook al is.  Hy werk dalk nog 'n rukkie aan jou karakter sodat jy dit wat Hy vir jou wil gee ten volle kan geniet wanneer jy dit ontvang, maar vertrou Hom daarvoor. Hy wil jou oë sien glinster en jou beker laat oorloop!

Hy is ons Perfekte Hemelse Pappa. Sonder baggage en sy eie seerkry en foute. Volmaakte liefde - spesiaal vir jou. Sy Kind.

♪ My Pa is die Koning van die heelal jy weet
En kom wat wil ek sal dit nooit vergeet
Die winde kan waai en die berge kan val
Hy't gesê Hy voorsien en Hy sal!
Ek's die Koning se kind, ja dit maak my 'n prins
My lewe is Christus, selfs die dood is 'n wins
Vir niks is ek bang nie, dit sê ek jou nou
My Pa is die Koning onthou ♪


Maandag 26 Maart 2012

Solar

( 'n vriendin se storie...)


Ek hardloop altyd verder weg
my voetstappe eggo die ritme
die ritme
op die pad
my hart
klop my ore toe

Ek wil nie omkyk
of omdraai nie
want agter my
lê die growwe pad
deurgetrap
ek wil wegkom
wegloop
weg

Die horison wink ver vir my
ek wil dààr kom
arriveer
my skaduwee inhaal
wat voor my uitstrek
ek wil die donker
kleiner trek

en dan kom iemand langs my
staan
geen haas
geen weg
net omgedraai

in stilte kyk sy nà die Son
en haar skaduwee

agter
haar

Maandag 12 Maart 2012

een van Drie

groot oopvlerk skoenlapper is jy
wat sag oor my bors
jou reënboog vlerke sprei
partykeer warm
partykeer koud
partykeer 'n kool vuur wat brand

die tintelende ritsel
maak my ore oop
vir dit wat ek moet hoor
en bevestig in my hart
dat ek die regte rigting loop

die sagte wind
van jou gewapper
vang my soms onkant
as my vel koud en warm begin rimpel

jy is Sy teenwoordigheid
Sy stem
geluidloos
in my hartsblom
oopgemaak vir bestuiwing
vrugte dra
saad te skiet
en later
die oes te haal

Vrydag 09 Maart 2012

Plooibaar

my glimlag kraak nie meer
my strak gesig
stywe mondhoeke sou bars
oë wou ontvlug
my hart wat standbeeldagtig
sinies kyk
hoe kamma vreugde lyk

ek hoor die helder geluid
en skrik partykeer selfs
is dit ek wat so
uitbundig klink?

die eggo val vreemd
en ongewoon vars
op my ore
verstom luister ek
na my keel
waaruit die klanke glip

my mond gee deesdae maklik mee
plooibaar
hoef ek haar nie meer te dwing
om saam te speel
want voor ek weet
(of kan keer)
lag ek weer

my kaartgesig is afgeskraap
my hand lê oop
om deur te lees
en as my trane
Verspot Vinnig Vloei
van blyskap
(of wat ook al)
rus ek in die wete
dat hulle in Goeie Hande val

my glimlag kraak nie meer



Isaiah 51:11
... everlasting joy shall be upon their heads. They shall obtain joy and gladness, and sorrow and sighing shall flee away...

Isaiah 60:5
Then you shall see and be radiant, and your heart shall thrill and tremble with joy[at the glorious deliverance] and be enlarged;...

John 15:11
I have told you these things, that My joy and delight may be in you, and that your joy and gladness may be of full measure and complete and overflowing...

Hebrews 1:9
... Therefore God, [even] Your God (Godhead), has anointed You with the oil of exultant joy and gladness above and beyond Your companions....

Nehemiah 8:10
This day is holy to God. Don't feel bad. The joy of God is your strength!"

Saterdag 18 Februarie 2012

Monochromaties of HD Techni-colour?

Het jy al ooit, soos ek, gewonder hoekom die boek "Handelinge" in die Bybel klink soos die teks vir 'n Action Movie? En hoekom die kerk van vandag meer soos 'n filosofie lesing klink as 'n Act?

Ons glo tog nog in dieselfde Jesus as die een in die Bybel of hoe?

Dit het my bietjie laat dink...

Wanneer jy oortuig word van Jesus se liefde vir jou en hoe nodig jy hom het, word jy 'n nuwe mens. Die oue is verby - die nuwe het gekom. Jesus het vir altyd vir jou redding betaal. Jy sal nooit weer in die beskuldigde bank staan nie. Jy is losgekoop soos iemand wat ontvoer is en as 'n slaaf moes werk in 'n ander land en dan vry is om huistoe te gaan. Meer as dit. Om as Koninklike te reggeer in die land waar jy van die begin veronderstel was om te wees!

Jy ontvang dan 'n nuwe Canvas. Witter as sneeu - om die kunswerk van jou lewe mee te maak. Die amazing ding is dat jy, van die oomblik wat jy dit ontvang, tot in Ewigheid het om dit te voltooi. Jou ewige lewe begin reeds die oobllik wat jy dit besef en die goeie nuus ontvang dat die ransom vir jou lewe betaal is.

Baie keer is 'n mens dan heel tevrede met die nuwe vista van jou kunswerk en dalk te bang of te gemaklik om met die potlood en uitveer te eksperimenteer wat saam met die canvas gekom het.

Jy is God se kind vir altyd, maar daar is 'n lewe van Oorvloed wat vir jou wag, as jy deur jou lewe Hom aanbid, die potlood opneem en toelaat dat Sy hand joune Lei. Dan staan jy verstom oor hoe die vorms en lyne stadig maar seker besig is om in 'n Meesterstuk te verander.

Natuurlik is daar dae wat ons vergeet (of moedswillig) nie wil toelaat dat die Here se hand die potlood lei nie, maar dan is die Uitveer van Jesus se bloed daar om ons nog 'n kans te gee.

So borduur ons voort op ons skildery deur Sy genade en liefde en die geloof wat in ons harte groei sodat die kunswerk amper 'n lewe van sy eie aanneem.

MAAR

Weet jy dat daar NOG meer opgesluit is in jou kunswerk as bloot net 'n potloodskets? Dit mag dalk vir jou briljant lyk en jy mag dankbaar en nederig na die nuwe jy op die doek kyk, maar die onbeperkte kleure en dimensies van die Heilige Gees mag dalk nog missing wees...

Die TV van jou lewe het 'n HD-3D verstelling, maar jy is dalk nog net die hele tyd besig om in swart en wit TV te kyk!

Sonder dat jy dit besef is daar 'n wêreld van moontlikhede wat jy dalk nog nie ontdek het nie. Dit staan on-oopgemaak langs die potlood en uitveer, onder jou esel. Toegedraai in papier waarvan jy sal hou .

Partykeer gaan dit spontaan oop en partykeer moet jy net vir die Here vra om dit vir jou oop te maak. Ander kere vra dit dat iemand saam met jou bid.

Dit is 'n baie persoonlike ontmoeting, wat by jou en jou omstandighede pas. Die meeste mense wat hierdie ervaring gehad, en met my gedeel het, getuig van 'n oomblik in hulle "Canvas-lewe" wat hulle in 'n doodloopstraat was en gevoel het dat hulle nuwe inspirasie of vuur nodig gehad het. Self kon hulle net nie meer nie.

Ek dink dit is juis waar die sleutel lê. Die Heilige Gees kan net regtig beheer neem, wanneer ons bereid is om ons beheer op te gee. Wanneer ons so honger is vir 'n vars ervaring of openbaring van die Here se Liefde dat ons met ons hele wese na Hom uitroep...DAN kan Hy jou wegvoer op die Fontein van Lewende Water wat soos 'n reuse tsoenami in jou  binneste losbars. Jy kan nie aan die randte van die Supertube vashou en verwag om die "ride" te geniet nie. Jy moet eers op die punt kom wat jy laat los.

Dit gaan nie noodwendig gepaart met vuurwerke, aardbewings of engele wat losbars in sang nie (alhoewel ek seker is dit ook kan gebeur). Wat ek wel weet, is dat dit nie gaan oor die 'show' nie, MAAR dat iets wonderliks gebeur wanneer jy toelaat dat die Heilige Gees jou hart binne stroom.

Dit voel letterlik of jou hart aan die brand is. Dis asof jou intimiteit met die Here eksponensieël toeneem. Skrifgedeeltes gaan vir jou oop wat jy nog nooit voorheen lekker verstaan het nie. Jy hoor Sy stem duideliker in alledaagse situasies en as jy nie meer weet wat om te bid nie, neem die klanke van Sy Stem oor om dit te bid wat bo ons verstand of begrip is.

Die Heilige Gees is "ours for the taking". Hy is na ons gestuur om ons te vertroos, te lei in Waarheid en om die Liefde van die Here aan ander mense te openbaar op maniere wat jy maar net kan weet van Hom af kom. Hy wil ons elke dag, prakties en intiem Lei.

Die Here is getrou en vol liefde. Hy wil hierdie geskenk vir jou gee. Die Gawe van Die Gees. Jy moet dit net graag genoeg wil hê. Buk af in nederigheid en maak dit oop. Dit staan al van daardie eerste dag af onder jou esel. 'n Hele nuwe wêreld van kleur sal vir jou oopgaan en jy sal nie jou oë kan glo oor dit waarop jy al die tyd uitgemis het nie!!

Die Here wil aan jou meesterstuk werk, sodat Hy dit kan gebruik om ander mense honger te maak vir die Nuwe Lewe wat daar in Hom is. Hy het almal in die wêreld so ongelooflik lief, en Hy het ons nodig om dit te demonstreer.

Hulle kan geinspireer word deur jou skoon canvas, jou potloodskets of 'n meesterstuk in kleure van die hele spektrum. Jou bereidwilligheid en honger daarna is die sleutel. Laat Hom toe om jou deur Sy onbeperkte, onvoorwaardelike liefde te oorreed om meer en meer van Hom te ervaar en die fontein wat in jou hart begin borrel, sal jy nie kan of wil keer nie.

Laat Hom toe om die HD van jou TV aan te skakel of die vlammetjie wat al lankal in jou hart brand, met die Blow-torch van die Heilige Gees aan te blaas...

Daar is geen voorvereistes nie. Vra en vir jou sal gegee word.

1 Corinthians 2:4-16




Woensdag 08 Februarie 2012

Oppad

Laat my net die baken wees
wat die rigting wys
'n padlangsteken opgehys

mag niemand my ooit
as afdraaipad reken
of mislei word
deur die font van my teken
my geroeste pale
my verf wat verdof

mag almal wat U hierlangs stuur
in 'n oogwink weet

Hemeltoe
Hierlangs
Amper daar

en van my vergeet

Maandag 02 Januarie 2012

Vis of Vlees

Meerminne het my nog altyd gefassineer. As ek kon kies, sou ek graag of 'n meermin of 'n groot (intelligente) voël wou wees. Dink net hoe lekker dit moet wees om so vrylik te kan beweeg. Die perspektief wat jy op dinge het en die moontlikhede! Tyd en ruimte raak 'n heel ander dimensie. Daar is 'n Groter mag wat jou dryf. Die Wind of die Water. Jy voel heeltemal vry - en tog is jy totaal en al uitgelewer aan die element waarin jy jouself bevind. 'n Vreemde, teenstrydige idee: Jy is op jou "vryste" wanneer jy totaal en al oorgee. Wanneer jy net ontspan en toelaat dat die water of die wind jou meesleur, sonder enige inspanning van jou eie, voel jy heeltemal vry. 

Ons het selfs uitdrukkings wat hierdie konsep van vryheid vasvang: "Free as a bird" en hy is so gelukkig soos "'n vis in die water".  En as jy aan beelde van vryheid dink, is dit nooit iemand wat met moeite iets probeer vermag nie. Dis eerder iemand wat op die naat van sy rug op die water dryf of 'n voël wat sweef op 'n warm lugstroom, dalk selfs 'n ruimteman wat gewigloos beweeg. 

Wat jou beeld van vryheid ook al is, dit het altyd iets in gemeen. Dit is effortless en 'n mens is nie bewus van die sekondes wat verby tik nie. Dit gebeur amper buite die realiteit van tyd en ruimte. Jy laat ook jouself toe om meegesleur te word en veg nie meer teen die gevoel om die leisels heeltemal te laat gaan nie. Daar is niks wat jou terug hou nie. 

'n Ontvlugting van die werklikheid.

Fiksie en fantasie? Bedwelming of verslawing?Euforia? Chasing the dragon? Maar wat as daar 'n manier was om hierdie vryheid te ervaar? Elke dag? Sonder om jou gesondheid in te boet of skade aan verhoudings en jouself aan te rig? 'n Port-hole na 'n ander dimensie waar jy heeltmal gewigloos kan funksioneer? 'n Geheime passageway na 'n ander realiteit wat altyd daar en oop is en sorg vir 'n permanente metamorfose.

Die realiteit is dit. Ons is na die Beeld van God gemaak. Ons is veronderstel om vrylik toegang te hê tot die Goddelike dimensie van ons Hemelse Vader. Die Vryheid van die see en die lug.

Jesus hou die sleutel. Hy self is die Brug en die porthole. Sy geheime taal wat jou help om hierdie dimensie te verstaan - die Heilige Gees. Deur Hom kan ons elke dag swem in die see van oneindigende moontlikhede. Hy het klaar die prys betaal - daar is Niks wat ons nou meer kan terughou nie. Ons moet net ons kaartjie by Hom vat. 

Jesus staan by die deur van jou hart. Hy staan aan die begin van die Secret Passageway. Hy wag vir jou om te kom speel in die realm van Sy Heerlikheid. Toegang is gratis. Jy moet net oopmaak en oorgee om daardie ongelooflike VRYHEID te ervaar. 

En as daardie goue sleutel in die Groot deur draai en die stroom van liefde jou oorweldig, word jy toegerus met seelonge en vinne om die volle potensiaal (en oneindigheid) van Sy Genade te ontdek. A new creation. 

Waarvoor wag ons nog? Let the games begin!