Maandag 24 Augustus 2020

'n Skapie in Wolfsklere

 Brutus, ons Duitse Herdershond, is ‘n gróót hond. Hy is ‘n BEAUT. Mooiste gelaatstrekke en profiel. ‘n Stert wat nét reg krul. Geen heup of gewrigsprobleme nie – en die dierbaarste geaardheid waaraan jy kan dink. 

Sy impossante gestalte skrik menigte verbyganger af om die klokkie te lui of miskien per ongeluk by ons erf in te kom. (Min wetend dat hy wat Brutus is, geen hond haar af sal maak nie en totaal onbewus is van die effek wat hy op sy aanskouers het) 

Wanneer Brutus blaf, is dit régtig net vir ander honde. Só, as jy per ongeluk voor die hek staan en iemand anders stap agter jou met ‘n hond verby – kan jy dalk geflous word om te dink dat Brutus ‘n kwaai hond is. Hy is nie. Ons studente huurders wat op die erf bly stap gereeld met hom. Vir die jong dames is hy die perfekte metgesel: goeie afskrikmiddel, gehoorsaam, saggeaard. 

Brutus was nog nooit die Alpha nie. Ons het hom nou al so min of meer 7 jaar  lank en in daardie tyd het hy my al soveel keer verbaas. (En ‘n bietjie in my mou laat lag vir sy lafhartigheid.) 

Hy dink hy is klein. En Magteloos. 

Ons Skottie, Max, sou byvoorbeeld doodluiters op Brutus se bed gaan lê asof dit aan hom behoort; dan sou Brutus, sleepstert en vraende oë aan my kom stamp todat ek opstaan en vir Maxie van sy bed afjaag. Max was ‘n tiende van sy grootte. Of Brutus sou byvoorbeeld glad nie opklim na ons stoep toe, wat so 60cm van die grond af was nie. Hy sou elke keer omstap en die stoep van die huis se kant benader. Maak nie saak hoeveel keer ons hom roep of paai of help om op te klim nie. Hy kan nie. Of eerder hy dink hy kan nie. 

Hy is uit en uit geteel met ‘n gesinshond-temperament. Gemaklik tussen mense en kinders en ek is dankbaar daarvoor, maar daar is nadele aan die feit dat hy (ENIGE) mens se beste vriend is. 

Sy mensliewendheid het hom al ‘n paar keer in die sop laat beland. Ek moes hom al by Animal Welfare gaan haal wanneer hy by die hek uitglip en heel gemaklik saam met ‘n vreemdeling begin stap of in hulle kar spring. Hierdie Honde- Mamma se einde: Lang trane , groot soektog. 

Gelukkig red sy voorkoms hom dan gewoonlik. Hy lyk net té Koninklik teenoor die gehawendheid van die bedelaarman wat ‘n leiband met sy gordel geprakseer het. (Dankie tog die prentjie het nie vir die sekuriteitswag in ons buurt sin gemaak nie.) Of hy is bietjies te groot vir die hawelose kindertjies wat in die parkeer area by die Mall met hom speel – ‘n kilometer van ons huis af… 

Die dag toe ‘n inbreker dit wel waag om, Brutus se voorkoms ten spyt, oor ons muur te spring en ons huishulp die man skreeuend verwilder het uit die tuin, het Brutus swaaistert langs die misdadiger gesit asof hy maar net te bly is vir die nuwe geselskap in ons erf.  Sonder om te blik of te bloos of te blaf. 

Vir Manlief irriteer dit , nodeloos om te sê, tot in sy kleintoontjie. Hy is baie lief vir die hond, maar voel dit is : “Net nie reg nie” Al die ‘spunk’ is volgens hom uit die hond geteël. Ek stem tot ‘n mate saam…dierbaar is hy wat Brutus is, maar braaf (?) nie juis nie. 

My eie irritasie met die hond, lê egter op ‘n ander vlak. 

Die manier waarop Brutus homself sien, herinner my aan die manier waarop ons baie keer die lewe benader. 

Met sy groot lyf, sterk spiere, skerp sintuie, en reuse kake lewe Brutus tussen ons soos ‘n skoothondjie. Hy besef glad nie waartoe hy instaat is nie. Ons wat saam met hom lewe, is dankbaar daarvoor. Dit versteur nie ons gemaklike lewe saam met hom nie. Ons moedig dit eintlik aan. 

Dit laat my dink aan die ou storie van die arend wat tussen die hoenders grootgeword het en nooit besef het dat hy kan vlieg nie! 

Onderdruk ons nie ook baie maal die “Brutus” binne ons nie? Ons wil tog net nie die mense rondom ons ongemaklik maak nie. Of ons ware kleure wys nie. Of die status quo-appelkarretjie omgooi nie. Ons voel net te blootgestel. 

Ons vergeet dat die Leeu van Juda binne in ons elkeen, wat Jesus Christus aangeneem het, bly. ‘n Vorstelike Krag wat by Magte is om vêr meer te doen as wat ons ooit kan bid of dink. ‘n  Kreatiewe, Liefdevolle, Genesende Krag. Die Redder van die Wêreld. Vredevors. Immanuel. 

Al wat ek kan aflei is dat ons bang is vir wat dit kan beteken? Wanneer ons die skrefie van ons hart se deure oopmaak en verblind word deur die Grootsheid van Sy drome vir ons en die begeertes wat Hy in ons harte geplaas het, voel ons oorweldig. 

Ons slaan die  deur toe. Ons probeer onsself oortuig dat dit wat ons daar binne sien, ‘n illusie is en lewe dan verder in die eintlike leuen-wêreld wat ons vir onsself skep. Daar waar ander mense gemaklik voel in ons teenwoordigheid en Syne nie is nie. 

Ons onderdruk die knaende gevoel dat ons eintlik vir soveel meer gemaak is en raak afgestomp daarvoor. 

In die geval van Brutus, weet ek dat dit vir ons almal beter is dat hy nie weet wat sy potensiaal as wilde dier sou wees nie. Maar ek voel tog jammer vir hom. Hy is ‘n groot wolf wat na homself kyk as ‘n baba lammetjie. 

Nee. 

Ek wil die Leeu in my ontdek. Ek wil voel met my hart se deur wa-wyd oop. Ek wil inkyk en sien hoe Sy Heerlikheid manifesteer in my lewe en deur my vloei. Ek wil uitvind waarheen  Sy potensiaal my kan lei en ek wil Sy Koningskap in my ten volle ervaar. Soos in die Hemel – so ook op die aarde. 

‘n Skoothondjie -verseker nie! 

Sela. 

Visserskind

Ek wonder hoe het jy gevoel

Daardie dag toe Hy staan

In die aandlug se koel

En jy

‘n Klein seuntjie

 met ‘n hemelse doel

 

Toe Sy oë vir jou glimlag

 asof Hy weet

En jy dalk eers jou geskenkie

se waarde wou meet

 

Toe die Man wat diep in jou siel inkyk

Jou eenvoudige kinder-kosblik gebruik

Om vir al die baie (duisende) mense

Siekes, gesondes, dromers, wensers…

Hulle honger na lewe en iets wat kan voed

Kom aanspreek en heelmaak en weer moed

Uitdeel  vir ‘n nuwe werklikheid

Een van oorvloed en liefde en dankbaarheid

Toe Hy sê: “ Bring wat jy het. Dit is Genoeg.

Ek kán jou gebruik.

 Ek plant.

Jy oes.”

Vrydag 14 Augustus 2020

Storm

 Stormagtig is die see in my

my voete voel onvas

soveel vrese wat my beet kan kry

in my gedagtes en my hart


Maar dis asof hierdie heen en weer

en golwe wat my bootjie slaan

my laat fokus op my eie seile

en die rigting wat ek gaan


vir lank was daar 'n ligte wind

 'n paar deinings nou en dan

waar ek ligweg net kon koes

en vashou aan U hand


maar hierdie is 'n ander storm

dit woed en skud en breek

sodat ek als wat ek al geleer het

nou een vir een probeer


Ek roep in desperaatheid

 stemloos deur die storm se geraas

U antwoord met 'n sagte stem 

en vrede wat my weer verbaas


"My genade is genoeg vir jou. 

Vir Ewig. Weer en Weer. 

Ek het My asem in jou ingeblaas. 

Kom sit weer alles neer."