Dinsdag 06 Oktober 2020

Grendeltyd


As ek sit en wonder

Oor elke klein geluid

En my hart wil begin bokspring

Sonder ritmes, toe wil sluit

Sal ek my deure wyd oopmaak

Vir Sy liefde om weer in te stroom

En al my slotte los gaan maak 

Sodat Hy weer die troon

Kan opneem in my maal gedagtes

En my liggaamelike huis

Waar Hy met Sy vrede in kom woon het

teen die wêreld se gedruis




Maandag 07 September 2020

Hoe Rooier, hoe mooier....

 Net gister kuier ek by ‘n vriendin met ‘n mat kwessie. 

Haar kleur is blou. Soos haar oë en 80% van die somer rokke waarin ek haar al gesien het. En sy lyk pragtig daarin. Die probleem is nou net – die mat is rooi. Tussen haar mooi Delft-laslappie teëls en die blouerige kombuiskaste, wil dit net nie so lekker vloei saam met die res nie. En matkwessies (soos enige ander dekor kwessie) inspireer my. Ek dink dadelik aan die blougroen Saphire mat wat ek nou al vir maande beny op Hertex se House website. Die “Nostalgia” reeks…so reg in my sentimentele, romantiese kraal. Ek het al planne beraam, denkbeeldige goed verkoop en al my verjaarsdag, Kersfees en herdenkings- versoeke saamgegooi om die mat van my (onlangse) drome te bekom. 

So, met my deeglike navorsing en versugtinge van die laaste paar maande, vertel ek gretig van die mooi matte op die internet en ek sien sommer die blouerige een met die laslappie ontwerp in my vriendin se oopplan-sitkamer gestalte kry en en alles aan mekaar kom bind. 
Ek vertel ook presies hoe mooi die mat van my drome is en wat ek bereid is om op die oomblik op die spel te plaas daarvoor, toe ek skielik my eie rooi-mat storie onthou. Ek sak my kop (spreekwoordelik) in skaamte, terwyl ek verder babbel  en in my hart gee ek al my begeertes oor…maar laat ek verduidelik: 

‘n Hele paar jaar gelede was ons huis die toonbeeld van die rustic-afri-franserige- look. Neutraal, 'n bietjie romanties en verfynd. Voorspelbaar. Glad nie ons nie. Die probleem was opgesluit in die "neutraal". Ek het die dekor  opgekikker met ‘n spatsel duck-egg blou – ‘n veilige opsie, maar vir my spicy man was nog ‘n skakeuring van “vaal” net een te veel. 

In dieselfde tyd begin die kleur rooi toe tydig en ontydig opduik in my lewe.  Wanneer ek ‘n present kry, is dit rooi. ‘n Rooi bloes met goue vere op van my skoonsus, ‘n rooi bedlampie en fotoraam van my vriendin op my verjaarsdag. ‘n Rooi voorskoot en bypassende vatlappies van my huishulp af. ‘n Vriendin daag by my op met ‘n wit fotoraam en ‘n bloedrooi hartjie binne in. Sy verduidelik dat sy bloot ervaar het dat sy vir my ‘n groot rooi hart moes gee en dit is nou die naaste wat sy daaraan kan kom, jammer daaroor - maar sy vertrou ek sal verstaan?  Die matkwessie-vriendin voel weer geinspireerd deur ‘n droomstorie wat ek gedeel het en sy teken ‘n portret: Ek vlieg deur die lug met die mooiste rokkie aan en dit het natuurlik rooi hartjjies al om die soom en op die rante van die canvas.  My liefste man gee vir my ‘n rooi Nespresso Koffie masjien en die laaste strooi is die rooi ketel vir ons gasstoof, wat ons by my ouers kry vir ons huweliks-herdenking. 

Rooi klokkies begin oral in my gedagtes lui en my ore tuit vir ‘n verskuilde boodskap. Rooi  was nog nooit my kleur nie. 

In die rooi seisoen van my lewe, met die krapperigheid oor ons neutrale dekor tema, besluit ek en my man dit is tyd om ‘n kopskuif te maak. Ons persoonlikhede is nie net duck-egg-neutraal nie. Nee. Ons kort warmte en kleur. Hy voel duidelik onderverteenwoordig tussen al die blougroen en skakeurings van aards. Sy voorstel? “ Wat van ‘n bietjie rooi?” Natuurlik. 

In ‘n gesprek met my life-coach (wat my op daardie stadium help krap in my kop waar ek nie self kan bykom nie), duik rooi weer op. Ek lag sommer hardop – my huiswerk? Om rooi ten volle te ondersoek. Wat beteken dit vir my? Hoe voel ek oor rooi? Hoekom vermy ek dit? Dit word ‘n ontdekkingsreis en konfrontasie met myself wat uiteindelik tot die slotsom lei dat niks my van Sy Liefde kan skei nie…

Maar waar pas die rooi mat in, vra jy?

Sien, elke middag wanneer ek op (of af) ry in Dorpstraat, ry ek verby ‘n antieke winkeltjie wat interessante meubels op hulle stoep verkoop. Ons het die kinders se baba bedjie byvoorbeeld, jare gelede, daar gekoop. Ek het ook al ‘n hele paar keer ander  goed begeer wat op die sypaadjie loer, maar weens die gebrek aan parkering en die feit dat ek gewoonlik haastig oppad is na die volgende ding, maak dit dat ek net stop as dit regtig na besigheid lyk. So, my kop draai outomaties in die ringting van die winkeltjie (uit gewoonte en nuuskierigheid) toe ek eendag die nuwe Matplek langs die winkel opmerk. ‘n Reuse groot mat is oop gegooi voor die ingang. Bloedrooi met die helderste kleure wat ek nog in ‘n mat gesien het. Daar is bottergeel, skelpienk, grasgroen en blou patrone. Stilletjies in my hart dink ek dat dit nou eintlik die perfekte vertrekpunt sou wees om ons nuwe, kleurvolle dekor-reis te begin. Daar is baie rooi in die mat, maar daar is genoeg ander kleure vir my om mee te speel. 

Vir weke ry ek verby die winkel en die mat. Ek groet beleefd die helder kleure en ry verby. Dit moet ‘n PLAAS se prys kos. Ek gaan defnitief nie stop nie. 

So is ons een Sondag oggend oppad na my skoonmense toe, toe ons verby die matwinkel ry en lees:

 “FINAL CLEARANCE AUCTION TODAY FROM 12PM. EVERYONE WELCOME” 

My hart sak in my skoene. Ek sal my mat nou defnitief finaal moet groet. ‘n Plaas se geld het ons nie. Sonder om te dink vertel ek vir Manlief van die helder rooi mat en hoe dit nou eintlik perfek sou werk om ons sitkamer aan die gang te sit met ‘n nuwe kleurskema en dat ek nog nooit soveel helder kleure bymekaar gesien het op een mat nie, maar dat dit onmoontlik groot en duur moet wees.  
Tot my verbasing antwoord hy met ‘n entoesiastiese: “Moet ons ‘n kans vat?” Ek is uit die veld geslaan. Ons is al klaar amper laat vir die Vadersdag ete by Skoonmense, hoe op aarde gaan ons dit nou regkry? Maar Manlief bel ‘n vriend se studente-kind en vra waar hy is. “Nee Oom net om die draai van Dorpstraat – hoe kan ek help?” Toeval? Manlief verduidelik dat ons ons oog op ‘n mat het. Die veiling gaan oor ‘n paar minute begin. Sien hy kans om namens ons te bie? Nie hoër as hierdie bedrag nie… Studentekind stem in en ons ry weg. Ek is nie eens bekommerd nie. Die bedrag en die groot mat gaan nie strook nie. Ek maak vrede. Ten minste het ons probeer. 

Vadersdagete is in volle swang en omdat ons niks verder hoor nie, neem ons aan dat die bie-ery nie suksesvol was nie. Ons is net reg vir die poeding toe Manlief se foon lui: “ Oom, dit is die groot helderrooi mat wat julle wou gehad het, né?” Manlief sê ja. Ek luister by sy oor. “Oom ek het hom vir julle gekry, maar die mense wat saam gebie het, is bietjie ongelukkig. Hulle wil oorbie. Niemand het raakgesien dat dit DIE mat was waarop ons bie nie. Hulle dog dit is ‘n ander, kleiner een. Mense bied nou dubbel die bedrag aan vir die mat, maar die winkel het mos klaar die bod toegestaan? Ek dink Oom moet gou deurkom.” My wind is uit. Ek is stom verbaas. Hoe is dit moontlik? Die 3m x 4m reuse mat is verkoop teen die prys wat ons gemaak het! Manlief gryp dadelik sy sleutels en ry deur. Ek dink hy kan dit self nie glo nie. Ons het wraggies die mat gekry!

Na ‘n lang wag vir (enige) tyding, bel Manlief. Hy hét die mat. Almal in die winkel het hom geluk gewens met die winskopie van die eeu en die eienaar het hom (bietjie onwillig) toegelaat om dadelik te betaal en die mat in te laai. Hy kom gou deur om ons op te laai. 

By skoonmense aangekom is almal nuuskierig oor die mat. (Ek het natuurlik in die tydjie wat Manlief weg was, die prentjie vir die familie ingekleur.)  Ons gooi die mat oop op die grasperk voor die voordeur. Dit lê die hele voortuin toe.  Ek lag vir my ongeloof en hoe fyn my Hemelse Vader geluister het na ‘n klein fluistering van my hart. Ek het nie eens gedink Hy hoor nie. Dit het net te onmoontlik gelyk. En hier lê die mat nou voor my. Helderste kleure waaraan jy kan dink wat vrolik teruggroet in die wintersonnetjie. ‘n "Kick-start" vir ‘n nuwe dekor avontuur in ons huis. ‘n Verteenwoordiging van ons almal se uiteenlopende persoonlikhede, saamgeweef in ‘n harmonie van kleure en patrone…

Nou,  jare na die rooi mat insident, dink ek weer aan die blougroen Nostalgia-Saphire-Hertex-mat en gister se gesprek. Dié mat voel  nou vir my effens flouerig. Ek wil net die mat hê, as dit weer van Hom af kom. Hoe kan ek nou wil uitmis op so ‘n avontuur? En dinge op die spel plaas vir iets wat bloot net vir my mooi is? Nee wat internet mat – ek sal geduldig wag vir my Tapyt en al die ander versugtinge van my hart.

Hy is ‘n Goeie Vader.

Hy weet wat ons nodig het EN wanneer. Soek ons eers na Hom en Sy Geregtigheid, word hierdie  dinge sommer so bygevoeg. Hy kom en bind ons gesin opnuut en kleurvol aanmekaar, wat krapperig was in neutraal. Dit klink meer soos Sy Koninkryk. 

Ek vertrou op Hom, want selfs mat-avonture is in Sy repertoire. En regtig, niks kan ons van Sy liefde skei nie!

Maandag 24 Augustus 2020

'n Skapie in Wolfsklere

 Brutus, ons Duitse Herdershond, is ‘n gróót hond. Hy is ‘n BEAUT. Mooiste gelaatstrekke en profiel. ‘n Stert wat nét reg krul. Geen heup of gewrigsprobleme nie – en die dierbaarste geaardheid waaraan jy kan dink. 

Sy impossante gestalte skrik menigte verbyganger af om die klokkie te lui of miskien per ongeluk by ons erf in te kom. (Min wetend dat hy wat Brutus is, geen hond haar af sal maak nie en totaal onbewus is van die effek wat hy op sy aanskouers het) 

Wanneer Brutus blaf, is dit régtig net vir ander honde. Só, as jy per ongeluk voor die hek staan en iemand anders stap agter jou met ‘n hond verby – kan jy dalk geflous word om te dink dat Brutus ‘n kwaai hond is. Hy is nie. Ons studente huurders wat op die erf bly stap gereeld met hom. Vir die jong dames is hy die perfekte metgesel: goeie afskrikmiddel, gehoorsaam, saggeaard. 

Brutus was nog nooit die Alpha nie. Ons het hom nou al so min of meer 7 jaar  lank en in daardie tyd het hy my al soveel keer verbaas. (En ‘n bietjie in my mou laat lag vir sy lafhartigheid.) 

Hy dink hy is klein. En Magteloos. 

Ons Skottie, Max, sou byvoorbeeld doodluiters op Brutus se bed gaan lê asof dit aan hom behoort; dan sou Brutus, sleepstert en vraende oë aan my kom stamp todat ek opstaan en vir Maxie van sy bed afjaag. Max was ‘n tiende van sy grootte. Of Brutus sou byvoorbeeld glad nie opklim na ons stoep toe, wat so 60cm van die grond af was nie. Hy sou elke keer omstap en die stoep van die huis se kant benader. Maak nie saak hoeveel keer ons hom roep of paai of help om op te klim nie. Hy kan nie. Of eerder hy dink hy kan nie. 

Hy is uit en uit geteel met ‘n gesinshond-temperament. Gemaklik tussen mense en kinders en ek is dankbaar daarvoor, maar daar is nadele aan die feit dat hy (ENIGE) mens se beste vriend is. 

Sy mensliewendheid het hom al ‘n paar keer in die sop laat beland. Ek moes hom al by Animal Welfare gaan haal wanneer hy by die hek uitglip en heel gemaklik saam met ‘n vreemdeling begin stap of in hulle kar spring. Hierdie Honde- Mamma se einde: Lang trane , groot soektog. 

Gelukkig red sy voorkoms hom dan gewoonlik. Hy lyk net té Koninklik teenoor die gehawendheid van die bedelaarman wat ‘n leiband met sy gordel geprakseer het. (Dankie tog die prentjie het nie vir die sekuriteitswag in ons buurt sin gemaak nie.) Of hy is bietjies te groot vir die hawelose kindertjies wat in die parkeer area by die Mall met hom speel – ‘n kilometer van ons huis af… 

Die dag toe ‘n inbreker dit wel waag om, Brutus se voorkoms ten spyt, oor ons muur te spring en ons huishulp die man skreeuend verwilder het uit die tuin, het Brutus swaaistert langs die misdadiger gesit asof hy maar net te bly is vir die nuwe geselskap in ons erf.  Sonder om te blik of te bloos of te blaf. 

Vir Manlief irriteer dit , nodeloos om te sê, tot in sy kleintoontjie. Hy is baie lief vir die hond, maar voel dit is : “Net nie reg nie” Al die ‘spunk’ is volgens hom uit die hond geteël. Ek stem tot ‘n mate saam…dierbaar is hy wat Brutus is, maar braaf (?) nie juis nie. 

My eie irritasie met die hond, lê egter op ‘n ander vlak. 

Die manier waarop Brutus homself sien, herinner my aan die manier waarop ons baie keer die lewe benader. 

Met sy groot lyf, sterk spiere, skerp sintuie, en reuse kake lewe Brutus tussen ons soos ‘n skoothondjie. Hy besef glad nie waartoe hy instaat is nie. Ons wat saam met hom lewe, is dankbaar daarvoor. Dit versteur nie ons gemaklike lewe saam met hom nie. Ons moedig dit eintlik aan. 

Dit laat my dink aan die ou storie van die arend wat tussen die hoenders grootgeword het en nooit besef het dat hy kan vlieg nie! 

Onderdruk ons nie ook baie maal die “Brutus” binne ons nie? Ons wil tog net nie die mense rondom ons ongemaklik maak nie. Of ons ware kleure wys nie. Of die status quo-appelkarretjie omgooi nie. Ons voel net te blootgestel. 

Ons vergeet dat die Leeu van Juda binne in ons elkeen, wat Jesus Christus aangeneem het, bly. ‘n Vorstelike Krag wat by Magte is om vêr meer te doen as wat ons ooit kan bid of dink. ‘n  Kreatiewe, Liefdevolle, Genesende Krag. Die Redder van die Wêreld. Vredevors. Immanuel. 

Al wat ek kan aflei is dat ons bang is vir wat dit kan beteken? Wanneer ons die skrefie van ons hart se deure oopmaak en verblind word deur die Grootsheid van Sy drome vir ons en die begeertes wat Hy in ons harte geplaas het, voel ons oorweldig. 

Ons slaan die  deur toe. Ons probeer onsself oortuig dat dit wat ons daar binne sien, ‘n illusie is en lewe dan verder in die eintlike leuen-wêreld wat ons vir onsself skep. Daar waar ander mense gemaklik voel in ons teenwoordigheid en Syne nie is nie. 

Ons onderdruk die knaende gevoel dat ons eintlik vir soveel meer gemaak is en raak afgestomp daarvoor. 

In die geval van Brutus, weet ek dat dit vir ons almal beter is dat hy nie weet wat sy potensiaal as wilde dier sou wees nie. Maar ek voel tog jammer vir hom. Hy is ‘n groot wolf wat na homself kyk as ‘n baba lammetjie. 

Nee. 

Ek wil die Leeu in my ontdek. Ek wil voel met my hart se deur wa-wyd oop. Ek wil inkyk en sien hoe Sy Heerlikheid manifesteer in my lewe en deur my vloei. Ek wil uitvind waarheen  Sy potensiaal my kan lei en ek wil Sy Koningskap in my ten volle ervaar. Soos in die Hemel – so ook op die aarde. 

‘n Skoothondjie -verseker nie! 

Sela. 

Visserskind

Ek wonder hoe het jy gevoel

Daardie dag toe Hy staan

In die aandlug se koel

En jy

‘n Klein seuntjie

 met ‘n hemelse doel

 

Toe Sy oë vir jou glimlag

 asof Hy weet

En jy dalk eers jou geskenkie

se waarde wou meet

 

Toe die Man wat diep in jou siel inkyk

Jou eenvoudige kinder-kosblik gebruik

Om vir al die baie (duisende) mense

Siekes, gesondes, dromers, wensers…

Hulle honger na lewe en iets wat kan voed

Kom aanspreek en heelmaak en weer moed

Uitdeel  vir ‘n nuwe werklikheid

Een van oorvloed en liefde en dankbaarheid

Toe Hy sê: “ Bring wat jy het. Dit is Genoeg.

Ek kán jou gebruik.

 Ek plant.

Jy oes.”

Vrydag 14 Augustus 2020

Storm

 Stormagtig is die see in my

my voete voel onvas

soveel vrese wat my beet kan kry

in my gedagtes en my hart


Maar dis asof hierdie heen en weer

en golwe wat my bootjie slaan

my laat fokus op my eie seile

en die rigting wat ek gaan


vir lank was daar 'n ligte wind

 'n paar deinings nou en dan

waar ek ligweg net kon koes

en vashou aan U hand


maar hierdie is 'n ander storm

dit woed en skud en breek

sodat ek als wat ek al geleer het

nou een vir een probeer


Ek roep in desperaatheid

 stemloos deur die storm se geraas

U antwoord met 'n sagte stem 

en vrede wat my weer verbaas


"My genade is genoeg vir jou. 

Vir Ewig. Weer en Weer. 

Ek het My asem in jou ingeblaas. 

Kom sit weer alles neer."



Maandag 03 Augustus 2015

Kapasiteit

‘n Goeie vriend van my het die irriterende gewoonte om in nuwe geselskap een of ander tyd hierdie vraag te vra: “ As jy enige iets met jou lewe kon doen en jy versker was dat daar geen struikelblokke in die pad sou wees nie, wat sou jy doen?” Amper soos  om vir ‘n kind te vra: “ Wat wil jy eendag word as jy groot is?” Dit is ‘n vraag wat die meeste mense aanvanklik bietjie ongemaklik maak en onkant vang.  Sy volgende vraag is dan gewoonlik: “ Wat keer jou om dit nie te doen nie?” In die 15 jaar wat ons al vriende is, was daar nog net twee mense wat kon antwoord dat hulle presies doen waarvan hulle kleintyd gedroom het. In altwee hierdie gevalle het dit opoffering gekos. Die lewe het eers ‘n paar draaie met hulle geloop todat hulle uiteindelik op ‘n kruispad te lande gekom het en die groot sprong na ‘n “droom” geneem het. Net twee mense (!) wat regtig doen wat hulle nog altyd graag wou. Dit het my bietjie laat dink oor God se droom vir ons lewens. Daardie knaende gedagte of ding wat jy nog altyd graag sou wou doen of probeer: “ Eendag” of “ As jou skip inkom” of  “ as jy bietjie losser is by die werk/huis en meer tyd het”…
Vanoggend lees ek weer die stukkie in Matt 6:25-34 waar Jesus vertel van die voëls en die lelies en hoe ons Hemelse Vader vir hulle sorg. ‘n Vader wat al ons bekommernisse op Hom wil neem (1 Petrus 5:7 ) en ons wil help om soos lelies te blom waar ons geplant is…
Hierdie Vader wat vir ons die Goeie Nuus gebring het. Wat ons in Christus Jesus meer as oorwinnaars maak. Wat ons tot ALLES in staat maak en selfs die slegste ervarings ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet en geroep is om Sy wil te doen. (Rom 8:28)
Hoe sal jy hierdie vrae beantwoord as ek vir jou sê dat die somtotaal van jou vorige ervarings jou perfek voorberei het vir dít wat ons Hemelse Vader vandag deur jou wil doen? Dat Hy deur dit alles jou kapasiteit vergroot het, sodat Hy jou kan gebruik soos nog nooit tevore nie? Sy strategie vir jou lê opgesluit in wie jy is. Jy is spesifiek gemaak met ‘n doel. Al lyk dit soms nie vir die wêreld (of vir jou) so nie. Sy drome vir jou is groot en ongelooflik. Hy wat ‘n koning van ‘n skaapwagter soos Dawid maak, ‘n leier soos Moses van iemand wat sukkel om te praat. ‘n Krygsman van ‘n bang Gideon en die lys hou aan en aan…
As jy vandag voel soos ‘n lepel wat as ‘n graaf gebruik word, laat Hom toe  om saam met jou te droom oor jou lepel status, voor jy daardie lepel in die dak steek… ;-)

"...Our deepest fear is not that we are inadequate.
Our deepest fear is that we are powerful beyond measure.
It is our light, not our darkness that most frightens us.
We ask ourselves, Who am I to be brilliant, gorgeous, talented, fabulous?
Actually, who are you not to be?
You are a child of God.
Your playing small does not serve the world.
There is nothing enlightened about shrinking so that other people won't feel insecure around you.
We are all meant to shine, as children do.
We were born to make manifest the glory of God that is within us.
And as we let our own light shine, we unconsciously give other people permission to do the same.
As we are liberated from our own fear, our presence automatically liberates others."'A Return To Love' (1992) by Marianne Williamson
Matthew 6:25-34
Do Not Worry
25 “Therefore I tell you, do not worry about your life, what you will eat or drink; or about your body, what you will wear. Is not life more than food, and the body more than clothes? 26 Look at the birds of the air; they do not sow or reap or store away in barns, and yet your heavenly Father feeds them. Are you not much more valuable than they? 27 Can any one of you by worrying add a single hour to your life[e]?

28 “And why do you worry about clothes? See how the flowers of the field grow. They do not labor or spin. 29 Yet I tell you that not even Solomon in all his splendor was dressed like one of these. 30 If that is how God clothes the grass of the field, which is here today and tomorrow is thrown into the fire, will he not much more clothe you—you of little faith? 31 So do not worry, saying, ‘What shall we eat?’ or ‘What shall we drink?’ or ‘What shall we wear?’ 32 For the pagans run after all these things, and your heavenly Father knows that you need them. 33 But seek first his kingdom and his righteousness, and all these things will be given to you as well. 34 Therefore do not worry about tomorrow, for tomorrow will worry about itself. Each day has enough trouble of its own.

Woensdag 08 Julie 2015

Klippie in my skoen...

Om “‘n klippie in die skoen te hê”  is ‘n goeie beskrywing van irritasie en wat dit beteken om geirriteerd te wees. Iets is net nie lekker nie, al is dit eintlik onbenullig klein. Dit is gewoonlik ook nie iets wat net "eenmalige wrywing" veroorsaak nie. Nee, die meeste van ons kan onvoorsiene ongemak redelik goed hanteer, indien dit net een keer gebeur.  Dis die herhaling  van die ongemak wat irritasie veroorsaak. Soos ons tuimeldroeër se hartseer: "kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee"wat die kenwysie van koue reënerige dae word. (As dit ‘n redelike ou tuimeldroeër was, kon ek dit dalk nog verstaan, maar dié kermkous is maar skaars ‘n jaar oud! Met ‘n “sagte” siklus kamtig ingebou, wat soos die winter aanstap al hoe minder sag word…)

Daar is waarskynlik, soos met die klippie in die skoen, ‘n eenvoudig oplossing vir die skawende-staal-liedjie wat die tuimeldroeër sing. Ek vermoed  dit is so eenvoudig soos olie. ‘n Buffer tussen die onderdele wat mekaar (my!) so skaaf. En ek vermoed dat dit ook die oplossing is vir die meeste irritasies in ons lewens, groot en klein:  Olie.
   
Vars olie in ons lampies en ‘n salwing om ons skaniere weer goed aan die werk te kry. ‘n Buffer wat  wat ons nodig het om ons teen die alledaagse wrywing in die lewe te beskerm.
Sonder so ‘n buffer is ons soos staal op staal. Ons verweer mekaar en belemmer eintlik ons eie funksionaliteit. Ons het in die eerste plek die Gesalfde nodig. Christus Jesus, wat letterlik “om gesmeer te wees” beteken. Jesus wat drup van God se Teenwoordigheid en Sy Heilige Gees wat ons ook Gesalfdes maak. Ge-olie en gerat vir dit wat oor ons pad mag kom.

Dat daar wrywing oor ons pad gaan kom is ‘n feit. Ons kan dit nie vermy nie, maar wanneer ons ge-olie is, is die irritasie soos ‘n sandkorreltjie binne in ‘n oesterskulp. Die irritasie wat afvryf aan die binne-kant van die skulp, vorm in plaas van ‘n letsel, ‘n volmaakte pêrel. ‘n Kosbare skat uit dit wat eintlik veronderstel was om skade aan te rig. Soos die irritasies ons binnekom, laat ons Hom toe om daaraan af te vryf, todat dit volmaak is, al neem dit soms 'n tydjie en al is dit ongemaklik. Hy is besig met n meesterstuk.

So, mag ons vandag ons irritasies olie. Mag die Heerlikheid van Christus en die Heilige Gees afvryf en pêrels vorm in ons binneste waar daar dalk klippies vassit, sodat dit wat gestuur was om letsels te bring, ‘n kosbare juweel word. ‘n Offerhande wat ons vir Hom kan terug gee met vreugde.

Psalm 100:4
Enter his gates with thanksgiving, and his courts with praise! Give thanks to him; bless his name!

Revelation 21:21

The twelve gates were twelve pearls, each gate made of a single pearl. The great street of the city was of gold, as pure as transparent glass.