Woensdag 13 April 2011

Vergif

Wat behels dit om te vergewe?

Beteken dit 'n mens moet iets ontken? Maak asof dit nooit gebeur het nie? Beteken dit jy vee iets uit of kry jy tydelike amnesia oor dit wat jou ontstel het? Of begrawe jy dit êrens in die tuin van jou hart en ignoreer die onkruid wat later daar opkom? Wat behels dit?

Vergifnis

Dit klink giftig. Dalk het dit iets daarmee te doen. Om nie meer toe te laat dat iets of iemand jou vergiftig nie. Vergifnis, soos in vergifNIKS. 'n Antidote vir dinge wat ons siek maak en vergiftig. Dinge wat ons dalk tydelik verlam of verblind. Ons harte gaan laat staan, sodat dit nie meer warm kan klop nie.

Ver-gewe impliseer dat jy iets het om te gee. Dalk vir iemand (jouself?) die kans gee om voor te begin? Die onus rus dan op jou - en nie noodwendig op die persoon wat in jou oë oortree het nie. Jy kan dit gee. Die bal is in jou hande. Ons wil gewoonlik eers 'n verskoning hoor. Die ander party moet die eerste skuif maak. Ons wag vir die dag van konfrontasie waarin almal sal sien dat ons toe al die tyd reg was of erken dat hulle verkeerd opgetree het. Die probleem is net dat dit dalk nooit gebeur nie. Intussen groei die gifmonster in ons harte en versteen die buigbare spiere wat voorheen makliker mee gegee het.

Maar hoe raak 'n mens dan van hierdie gif onstlae? Ek dink ons hou partykeer al so lank daaraan vas dat dit voel asof ons hande afgekap is. Dit voel asof ons niks meer daaraan kan doen nie, terwyl ons eintlik net ons hande moet oopmaak en dit moet laat los. Dink net hoeveel meer jy kan doen met jou hande as jy nie die hele tyd aan so iets hoef vas te hou nie! Swaar gif kan net so laat staan word as ons die Here toelaat om dit by ons te vat. Ons moet net ons hande oopmaak en dit, wat ons vergiftig, vir Hom gee. Dit is regtig so eenvoudig (al is dit nie noodwendig so maklik nie).

En dan? As ons weer êrens gif in die hande kry moet ons dit aan-pass soos 'n warm patat en nie toelaat dat dit eers kans kry om ons bloedstroom binne te dring nie. Ek is seker  dit sal, soos enige goeie gewoonte, in-oefening kos, maar wat 'n verligting om nie meer vergiftig te voel nie!

VergifNIKS = VERGIFNIS

NS: Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat ons vir alles vergewe is deur dit wat Jesus kom doen het nie?! Hy hou niks meer teen ons nie - Hy dink nie eers meer daaraan nie. Dis asof dit nooit gebeur het nie...