Woensdag 24 Julie 2013

Pampierie en Trantralie

Tussen hier en daar en wie weet waar is die Jasbos. Die Jasbos is vol allerhande gediertes wat gelukkig saam woon en werk. Dit is ’n wonderlike bos met vreemde plante, groot riviere en die meeste blomme en vrugte wat jy nog ooit gesien het!

In die bos is daar ’n grot. Voor die grot lê ’n rots met ’n klein skeurtjie daarin – dit is die enigste manier om in die grot te kom. In die grot woon twee gediertes. Die een gedierte is ’n lang maer diertjie met sagte wit pels en ’n  skerp bekkie. Sy naam is Pampierie. Hy kan baie goed vlieg met sy dun vlerkies en ook die pragtigste liedjies sing. Saam met Pampierie bly Trantralie. Trantralie is weer ’n ronde gedierte met groot ronde oë en ‘n growwe pels. Hy kan sy kop en sy pote in sy lyfie intrek sodat dit amper lyk asof hy net ’n ronde balletjie is.

Elke dag vlieg Pampierie tot bo in die grot en dan deur die nou rotsskeur Jasbos toe. Daar sing hy die wonderlikste liedjies en pluk sappige bessies heel bo in die bome sodat hy en Trantralie daarvan kan eet. Dit is ’n belangrike werk.

Trantralie kan nie vlieg nie en daarom bly hy elke dag by die huis. Sy gunsteling tyd van die dag is wanneer die son deur die rotsskeur skyn en hy vir Pampierie hoog bo in die bome kan hoor sing. Dan maak hy sy lyfie bol en rol heen en weer oor die grotvloer todat hy pootuit op sy magie gaan lê en wag vir Pampierie om terug te kom.

Terwyl hy wag, wonder Trantralie baie keer hoekom hy so ’n ronde lyfie het. Hy het al probeer om deur die rotsskeur te klim, maar sy lyfie is net te rond! Hy sal darem ook graag wil sien hoe dit daar buite lyk. Dan oefen hy in die stilligheid om sy maag plat in te trek sodat hy ook eendag deur die rotsskeur kan klim en bessies kan gaan pluk. Maar maak nie saak hóé  hard Trantralie probeer nie, sy lyfie kan maar net nie platter nie. Dan gaan rol hy maar weer op die grotvloer en luister met toe oë na die wonderlike geluide van die Jasbos wat by die rotsskeur inwaai.

Toe die dae weer al warmer begin word, weet Trantralie dat Pampierie ekstra lank sal wegbly. Op so ’n dag besluit hy om te kyk of hy nie sy magie al plat genoeg kan intrek om deur die skeur te pas nie.

Dit is ’n baie lang klim tot bo in die grot en Trantralie is skoon uitasem toe hy uiteindelik by die skeur aankom. Eers steek hy net sy agterpoot deur. Toe sy voorpoot en toe hy sy ander agterpoot wil insit, sit hy … VAS! Benoud druk hy aan die kante van die skeur om sy pote uit te kry. Hy druk en trek en druk en trek en toe…PLOP!! skiet hy los en bons teen die ander kant van die grotmuur vas! Trantralie knyp sy oë styf toe en bons so hard dat hy wéér ‘n keer terug skiet! So bons-bons-bons hy tot heel onder in die grot. Gelukkig het jy ‘n dik growwe pels wat hom beskerm! Toe hy uiteindelik tot stilstand kom draai sy kop en hy voel effe snaaks.

Versigtig maak hy eers sy een oog –en toe sy ander oog oop. Alles om hom lyk ‘n bietjie vreemd! Hy was nog nooit in hierdie deel van die grot nie! Hy knip sy oë ‘n paar keer en dan sien hy ‘n dun ligstraaltjie wat op die vloer van die grot ‘n ronde kolletjie maak. Hy trek sy kop en sy pote in en rol al agter die ligstraaltjie aan.

Die lig raak al hoe helderder en tot sy groot verbasing rol hy tot by ‘n gaatjie in die rotswand waardeur die lig skyn. Die gaatjie is koeël rond! Perfek vir sy ronde lyfie! Hy steek eers sy agterpoot deur, toe sy voorpoot en toe sommer sy hele lyfie. Dit pas perfek! Opgewonde rol hy na buite en daar sien hy vir die heel eerste keer die pragtige Jasbos! Daar is plante van allerhande kleure en klein ogies wat vriendelik om elke bossie en blaartjie loer.

Êrens hoog bo-kant hom kan hy vir Pampierie hoor sing! Hy maak sy ogies toe om te luister en skrik nogals toe ‘n diep stem hier langs hom sê: “Hallo daar Trantralie! Ons het vir jou gewag!”

Trantralie probeer sien wie dit is wat nou met hom praat. Eers kyk hy langs hom dan agter hom en toe loer hy tussen sy bene deur…maar hy sien niemand nie.
“ Hier is ek. Hier bo,” sê die die stem weer. Trantralie kyk op. Langs hom staan ’n massiewe boom. Hy kyk stip daarna en dan sien hy dit…die boom het ’n glimlag...groot vriendelike oë en… die takke is sy arms! “Ek is Kasper, die oudste boom in die Jasbos.” “E..e.. hoe weet jy wat my naam is?” vra Trantralie baie braaf. Die ou boom glimlag en sê: “Almal in die Jasbos het ’n werkie om te doen. Ons almal is spesiaal en verskillend gemaak. Van die begin van tyd af is daar gediertes hier in die bos wat sorg dat almal gelukkig en tevrede kan saamleef. Die dag toe jy uitgebroei het, het daar ‘n klomp saadjies onder die grond gaan lê. Hulle lê en wag vir jou sodat hulle blomme, bome en selfs vrugte kan word!” Trantralie verstaan nie lekker nie. Kasper verduidelik verder: “Trantralie, ek weet jy hou daarvan om met jou lyfie in ‘n bolletjie rond te rol-” “ O ja!” val Trantralie hom in die rede. “ Dis die lekkerste ding op aarde!” “Nou ja,” verduidelik Kasper, “as jy oor die woud se vloer rol met jou growwe pels, tel jy stuifmeel op en versprei dit deur die Jasbos. Dan kan die plante daardie stuifmeel gebruik om nuwe saadjies te maak. Die saadjies wat onder die grond vir jou lê en wag, het ook nodig dat jy oor hulle rol. Met jou pels maak jy die grond bokant hulle los en kan die reën en sonlig by hulle uitkom. Hulle het dit nodig om te groei!”

Trantralie kan sy ore nie glo nie. Vir hóé lank het hy in die grot gewens hy kan soos Pampierie lyk! Hy het so baie keer probeer om sy lyfie plat te maak en hy wou so graag ook help om bessies bymekaar te maak!! Boon-op het Pampierie geraas as hy so rondrol en al die stof in die grot in die lug opskiet.

“Jy sien Trantralie, sonder jou is daar ’n klomp dinge in die Jasbos wat nie werk nie! Ek stel voor dat jy sommer dadelik met jou spesiale werk begin!”

Trantralie maak opgewonde sy lyfie bol en begin rol. Dit is die lekkerste holderste-bolderste- bollemakiesie-rol wat hy nog ooit gerol het! Hy sien nuwe plante, kleure, eienaardige diertjies en vlinders. Dis asof sy lyfie sommer self die rondrol pad ken! Hy rol hiernatoe en daarnatoe en al die rondte todat hy weer teen Kasper se stam te lande kom.

Trantralie lag uit sy ronde magie uit. Hy weet sommer, daardie gaatjie in die grot, was net vir hom bedoel. Hy sal nou elke dag vir Pampierie in die Jasbos kan gaan luister. Hy sal kan help om bessies bymekaar te maak en hy het ook nou ‘n belangrike werk. Hy kan nie wag om dit vir sy maat te vertel nie. En dit is presies wat hy daardie middag, toe Pampierie by die rotsskeur invlieg, doen! Pampierie is so bly, dat hy sommer ‘n spesiale liedjie vir Trantralie sing, tot vroeg die volgende oggend.

Dit is die mooiste lente wat die Jasbos in ‘n lang tyd gesien het. Al die gediertes is verstom oor  die nuwe kleure en blomme en later, toe die somer kom, smul hulle aan die lekkerste nuwe vrugte. Alles te danke aan Trantralie wat ondek het wat sy werkie is en hoe spesiaal hy gemaak is.


Van daardie dag af woon almal gelukkig en tevrede in die Jasbos. Tussen hier en daar en wie weet waar!

Borrel

seepbelborrel
reënboogglad
uitspring,  opstyg
waternat
glinster en stadig
op en op dryf 
vlugvoets voel voel
sf(i)erige lyf

deur die lug
wikkel en warrel
en sweef
plotseling land
sysag galant
kleure wat kleef
en meng
in die Lig 
swemmende strominge
stop
en dan...
POP!
mooiste 
fynglas
'Oomblik Gedig'  

Saterdag 20 Julie 2013

DNA

U Woord is Gees
en dit gee Lewe
so is ons aanmekaar
gewewe

U het net een woord gesê
en toe die stof gaan lê
kon ons
U beeld
daaruit stap

perfek gemaak
net soos U wou
'n skamele
man en vrou

iets nietigs klein
soos watestof en gas
het die hemelruim verras

die kroon van U skepping
wat orde bring
help herskep
van liefde sing

Selle laat vibreer
met nuwe Lewe
en die sleutel
van dit alles?

in
Vergewe