Woensdag 08 Julie 2015

Klippie in my skoen...

Om “‘n klippie in die skoen te hê”  is ‘n goeie beskrywing van irritasie en wat dit beteken om geirriteerd te wees. Iets is net nie lekker nie, al is dit eintlik onbenullig klein. Dit is gewoonlik ook nie iets wat net "eenmalige wrywing" veroorsaak nie. Nee, die meeste van ons kan onvoorsiene ongemak redelik goed hanteer, indien dit net een keer gebeur.  Dis die herhaling  van die ongemak wat irritasie veroorsaak. Soos ons tuimeldroeër se hartseer: "kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee"wat die kenwysie van koue reënerige dae word. (As dit ‘n redelike ou tuimeldroeër was, kon ek dit dalk nog verstaan, maar dié kermkous is maar skaars ‘n jaar oud! Met ‘n “sagte” siklus kamtig ingebou, wat soos die winter aanstap al hoe minder sag word…)

Daar is waarskynlik, soos met die klippie in die skoen, ‘n eenvoudig oplossing vir die skawende-staal-liedjie wat die tuimeldroeër sing. Ek vermoed  dit is so eenvoudig soos olie. ‘n Buffer tussen die onderdele wat mekaar (my!) so skaaf. En ek vermoed dat dit ook die oplossing is vir die meeste irritasies in ons lewens, groot en klein:  Olie.
   
Vars olie in ons lampies en ‘n salwing om ons skaniere weer goed aan die werk te kry. ‘n Buffer wat  wat ons nodig het om ons teen die alledaagse wrywing in die lewe te beskerm.
Sonder so ‘n buffer is ons soos staal op staal. Ons verweer mekaar en belemmer eintlik ons eie funksionaliteit. Ons het in die eerste plek die Gesalfde nodig. Christus Jesus, wat letterlik “om gesmeer te wees” beteken. Jesus wat drup van God se Teenwoordigheid en Sy Heilige Gees wat ons ook Gesalfdes maak. Ge-olie en gerat vir dit wat oor ons pad mag kom.

Dat daar wrywing oor ons pad gaan kom is ‘n feit. Ons kan dit nie vermy nie, maar wanneer ons ge-olie is, is die irritasie soos ‘n sandkorreltjie binne in ‘n oesterskulp. Die irritasie wat afvryf aan die binne-kant van die skulp, vorm in plaas van ‘n letsel, ‘n volmaakte pêrel. ‘n Kosbare skat uit dit wat eintlik veronderstel was om skade aan te rig. Soos die irritasies ons binnekom, laat ons Hom toe om daaraan af te vryf, todat dit volmaak is, al neem dit soms 'n tydjie en al is dit ongemaklik. Hy is besig met n meesterstuk.

So, mag ons vandag ons irritasies olie. Mag die Heerlikheid van Christus en die Heilige Gees afvryf en pêrels vorm in ons binneste waar daar dalk klippies vassit, sodat dit wat gestuur was om letsels te bring, ‘n kosbare juweel word. ‘n Offerhande wat ons vir Hom kan terug gee met vreugde.

Psalm 100:4
Enter his gates with thanksgiving, and his courts with praise! Give thanks to him; bless his name!

Revelation 21:21

The twelve gates were twelve pearls, each gate made of a single pearl. The great street of the city was of gold, as pure as transparent glass.