Woensdag 08 Julie 2015

Klippie in my skoen...

Om “‘n klippie in die skoen te hê”  is ‘n goeie beskrywing van irritasie en wat dit beteken om geirriteerd te wees. Iets is net nie lekker nie, al is dit eintlik onbenullig klein. Dit is gewoonlik ook nie iets wat net "eenmalige wrywing" veroorsaak nie. Nee, die meeste van ons kan onvoorsiene ongemak redelik goed hanteer, indien dit net een keer gebeur.  Dis die herhaling  van die ongemak wat irritasie veroorsaak. Soos ons tuimeldroeër se hartseer: "kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee"wat die kenwysie van koue reënerige dae word. (As dit ‘n redelike ou tuimeldroeër was, kon ek dit dalk nog verstaan, maar dié kermkous is maar skaars ‘n jaar oud! Met ‘n “sagte” siklus kamtig ingebou, wat soos die winter aanstap al hoe minder sag word…)

Daar is waarskynlik, soos met die klippie in die skoen, ‘n eenvoudig oplossing vir die skawende-staal-liedjie wat die tuimeldroeër sing. Ek vermoed  dit is so eenvoudig soos olie. ‘n Buffer tussen die onderdele wat mekaar (my!) so skaaf. En ek vermoed dat dit ook die oplossing is vir die meeste irritasies in ons lewens, groot en klein:  Olie.
   
Vars olie in ons lampies en ‘n salwing om ons skaniere weer goed aan die werk te kry. ‘n Buffer wat  wat ons nodig het om ons teen die alledaagse wrywing in die lewe te beskerm.
Sonder so ‘n buffer is ons soos staal op staal. Ons verweer mekaar en belemmer eintlik ons eie funksionaliteit. Ons het in die eerste plek die Gesalfde nodig. Christus Jesus, wat letterlik “om gesmeer te wees” beteken. Jesus wat drup van God se Teenwoordigheid en Sy Heilige Gees wat ons ook Gesalfdes maak. Ge-olie en gerat vir dit wat oor ons pad mag kom.

Dat daar wrywing oor ons pad gaan kom is ‘n feit. Ons kan dit nie vermy nie, maar wanneer ons ge-olie is, is die irritasie soos ‘n sandkorreltjie binne in ‘n oesterskulp. Die irritasie wat afvryf aan die binne-kant van die skulp, vorm in plaas van ‘n letsel, ‘n volmaakte pêrel. ‘n Kosbare skat uit dit wat eintlik veronderstel was om skade aan te rig. Soos die irritasies ons binnekom, laat ons Hom toe om daaraan af te vryf, todat dit volmaak is, al neem dit soms 'n tydjie en al is dit ongemaklik. Hy is besig met n meesterstuk.

So, mag ons vandag ons irritasies olie. Mag die Heerlikheid van Christus en die Heilige Gees afvryf en pêrels vorm in ons binneste waar daar dalk klippies vassit, sodat dit wat gestuur was om letsels te bring, ‘n kosbare juweel word. ‘n Offerhande wat ons vir Hom kan terug gee met vreugde.

Psalm 100:4
Enter his gates with thanksgiving, and his courts with praise! Give thanks to him; bless his name!

Revelation 21:21

The twelve gates were twelve pearls, each gate made of a single pearl. The great street of the city was of gold, as pure as transparent glass.

Maandag 08 Junie 2015

Bedagsaam

Be-dag-saam

HAT: be-dag’ b.nw 1 Voorberei: Op alles bedag wees. 2 Uitgedink: ‘n Bedagte ekskuus
be-dag’saam b.nw en bw. Versigtig, met oorleg, nie oorhaastig nie: Bedagsaam optree. ‘n Bedagsame meisie wat ‘n ou tante oor die straat help. bedag’saamheid

Bedags, in ons gejaag na ‘n plekkie in die son, vergeet ons soms om aan ander te dink. Ons wentel om ons eie baan en is behep met alles wat in ons eie sterrestelsel aan die gebeur is. Ons vergeet dat die ander planete hier om ons, besig is met dieselfde stryd en eintlik deel vorm van ‘n baie groter geheel, as dit wat ons met die blote oog kan sien.

 Ons is almal interafhanklik van mekaar en eintlik maar klein deeltjies van die grootste Hemel-Liggaam… ons is Christus se Liggaam in hierdie wêreld. Verskillende dele aanmekaar geweef om as één te funksioneer en op te tree. Om bedagsaam te wees.

Wat beteken dit? 

Ek dink die sleutel lê in “dag”. In die konteks van bedag wees, beteken dit om mooi te dink oor dinge. Dink voor jy doen. Maar: wanneer jy bedagSAAM is, gaan dit oor meer as een persoon. Jy word die geleentheid gegee om die DAG te wees in iemand se nag. Jou geDAGte, wat dan oorgaan in ‘n aksie, laat die son deurbreek en die Lig skyn.  Daar is 'n omwenteling en die lig breek deur...


So, kom ons wees vandag bedag op ons gedagtes en laat onsself toe om be-DAG-sáám te wees.

Acts 2:44
 44 And all the believers met together constantly and shared everything with each other, 45 selling their possessions and dividing with those in need. 46 They worshiped together regularly at the Temple each day, met in small groups in homes for Communion, and shared their meals with great joy and thankfulness, 47 praising God. The whole city was favorable to them, and each day God added to them all who were being saved.

Dinsdag 02 Junie 2015

Hoe diep?

Hoe diep wil jy liefgehê word?

Die laaste ruk is ek nogals gekonfronteer met hierdie vraag in my eie lewe.

Hoe diep wil ek Liefde toelaat?
Wat beteken dit om "diep" Liefde te ontvang?

Die eerste beeld wat by my opgekom het was die een in Openbaring 3:20. Jesus staan by die deur van ons harte en klop, sodat Hy 'n feesmaal saam met ons kan hou...

MAAR dis asof Hy hierdie keer nie net aan my voordeur of "huisbesoek sitkamer" -deur kom klop het nie. Hy wil ook inkom in die kamers waar ek dalk nie so gemaklik is met Hom daar nie. Dalk die badkamer waar die pype al lank verstop is en dit sleg ruik, of die slaapkamer waar die mure kraak. Die braai-kamer met die vorige aand se paartie en al die kaste waar jare se geraamtes vol stof lê...

Hy wil in elke hoekie van die huis 'n feesmaal hou, maar Hy is 'n gentleman. Hy wag vir ons om die deure oop te maak sodat Hy al die geraamtes en plumbing kan uitsorteer. Ons moet Sy Gees daar toelaat. Hulle Drie maak die perfekte make-over span.

Die tweede beeld waaraan ek gedink het, is dié van 'n spons. Ons is emosionele en ervarings-sponse. Deur die loop van ons lewens absorbeer ons dit wat oor ons pad kom en wat infiltreer deur ons spesifieke persoonlikheid en menswees. Goeie en slegte dinge. Goeie en slegte filters. Dit maak ons wie ons is.

Ons sponse groei en verhard (of versag) op sekere plekke soos ons sekere emosies toelaat en vasvang in ons netwerk van Self.

Wanneer ons dan onder druk is, vloei dit wat ons oor die jare vasgevang / ge-absorbeer het, na buite. Binne elke situasie is daar dan ook die potensiaal om nuwe dinge te absorbeer. 'n Spons vol seerkry, lek seerkry na buite en die seer kan dalk weer in 'n ander spons invloei...

MAAR daar is 'n alternatief. Sy Teenwoordigheid. Wanneer ons ons 'sponse' bring na die emmer van Sy Teenwoordigheid en toelaat dat ons seerkry daar uitvloei, kan ons Sy perfekte liefde absorbeer.  Dit neutraliseer die seerkry en maak plek vir vars Lewende Water. Wat is nodig in die proses? Om toe te laat dat Hy saggies op die seer dele van ons sponse druk. Hy weet dat ons dalk net 'n bietjie op 'n slag kan hanteer. Hy is liefdevol, genadig, lank-moedig en Goed. Volgende keer druk Hy dalk 'n bietjie harder sodat Sy liefde dieper kan invloei. Hy wil ons liefhê tot in die diepste-diep van ons wese. Tot daar waar jy gevorm is en waar jy dalk nie eers weet van die harde dele of skewe filters wat jy opgebou het oor die jare nie.

En die uiteinde van dit alles? Wanneer ons toelaat dat Hy invloei en ons vul met Sy Volheid en elke dag lewe in Sy Teenwoordigheid, neem ons daardie emmer saam, waar ons ook al gaan. Ons verander die atmosfeer en raak 'n plekkie waar ander se seerkry kan uitvloei en kan neutraliseer.

Ons raak sponse vol van Hom en Sy Lewende water, sodat ander ook dieper Liefgehê kan word.

Mag ons WEEK in Hom vandag en emmers vol perfekte liefde ronddra sodat ons ander met Sy liefde kan verkwik al vat dit 'n bietjie DRUK van Sy kant af.

2 Corintihans 1: 3-4

3-4 What a wonderful God we have—he is the Father of our Lord Jesus Christ, the source of every mercy, and the one who so wonderfully comforts and strengthens us in our hardships and trials. And why does he do this? So that when others are troubled, needing our sympathy and encouragement, we can pass on to them this same help and comfort God has given us. 5 You can be sure that the more we undergo sufferings for Christ, the more he will shower us with his comfort and encouragement. 6-7 We are in deep trouble for bringing you God’s comfort and salvation. But in our trouble God has comforted us—and this, too, to help you: to show you from our personal experience how God will tenderly comfort you when you undergo these same sufferings. He will give you the strength to endure.



Maandag 18 Mei 2015

Blom

Klokblom-pers
Kleine blommetjie
Papierdun  velletjie
Ook jy sing tot Sy eer
Want môre is jy weg
En blom iets anders weer

Dinsdag 16 September 2014

Hibiscus (Roos van Sharon)

oorgegee val ek terug
in kroonblare
se sag

uit my stulp die vrugbeginsel
wat okergeel na hoogtes mik
Hemelwaarts gerig

uit die dieptes van die holte
kan nuwe lewe stip

Ek is ryp en verborge
in die Tuin van die Lewe

mag my geur versprei
mag U my altyd lei
en in die blomme-prag
wat U is
my laat rus

Dou

Nuwe lewe tussen groen gras
alles skoongewas
na die reen en wind en weer
blink die druppels
roerloos stil
wieg
en val versadig neer
diamante blink
 oor die halmpies gestrooi
elkeen met 'n reenboog
wat knipoog
in blou of geel en rooi
'n glinster paradys
in my grasperk
oopgesluit

Appelboord

By die afgrond
moes ek spring
dit, weet ek nou,
was vir my wins
want onder
was U daar gewees
op die groen gras
 speels
 my vasgehou
en koesterend laat voel
hoe sterk U liefde
my omvou

U was daar
 toe ek moes spring
onder die appelboom
het ons gesit
U't my stywer vasgehou
en al wat ek onthou
was sagte lippe op my kop
"Jy is Myne, my Pop"

"Helder Stemme", het U
in my oor gefluister
en ek het geweet
dat ek
van nou af
fyn sal luister

U liefde vir my
is sterker as die dood
dit weet ek nou
ek kon dit voel,
daar in die
Appelboord