Dinsdag 02 Junie 2015

Hoe diep?

Hoe diep wil jy liefgehê word?

Die laaste ruk is ek nogals gekonfronteer met hierdie vraag in my eie lewe.

Hoe diep wil ek Liefde toelaat?
Wat beteken dit om "diep" Liefde te ontvang?

Die eerste beeld wat by my opgekom het was die een in Openbaring 3:20. Jesus staan by die deur van ons harte en klop, sodat Hy 'n feesmaal saam met ons kan hou...

MAAR dis asof Hy hierdie keer nie net aan my voordeur of "huisbesoek sitkamer" -deur kom klop het nie. Hy wil ook inkom in die kamers waar ek dalk nie so gemaklik is met Hom daar nie. Dalk die badkamer waar die pype al lank verstop is en dit sleg ruik, of die slaapkamer waar die mure kraak. Die braai-kamer met die vorige aand se paartie en al die kaste waar jare se geraamtes vol stof lê...

Hy wil in elke hoekie van die huis 'n feesmaal hou, maar Hy is 'n gentleman. Hy wag vir ons om die deure oop te maak sodat Hy al die geraamtes en plumbing kan uitsorteer. Ons moet Sy Gees daar toelaat. Hulle Drie maak die perfekte make-over span.

Die tweede beeld waaraan ek gedink het, is dié van 'n spons. Ons is emosionele en ervarings-sponse. Deur die loop van ons lewens absorbeer ons dit wat oor ons pad kom en wat infiltreer deur ons spesifieke persoonlikheid en menswees. Goeie en slegte dinge. Goeie en slegte filters. Dit maak ons wie ons is.

Ons sponse groei en verhard (of versag) op sekere plekke soos ons sekere emosies toelaat en vasvang in ons netwerk van Self.

Wanneer ons dan onder druk is, vloei dit wat ons oor die jare vasgevang / ge-absorbeer het, na buite. Binne elke situasie is daar dan ook die potensiaal om nuwe dinge te absorbeer. 'n Spons vol seerkry, lek seerkry na buite en die seer kan dalk weer in 'n ander spons invloei...

MAAR daar is 'n alternatief. Sy Teenwoordigheid. Wanneer ons ons 'sponse' bring na die emmer van Sy Teenwoordigheid en toelaat dat ons seerkry daar uitvloei, kan ons Sy perfekte liefde absorbeer.  Dit neutraliseer die seerkry en maak plek vir vars Lewende Water. Wat is nodig in die proses? Om toe te laat dat Hy saggies op die seer dele van ons sponse druk. Hy weet dat ons dalk net 'n bietjie op 'n slag kan hanteer. Hy is liefdevol, genadig, lank-moedig en Goed. Volgende keer druk Hy dalk 'n bietjie harder sodat Sy liefde dieper kan invloei. Hy wil ons liefhê tot in die diepste-diep van ons wese. Tot daar waar jy gevorm is en waar jy dalk nie eers weet van die harde dele of skewe filters wat jy opgebou het oor die jare nie.

En die uiteinde van dit alles? Wanneer ons toelaat dat Hy invloei en ons vul met Sy Volheid en elke dag lewe in Sy Teenwoordigheid, neem ons daardie emmer saam, waar ons ook al gaan. Ons verander die atmosfeer en raak 'n plekkie waar ander se seerkry kan uitvloei en kan neutraliseer.

Ons raak sponse vol van Hom en Sy Lewende water, sodat ander ook dieper Liefgehê kan word.

Mag ons WEEK in Hom vandag en emmers vol perfekte liefde ronddra sodat ons ander met Sy liefde kan verkwik al vat dit 'n bietjie DRUK van Sy kant af.

2 Corintihans 1: 3-4

3-4 What a wonderful God we have—he is the Father of our Lord Jesus Christ, the source of every mercy, and the one who so wonderfully comforts and strengthens us in our hardships and trials. And why does he do this? So that when others are troubled, needing our sympathy and encouragement, we can pass on to them this same help and comfort God has given us. 5 You can be sure that the more we undergo sufferings for Christ, the more he will shower us with his comfort and encouragement. 6-7 We are in deep trouble for bringing you God’s comfort and salvation. But in our trouble God has comforted us—and this, too, to help you: to show you from our personal experience how God will tenderly comfort you when you undergo these same sufferings. He will give you the strength to endure.



Maandag 18 Mei 2015

Blom

Klokblom-pers
Kleine blommetjie
Papierdun  velletjie
Ook jy sing tot Sy eer
Want môre is jy weg
En blom iets anders weer

Dinsdag 16 September 2014

Hibiscus (Roos van Sharon)

oorgegee val ek terug
in kroonblare
se sag

uit my stulp die vrugbeginsel
wat okergeel na hoogtes mik
Hemelwaarts gerig

uit die dieptes van die holte
kan nuwe lewe stip

Ek is ryp en verborge
in die Tuin van die Lewe

mag my geur versprei
mag U my altyd lei
en in die blomme-prag
wat U is
my laat rus

Dou

Nuwe lewe tussen groen gras
alles skoongewas
na die reen en wind en weer
blink die druppels
roerloos stil
wieg
en val versadig neer
diamante blink
 oor die halmpies gestrooi
elkeen met 'n reenboog
wat knipoog
in blou of geel en rooi
'n glinster paradys
in my grasperk
oopgesluit

Appelboord

By die afgrond
moes ek spring
dit, weet ek nou,
was vir my wins
want onder
was U daar gewees
op die groen gras
 speels
 my vasgehou
en koesterend laat voel
hoe sterk U liefde
my omvou

U was daar
 toe ek moes spring
onder die appelboom
het ons gesit
U't my stywer vasgehou
en al wat ek onthou
was sagte lippe op my kop
"Jy is Myne, my Pop"

"Helder Stemme", het U
in my oor gefluister
en ek het geweet
dat ek
van nou af
fyn sal luister

U liefde vir my
is sterker as die dood
dit weet ek nou
ek kon dit voel,
daar in die
Appelboord

Donderdag 04 September 2014

Flolinde die Vrolike Skoenlapper


Flolinde die vriendelike skoenlapper woon in die Fielasbos. Sy het sysagte rëenboogvlerkies en is mal daaroor om deur die digte bos te vlieg en na al die wonderlike plante te kyk. Op ‘n sonnige dag is Flolinde besig om te droom oor bont bloeisels en die sagte somerwind toe sy skielik KAPLAKS in ‘n groot rots vas vlieg! Haar mamma sou nou sê Flolinde se kop is in die wolke, maar vir haar voel dit of hy hier onder haar pienk blommekroontjie sit. Sy verstaan nie hoe hy in die wolke kan wees en op haar lyfie nie!
Sy wonder nog so oor die wolke en haar kop toe die rots waarin sy vasgevlieg het, begin bibber. “Wie kielie hierdie Bielie?” vra ‘n diep stem. Flolinde skud haar koppie en kyk op. Die rots is toe nie ‘n rots nie, maar ‘n Momtjorra! Hulle is reuse gediertes wat stadig deur die Fielasbos loop. So stadig, dat min mense hulle raaksien. Flolinde sien dat die Momtjorra vir haar wag om te antwoord. Sy vlieg ‘n entjie weg en kyk in sy een groot oog.
 “Ek is Flolinde die Vrolike Skoenlapper, en jy…” sy wag ‘n bietjie. Die Momtjorra het geel en pers kolle oor sy hele lyf! Dit beteken dat hy hartseer is! “En jy is hartseer?” vra sy nou. Die Momtjorra laat sak sy kop baie stadig asof hy wil “ja”  sê.
Flolinde wil nog troos toe daar ‘n ‘n Takbaard agter die Momtjorra uitspring. Takbaarde is lelike vaal gediertes wat krakerig deur die bos klouter. Hy skree: “Momtjorra is vol kolle! Momtjorra is vol kolle!”
Flolinde is sommer dadelik vies. Weet die Takbaard dan nie dat dit beteken dat hy hartseer is nie? Sy vlieg tot bo by die Momtjorra se oor en fluister hard genoeg sodat hy kan hoor: “ Ou Takbaard is net jaloers. Hy is vaal en bruin en kan nie sulke mooi pers en geel kolle soos jy kry nie. Al beteken dit jy is harsteer. Moet jou nie aan hom steur nie. Ek sal vir hom ‘n les leer.”
 Die Momtjorra kyk verbaas hoe Flolinde hoog in die lug opvlieg en haar vlerkies wild begin skud. Fyn goue lag-vlokkies val van haar vlerkies af en land binne- in die Takbaard se bek wat nog heeltyd besig is om te koggel. En daar begin hy skater van die lag!  Nie ‘n lelike lag soos dié wat Takbaarde gewoonlik het nie – ‘n vrolike lag wat uit sy takkerige maag kom.  Hy lag so lekker dat hy skoon vergeet van die kolle en vrolik begin aanstap deur die bos.
 Die Momtjorra kyk na sy lyf. Sy kolle is besig om ligter te raak. Die lag-vlokkies sit aan sy growwe lyf vas, maar die groot traan wat aan sy een oog hang, wil nie weggaan nie. Flolinde vlieg af tot by sy oog en met haar vrolike stem vra sy: “Momtjorra, waarom is jy dan so hartseer?”  Baie stadig, soos net Momtjorras kan praat,  antwoord hy:”Ag ekke wil so graag ‘n mooi blom pluk vir my huis, maar my pote is groot en lomp. As ek afbuk om een te pluk maak ek my hand te groot oop. Dan trek ek sommer ‘n hele boom uit! Ek kan nie aan die Fielasbos se lekker blomme ruik nie. Hulle is te fyntjies vir my. Ek maak hulle stukkend”

Die groot traan wil net op Flolinde se vlerkies val toe sy skielik ‘n blink plan kry! Die sagte somerwind!  “Momtjorra, ek ken ‘n plek in die Fielasbos waar reuse blomme groei! Ons skoenlappers gaan haal nektar daar as die somerwind waai! Dis net om die draai!” Die Momtjorra glimlag stadig.Sy kolle is weg! En stadig. Baie stadig stap hy agter Flolinde aan. So stadig dat min mense hom raaksien, maar net betyds vir die somerwind en pratige blomme vir sy huis!

Maandag 12 Mei 2014

Perdeblommetjies vir Pinkster

Ek droom gistraand van 'n ontploffing op die maan in allerhande kleure. Dit lyk eers soos 'n plant wat groei en dan soos 'n reuse dandelion of perdeblommetjie wat ontplof. Ek is êrens op ’n skoolveld besig. Daar is ‘n groot paviljoen aan die een kant en een of ander byeenkoms is aan die gang. Die dandelion saadjies het tot op die skoolveld geskiet en dryf stadig verby. Hulle is ENORM. ’n Mens kan aan hulle hang en opstyg! Ek gryp na die naaste een, hop eers en styg dan op terwyl ek styf aan die saadjie vashou. Dit is n bietjie scary maar heerlik! Oral rondom my is die lug gevul met die mooiste kleure.

Aan die een kant van die veld staan ‘n ‘onskuldige’ dogtertjie. Sy is besig om vir die mense op die veld te vertel dat, as hulle graag wil voel hoe dit voel om met die dandelion te vlieg, hulle net voor haar moet kom kniel. Dit voel glo presies dieselfde. Sy het kussings op die beton paviljoen uitgepak en mense gaan staan in ’n ry voor haar. Hulle kniel een vir een. Uit die hoogte kan ek sien dat hulle vir ’n oomblik gelukkig lyk op hulle kniee, maar die glimlag verdwyn vinnig. Wanneer hulle wegstap lyk hulle terleurgesteld en val weer agter in die ry in. Hulle het meer verwag. Soos ek vlieg met die dandelion probeer ek vir die mense skree dat dit baie lekkerder is om die ware Jakob te probeer! Hulle kan almal ook vlieg! Maar dit lyk bloot te vreemd en gevaarlik…

Dit het my laat dink aan my eie storie. Vir ‘n lang tyd in my lewe was ek self besig om voor dinge te kniel. Party meer onskuldig as ander…
Ek het die leuen geglo dat dit daardie gevoel sou wees waarna my hele wese smag. Ek het geweet ons is gemaak vir soveel meer – ek kon net nie lekker my vinger daarop sit nie. Ek het dit bly soek. Selfs al het ek ‘n verhouding met die Here gehad.

‘n Ontploffing op die maan en om met dandelion saadjies te vlieg klink ‘n bietjie far-fetched. Ek weet. Ek besef nou dat ek ook baie keer so gevoel het oor mense se kamtige “Geestelike Ervarings”. Party keer was dit ‘n bietjie out-there vir my, todat ek eendag besluit het om die saadjie wat verby vlieg vas te gryp en in die lug te spring. Al lyk dit vreemd. Ek wou meer hê! My ervaring? Wat ‘n AVONTUUR! En as jy eers eenmaal besluit het om te vlieg, daag daardie saadjies oral op…  

As ek nou terug kyk, besef ek dat geen een van die ander “aardse” ervarings of dinge waarvoor ek gekniel het, met die Heilige Gees kan vergelyk nie. Die tydelike “high" is niks in vergelyking met die hoogtes waar jy kan sweef as jy net jou trots in sou sak steek  en totaal-en-al alle beheer Oorgee nie. Jou fokus is dan op die dinge daar bo en ‘n biejtie afstand gee ‘n mens weer perspektief oor die dinge hieronder.

Ek het eenmaal iemand hoor sê: “How will you keep them on the farm, when they have seen Paris?” en ja, ek weet die plaas hou vir party van ons meer bekoring in as Parys, maar nietemin.
  
Ons is partymaal so bang gepraat en so versigtig vir misleiding, dat ons self in die proses mislei word!

Ek wonder of daardie eerste uitstorting van die Heilige Gees in Pinkster, nie ook soos ‘n ontploffing op die maan gevoel het vir die dissipels nie? Vreemd, nuut, wonderlik scary. Almal wat daardie dag besluit het om te vlieg, sou nooit weer dieselfde wees nie. Geen aardse ding, persoon of ervaring kon ooit weer daarmee vergelyk nie…

Hierdie maand dink ons weer aan daardie eerste keer. Die Heilige Gees se uitstorting. God se krag wat vir ons almal beskikbaar gemaak is. Ook vir jou. Al lyk dit dalk vir jou vreemd en ongewoon…jy is gemaak daarvoor. Dis eers wanneer jy vlieg dat jy dit besef. Soos ‘n vis wat op land was en vir die eerste keer die water voel!

So, wanneer daardie saadjie verby vlieg, vergeet die leuens van tydelike highs en dit wat jy dink jy weet van ‘n verhouding met die Heilge Gees en gryp dit aan! Vra hierdie Pinkster vir jou eie ontploffing, hou jou oë oop vir perdeblomsaadjies  – en Bon Voyage!

2 Corinthians 3:17 (Amplified)

Now the Lord is the Spirit, and where the Spirit of the Lord is, there is liberty (emancipation from bondage, freedom)

Acts 2: 12-21 (Living Bible)

They stood there amazed and perplexed. “What can this mean?” they asked each other.
13 But others in the crowd were mocking. “They’re drunk, that’s all!” they said.
14 Then Peter stepped forward with the eleven apostles and shouted to the crowd, “Listen, all of you, visitors and residents of Jerusalem alike! 15 Some of you are saying these men are drunk! It isn’t true! It’s much too early for that! People don’t get drunk by 9:00 a.m.!16 No! What you see this morning was predicted centuries ago by the prophet Joel— 17 ‘In the last days,’ God said, ‘I will pour out my Holy Spirit upon all mankind, and your sons and daughters shall prophesy, and your young men shall see visions, and your old men dream dreams. 18 Yes, the Holy Spirit shall come upon all my servants, men and women alike, and they shall prophesy. 19 And I will cause strange demonstrations in the heavens and on the earth—blood and fire and clouds of smoke; 20 the sun shall turn black and the moon blood-red before that awesome Day of the Lord arrives. 21 But anyone who asks for mercy from the Lord shall have it and shall be saved.’