Om “‘n klippie in die skoen te hê” is ‘n goeie beskrywing van
irritasie en wat dit beteken om geirriteerd te wees. Iets is net nie lekker
nie, al is dit eintlik onbenullig klein. Dit is gewoonlik ook nie iets wat net
"eenmalige wrywing" veroorsaak nie. Nee, die meeste van ons kan
onvoorsiene ongemak redelik goed hanteer, indien dit net een keer gebeur.
Dis die herhaling van die ongemak wat irritasie
veroorsaak. Soos ons tuimeldroeër se hartseer:
"kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee-kee-tjeee"wat die kenwysie van koue
reënerige dae word. (As dit ‘n redelike ou tuimeldroeër was, kon ek dit dalk
nog verstaan, maar dié kermkous is maar skaars ‘n jaar oud! Met ‘n “sagte”
siklus kamtig ingebou, wat soos die winter aanstap al hoe minder sag word…)
Daar is waarskynlik, soos met die klippie in die skoen, ‘n eenvoudig
oplossing vir die skawende-staal-liedjie wat die tuimeldroeër sing. Ek vermoed dit is so
eenvoudig soos olie. ‘n Buffer tussen die onderdele wat mekaar
(my!) so skaaf. En ek vermoed dat dit ook die oplossing is vir die meeste
irritasies in ons lewens, groot en klein: Olie.
Vars olie in ons lampies en ‘n salwing om ons skaniere weer goed aan die
werk te kry. ‘n Buffer wat wat ons nodig het om ons teen die alledaagse
wrywing in die lewe te beskerm.
Sonder so ‘n buffer is ons soos staal op staal. Ons
verweer mekaar en belemmer eintlik ons eie funksionaliteit. Ons het in die
eerste plek die Gesalfde nodig. Christus Jesus, wat letterlik “om gesmeer te
wees” beteken. Jesus wat drup van God se Teenwoordigheid en Sy Heilige Gees wat
ons ook Gesalfdes maak. Ge-olie en gerat vir dit wat oor ons pad mag kom.
Dat daar wrywing oor ons pad gaan kom is ‘n feit. Ons kan dit nie vermy
nie, maar wanneer ons ge-olie is, is die irritasie soos ‘n sandkorreltjie binne
in ‘n oesterskulp. Die irritasie wat afvryf aan die binne-kant van die skulp,
vorm in plaas van ‘n letsel, ‘n volmaakte pêrel. ‘n Kosbare skat
uit dit wat eintlik veronderstel was om skade aan te rig. Soos die irritasies
ons binnekom, laat ons Hom toe om daaraan af te vryf, todat dit volmaak is, al
neem dit soms 'n tydjie en al is dit ongemaklik. Hy is besig met n meesterstuk.
So, mag ons vandag ons irritasies olie. Mag die Heerlikheid van Christus
en die Heilige Gees afvryf en pêrels vorm in ons
binneste waar daar dalk klippies vassit, sodat dit wat gestuur was om letsels
te bring, ‘n kosbare juweel word. ‘n Offerhande wat ons vir Hom kan terug gee
met vreugde.
Psalm 100:4
Enter his gates with thanksgiving, and his courts
with praise! Give thanks to him; bless his name!
Revelation 21:21
The twelve gates were twelve pearls, each gate made
of a single pearl. The great street of the city was of gold, as pure as
transparent glass.