Flolinde
die vriendelike skoenlapper woon in die Fielasbos. Sy het sysagte
rëenboogvlerkies en is mal daaroor om deur die digte bos te vlieg en na al die
wonderlike plante te kyk. Op ‘n sonnige dag is Flolinde besig om te droom oor
bont bloeisels en die sagte somerwind toe sy skielik KAPLAKS in ‘n groot rots
vas vlieg! Haar mamma sou nou sê Flolinde se kop is in die wolke, maar vir haar
voel dit of hy hier onder haar pienk blommekroontjie sit. Sy verstaan nie hoe
hy in die wolke kan wees en op haar lyfie nie!
Sy wonder
nog so oor die wolke en haar kop toe die rots waarin sy vasgevlieg het, begin
bibber. “Wie kielie hierdie Bielie?” vra ‘n diep stem. Flolinde skud haar
koppie en kyk op. Die rots is toe nie ‘n rots nie, maar ‘n Momtjorra! Hulle is
reuse gediertes wat stadig deur die Fielasbos loop. So stadig, dat min mense
hulle raaksien. Flolinde sien dat die Momtjorra vir haar wag om te antwoord. Sy
vlieg ‘n entjie weg en kyk in sy een groot oog.
“Ek is Flolinde die Vrolike Skoenlapper, en
jy…” sy wag ‘n bietjie. Die Momtjorra het geel en pers kolle oor sy hele lyf!
Dit beteken dat hy hartseer is! “En jy is hartseer?” vra sy nou. Die Momtjorra
laat sak sy kop baie stadig asof hy wil “ja”
sê.
Flolinde
wil nog troos toe daar ‘n ‘n Takbaard agter die Momtjorra uitspring. Takbaarde
is lelike vaal gediertes wat krakerig deur die bos klouter. Hy skree:
“Momtjorra is vol kolle! Momtjorra is vol kolle!”
Flolinde is
sommer dadelik vies. Weet die Takbaard dan nie dat dit beteken dat hy hartseer
is nie? Sy vlieg tot bo by die Momtjorra se oor en fluister hard genoeg sodat
hy kan hoor: “ Ou Takbaard is net jaloers. Hy is vaal en bruin en kan nie sulke
mooi pers en geel kolle soos jy kry nie. Al beteken dit jy is harsteer. Moet
jou nie aan hom steur nie. Ek sal vir hom ‘n les leer.”
Die Momtjorra kyk verbaas hoe Flolinde hoog in
die lug opvlieg en haar vlerkies wild begin skud. Fyn goue lag-vlokkies val van
haar vlerkies af en land binne- in die Takbaard se bek wat nog heeltyd besig is
om te koggel. En daar begin hy skater van die lag! Nie ‘n lelike lag soos dié wat Takbaarde
gewoonlik het nie – ‘n vrolike lag wat uit sy takkerige maag kom. Hy lag so lekker dat hy skoon vergeet van die
kolle en vrolik begin aanstap deur die bos.
Die Momtjorra kyk na sy lyf. Sy kolle is besig
om ligter te raak. Die lag-vlokkies sit aan sy growwe lyf vas, maar die groot
traan wat aan sy een oog hang, wil nie weggaan nie. Flolinde vlieg af tot by sy
oog en met haar vrolike stem vra sy: “Momtjorra, waarom is jy dan so
hartseer?” Baie stadig, soos net
Momtjorras kan praat, antwoord hy:”Ag
ekke wil so graag ‘n mooi blom pluk vir my huis, maar my pote is groot en lomp.
As ek afbuk om een te pluk maak ek my hand te groot oop. Dan trek ek sommer ‘n
hele boom uit! Ek kan nie aan die Fielasbos se lekker blomme ruik nie. Hulle is
te fyntjies vir my. Ek maak hulle stukkend”
Die groot
traan wil net op Flolinde se vlerkies val toe sy skielik ‘n blink plan kry! Die
sagte somerwind! “Momtjorra, ek ken ‘n
plek in die Fielasbos waar reuse blomme groei! Ons skoenlappers gaan haal
nektar daar as die somerwind waai! Dis net om die draai!” Die Momtjorra glimlag
stadig.Sy kolle is weg! En stadig. Baie stadig stap hy agter Flolinde aan. So
stadig dat min mense hom raaksien, maar net betyds vir die somerwind en pratige blomme vir sy huis!