Die sonlig glinster goud in elke druppel water wat
stadig van Lynette se hand afgly. Met die sonnetjie wat haar warm bak, hou sy
hulle fyn dop. Elkeen vorm sy eie rimpeling op die water in die rivier. Wat ‘n
pragtige dag vir ‘n piekniek! Sy lig haar kop op van haar arm, wat slap en
ontspanne oor die rand van die roeibootjie hang. Aan die oorkant op die wal
sien sy die res van haar groot familie saam kuier. Op die oog af lyk dit na die
perfekte prentjie…. Skielik gil een van die klein kindertjies en hardloop in ’n
kringetjie al om die groot mense. Ja-nee, as ‘n mens so op n afstand na hulle
kyk, sou jy hulle in ‘n advertensie kon
gebruik! Maar sy weet dat dit baie ver van die waarheid af is
Vir die een of ander rede word sy al
vir jare as die familie-vertroueling gesien. Griewe, verskonings,
frustrasies en bekommernisse word alewig
in haar skoot gestort. Asof sý nooit ‘n versadigingspunt kan bereik nie. Sy
moet dalk haar dienste begin adverteer, dink sy skalks. “Lynette-se-Oor, die Herwin-drom: waar jy
veilig van jou vullis ontslae kan raak, met die hoop dat dit nuttig aangewend
sal word in die toekoms.” Sy glimlag. Seker maar omdat sy weier om by die
gemors ingesleep te word en redelik neutraal bly, dat sy op goeie voet met die
meeste lede van haar familie is. Hulle is maar ‘n vlambare groepie mense
bymekaar…
Sy lê terug in die bootjie en maak
haar oë toe terwyl die gesprekke aan die oorkant op die water weerklink. Sy
dink aan al die onderlinge strominge van emosies en hoe elkeen maar swaar, aan
sy of haar bagasie, dra. Dit is asof tyd en herinnering die wonde dieper sny as
wat hulle aanvanklik was. Veral die wonde wat soos n bose kringloop
herhaaldelik weer oopgemaak word. Soos erosie. Maar hoe keer ‘n mens dit? Daar
is maar min mense, wat sy ken, wat dié kuns aangeleer het om die lewe nie toe
te laat om hulle te verbitter nie. Vir die meeste mense gaan dit bloot oor
oorlewing. Nadat ons deur die meul van die lewe is, leer jy strategieë, skaf
vir jou wapens aan en bou hoë mure sodat jy, jou reeds geskende hart, kan
beskerm. Dit bly ‘n masker-speletjie en
die prys vir die een wat die beste kan voorgee? Eensaamheid. ‘n Neutraliserende
proses waarin jy later glad nie meer in voeling is met jou emosies nie. Alles
net om te ‘cope’ met die emosionele bagasie wat jy opgaar in jou kas…
Terwyl sy sit en dink aan elkeen op die
oorkantse oewer se seerkry en geraamtes, vlieg ‘n skoenlapper onverwags tot op
haar voorkop. Sy maak haar oë oop en
sien hoe hy land op haar blomme-rok. Hy bly net mooi lank genoeg sit om te
besef dat daar nie nektar of stuifmeel in dié
blomme is nie. Sy glimlag half skeef. “Jy is ook geflous ou vlindertjie”, dink
sy hardop. En dan, soos die vars briesie oor die rivier die skoenlapper
wegwaai, waai tannie Netta se gesig voor haar in. Daar was tóg iemand, wat met
‘n glimlag oudgeword het, ten spyte van ‘n klomp terugslae.
Tannie Netta. Haar groot blou oë
het altyd geglinster. Asof daar ‘n ekstra blink sterretjie in elkeen was. Wanneer
sy lag het haar diep dimpels en rooi wange haar soos die sagte ryp perskes in
die vrugte boord op die plaas laat lyk. Sy kon enige situasie ontlont met ‘n
grappie en het ‘n bo-natuurlike sin vir humor en wysheid gehad. ‘n Mens waaruit
die lewe gestraal het. Sy kry sommer hoendervleis as sy dink aan haar kinderdae
op die plaas. Op die plaas kon hulle net kinders wees. Die dae was vol verrassings en nuwe ervaringe. Die vars lug en groot plaaswerf het almal sommer weer moed gegee vir die res van die jaar. Dit was ‘n oase waar hulle as gesin mekaar kon leer ken, buite die gejaagde lewe in die stad.
Dáárdie vakansie was egter 'n keer punt in haar lewe.…Sy onthou dit nog so goed. Sy was elf.
Hulle het oudergewoonte by Oom Louis en Tannie Netta op die plaas gaan kuier en sorgeloos die rustige plaaslewe geniet.
Dit sou in ‘n oogwink
verander. Sy ril as sy weer daaraan dink.
Dit was ‘n ekstra koue oggend toe
een van die plaaswerkers uitasem en blink van die sweet en trane al stotterend
by die kombuisdeur ingestorm het. Die wasem het opgeslaan van sy warm lyf. Met
groot oë het hy vertel van die ongeluk. Dit was Oom Louis. Met rukke en stote
het hy gestamel dat die trekker ‘n groot klip in die koringlandery getref en
omgeslaan het. Sy hart was so stukkend soos die storie wat hulle in grepe
aanmekaar moes las. Die skok en die koue van die middag het hom laat bewe soos
‘n riet terwyl hy elke nou en dan sy trane (en sy neus) met een veeg teen die
rugkant van sy hand afgevee het. Hulle kon Oom Louis nie daar onder uit kry
nie, dit was te laat. Tannie Netta moes kom en die buurplaas laat weet om te
kom help.
Lynette kan onthou dat sy gesien
het hoe die lewe letterlik uit haar liewe tannie se gesig verdwyn. Haar gelaat
het van appelkoos na grafgrys verander en haar oë
was vir die eerste keer dof met trane wat stadig opgewel -en oor haar wange
begin rol het. Tyd het vir ‘n paar minute doodstil gaan staan.
Verder as daardie oomblikke onthou
sy nie veel nie. Net hier en daar grepe van gebeure. Hulle vakansie is
kortgeknip. Daar was ‘n warboel van mense wat kom help het, haar ouers wat
probeer sin maak uit dit alles en moeilike vrae probeer beantwoord, terwyl
hulle met hul eie seer gesukkel het. Haar ma het eers agtergebly om vir Tannie
Netta te help. Haar pa is met die kinders huistoe en sou solank na die boedel
en ander praktiese reëlings omsien.
Terug by die huis onthou sy wel dat
sy telefoon oproepe tussen haar ma en pa probeer afluister het en alhoewel sy
nie veel kon uitmaak van die gesprek nie, kon sy na die tyd aan haar pa se
gesig sien dat dit nie goed gaan op die plaas nie.
Die kinders is nie na die begrafnis toe nie en haar ma het na ‘n paar weke huistoe
gekom. Skool het weer begin en die lewe het aangegaan in die stad asof die wêreld nie eintlik notisie neem van geliefdes
wat afsterf nie…
‘n Paar maande later, nadat die ergste
stof gaan lê het, kondig haar pa een
vrydagmiddag aan dat hulle hul tasse moet pak: “Ons gaan plaastoe!” het hy
skyn-opgewonde gesê, maar almal kon
die onsekerheid in sy stem hoor. Wat sou hulle daar aantref as hulle gaan? Sou
tannie Netta nog Tannie Netta wees? Wat sou hulle maak met 'n Tannie Netta sonder haar sonskyn persoonlikheid? Watter leemte het Oom Louis op die plaas
gelos? Alles vrae wat nie een van hulle durf vra het nie, maar tog duidelik in
mekaar se oë kon lees.
Tasse is gepak en asems opgehou.
Die 362km plaas toe, is in doodse stilte gery.
Dit was eers toe hulle deur die
bekende laning Bloekombome ry en die stofpad ruik, dat die ou, vreugdevolle gevoel van die plaas
vakansies oor hulle in die kar gespoel het. Goeie herinneringe wat, soos
die lig deur die bome, in hulle gedagtes geflikker het. Aan die einde van die laning kon hulle
die plaas opstal sien en oudergewoonte het tannie Netta op die stoeptrappies
gestaan en wag.
Toe die kar uiteindelik tot
stilstand kom en hulle uitklim om te groet, kon Lynette sommer dadelik sien dat dit die ‘ou’
tannie Netta is wat vriendelik en haastig by die trappies afloop. Haar hare was
netjies versorg. Dieselfde blos van voorheen was weer op haar wange en dit was
asof die glinstering in haar oë dieper
weggesink het in die blou. Die lig daarin het amper vreemd van binne gekom.
Uit die hoek van haar oog kon sy
die verligting (en verbasing) op haar ouers se gesigte sien, maar na die vorige
vakansie en die somberheid in gesprekke oor die plaas was sy in haar
kinderlikheid redelik skepties en verward oor die vrolikheid. Sy het
nie die vrede vertrou nie en kon nie wag om vir tannie Netta te vra wat
intussen gebeur het nie.
Met die eerste na-middag koffie in
die sonkamer het sy nie op haar laat wag nie. So tussendeur die karringmelk
beskuit happe het sy sommer reguit gevra of tannie Netta na Oom Louis verlang?
Tannie Netta het sag geglimlag, maar Lynette het aanhou por en sommer aspris
gevra: “Weet Tannie dat as iemand dood is, hulle nooit weer terugkom nie?”
Tannie Netta het geknik. Dimpels diep weggesink langs haar glimlag. “is jy
jammer hy is nie meer hier nie? Hoekom glimlag jy? Hoekom is jy nie hartseer
nie?!...” het sy amper geskree. Uitasem en ‘n bietjie skaam vir haar
uitbarsting het sy vir ‘n antwoord
gewag. Sy was nie jammer nie. Sy wou wéét.
Tannie Netta was nie vies nie. Dit
was eintlik asof sy dié stroom vrae
verwag het. Sy het vir Lynette op haar skoot getel en styf vasgedruk. So het
hulle vir ‘n hele rukkie gesit, todat sy dit nie meer kon hou nie. Lynette het
haarself bietjie losgewoel, omgedraai en stip in die tannie se oë gekyk. “ Hoekom lyk jy gelukkig?” het sy
weer probeer.
Hierdie keer het Tannie Netta vir
Lynette afgetel, haar aan die hand gevat en in die gang afgeloop. “Kom,” het sy
gesê, “ek wil jou iets gaan wys.”
Haar ma en pa en die ander kinders, wat die hele petalje
sit en dophou het, was stomgeslaan, maar stilweg het hulle met dieselfde vrae
geworstel. Voorheen sou hulle dadelik vir Lynette aanspreek oor haar arrogansie, maar hulle het haar laat begaan. Hulle wou ook weet wat die vonkel terug gesit het
in daardie blou oë.
In die hoofslaapkamer van die groot
plaashuis was daar ‘n hele klomp halfgepakte kartondose. Op die spieëlkas het hopies fotos gelê en orals was herinneringe aan Oom Louis
versprei. Tannie Netta het ‘n skoenboks onder die groot dubbelbed uitgetrek en
dit na Lynette uitgehou. Sy het dadelik dié
boks herken. Dit was haar sywurms wat sy die vorige vakansie saamgebring het.
Sy het skoon van hulle vergeet! Sy het nader gestap en die boks by tannie Netta
gevat. Versigtig het sy die deksel op ‘n skrefie oopgemaak en toe daar niks
gebeur nie, die deksel heeltemal afgelig – nuuskierig om te sien wat daar binne
aangaan. Piepklein swart spikkeltjies was in lang rye oor die hele boks
versprei. ‘n Paar sy kokonne was nog in die hoeke vasgespin, maar van die wurms
was daar niks meer te sien nie. Met die boks in haar hande het sy
fronsend gewag vir ‘n verduideliking. Tannie Netta het op die bed gaan sit en
begin vertel: “Dis alles Oom Louis se goed wat hier rondstaan my kind. Jou
tannie Netta sal altyd vir hom lief wees. Jy weet, ons was 53 jaar getroud. Dis
ouer as wat jou Mammie is. Wanneer ‘n mens so lank saam is word jy regtig deel
van mekaar. Jy sal nog sien eendag” Sy het met haar hand beduie dat Lynette by
haar moet kom sit. “Ons was geseënd
met goeie jare saam, my Hartjie en al weet ‘n mens dat jy nie vir altyd vir
mekaar gespaar kan bly nie is daar niks wat jou kan gereed maak vir daardie
oomblik van afskeid nie.” vir ‘n oomblik het sy eers stilgebly. “Ek het nie
geweet of ek ooit weer sal kan glimlag nie…” Lynette het haar tannie fyn
dopgehou en toe die trane oor haar wange begin rol, kon sy nogsteeds nie met
sekerheid sê dat die tannie hartseer
lyk nie.
“Die dae sonder Oom Louis was swaar
en ek was baie kwaad vir die Here dat Hy hom kom vat het. Ek het party dae
sommer hardop geloop en praat en stry met Hom en gewens Hy kom haal my ook! Tot
eendag…” Haar dimpels het weer diep in haar wange gesink . “Tot die dag
wat ek besluit om die stoepkamer reg te pak en op dié boks onder die spaarkamer
bed afgekom het. Ek het eers gedink dis van julle speelgoed of so iets, todat
ek die gefladder binne-in gehoor het. Dit was omtrent ‘n gedoente toe ek die
deksel aflig en daar ‘n hele spul sywurm motte by die boks uitvlieg!” Tannie
Netta het sommer hardop vir haarself gelag. ‘n Glimlag het ook skalks om
Lynette se mond kom sit. “Maar Lynettie, weet jy wat was die wonderlikste? Terwyl
ek daar staan, met die boks in my hande, is dit asof ek die Here se stem
duidelik kan hoor en ek besef dat dit tyd is om vir Oom Louis ook te laat gaan.
Die Here het, op Sy manier , daardie dag vir my kom wys dat ons lewe saam hier
op aarde, soos daardie goue sydraad was. Ek
kan maar daaraan vashou. Dit was mooi jare saam, maar oom Louis het nou ophou
spin. Sy sydraad was net mooi lank genoeg vir die mooi kokon wat hy hier agter
gelaat het. Die kokon wat hom nou vir altyd sou laat vlieg! Ek het nog nooit
voorheen so ‘n helder boodskap gehoor wat sommer daar en dan my ou hart gesond
kom maak het nie! Ek het dadelik op oom Louis se gunsteling stoel in die
sitkamer gaan sit en behoorlik gehuil vir al die mooi (en moeilike) jare
wat ons saam kon deel. Na ‘n ruk het my trane darem opgedroog en dit was asof
ek Vrede en rustigheid en ‘n Vreugde in my hart ontvang het, wat ek nie
voorheen geken het nie. Oom Louis vlieg. Hy het vir Jesus geken. Ek kan hom nie
meer vashou nie, maar ek kan nog my goue draad klaarspin tot die dag wat ek in
my kokonnetjie moet gaan inkruip en my permanente vlerke kry, want ek ken Hom
ook!” Tannie Netta het haar oog geheimsinnig geknip. Lynette het terug geglimlag - sy kon nie ‘n sweempie valsheid in haar
tannie se stralende gesig bespeur nie en daardie glimlag was stralend tot die dag
van haar dood.
Die wit skoenlapper kom maak weer
speels ‘n draai en vlieg dan na die oorkantste wal waar Lynette se familie
nogsteeds piekniek hou. Ons almal is gemaak om ‘n goue draad met ons lewens te
spin, besef sy. Sy loer weer oor die rand van die roeibootjie en kyk na
haarself in die water. Dan laat sak sy haar hand in die rivier en toe sy hom
oplig, glinster ‘n druppel en val terug op die plek waar haar oë vroeër
terug gekyk het. "Hy het vir Jesus geken. Ek ken Hom ook." eggo tannie Netta se woorde.
Sy skrik amper vir die gedagte aan ‘n glimlag soos haar tannie s’n, maar laat dit toe om ryp te word in haar
wange. Soos ‘n soet perske wat die bitter laat wegsmelt en sag in die lyntjies
om haar oë inkruip - om te bly.