Tussen hier en daar en wie weet waar is die Jasbos. Die
Jasbos is vol allerhande gediertes wat gelukkig saam woon en werk. Dit is ’n
wonderlike bos met vreemde plante, groot riviere en die meeste blomme en vrugte
wat jy nog ooit gesien het!
In die bos is daar
’n grot. Voor die grot lê ’n rots met ’n klein skeurtjie daarin – dit is die
enigste manier om in die grot te kom. In die grot woon twee gediertes. Die een
gedierte is ’n lang maer diertjie met sagte wit pels en ’n skerp bekkie. Sy naam is Pampierie. Hy kan
baie goed vlieg met sy dun vlerkies en ook die pragtigste liedjies sing. Saam
met Pampierie bly Trantralie. Trantralie is weer ’n ronde gedierte met groot
ronde oë en ‘n growwe pels. Hy kan sy kop en sy pote in sy lyfie intrek sodat
dit amper lyk asof hy net ’n ronde balletjie is.
Elke dag vlieg
Pampierie tot bo in die grot en dan deur die nou rotsskeur Jasbos toe. Daar
sing hy die wonderlikste liedjies en pluk sappige bessies heel bo in die bome
sodat hy en Trantralie daarvan kan eet. Dit is ’n belangrike werk.
Trantralie kan nie
vlieg nie en daarom bly hy elke dag by die huis. Sy gunsteling tyd van die dag
is wanneer die son deur die rotsskeur skyn en hy vir Pampierie hoog bo in die
bome kan hoor sing. Dan maak hy sy lyfie bol en rol heen en weer oor die
grotvloer todat hy pootuit op sy magie gaan lê en wag vir Pampierie om terug te
kom.
Terwyl hy wag,
wonder Trantralie baie keer hoekom hy so ’n ronde lyfie het. Hy het al probeer
om deur die rotsskeur te klim, maar sy lyfie is net te rond! Hy sal darem ook
graag wil sien hoe dit daar buite lyk. Dan oefen hy in die stilligheid om sy
maag plat in te trek sodat hy ook eendag deur die rotsskeur kan klim en bessies
kan gaan pluk. Maar maak nie saak hóé
hard Trantralie probeer nie, sy lyfie kan maar net nie platter nie. Dan
gaan rol hy maar weer op die grotvloer en luister met toe oë na die wonderlike
geluide van die Jasbos wat by die rotsskeur inwaai.
Toe die dae weer
al warmer begin word, weet Trantralie dat Pampierie ekstra lank sal wegbly. Op
so ’n dag besluit hy om te kyk of hy nie sy magie al plat genoeg kan intrek om
deur die skeur te pas nie.
Dit is ’n baie
lang klim tot bo in die grot en Trantralie is skoon uitasem toe hy uiteindelik
by die skeur aankom. Eers steek hy net sy agterpoot deur. Toe sy voorpoot en
toe hy sy ander agterpoot wil insit, sit hy … VAS! Benoud druk hy aan die kante
van die skeur om sy pote uit te kry. Hy druk en trek en druk en trek en
toe…PLOP!! skiet hy los en bons teen die ander kant van die grotmuur vas!
Trantralie knyp sy oë styf toe en bons so hard dat hy wéér ‘n keer terug skiet!
So bons-bons-bons hy tot heel onder in die grot. Gelukkig het jy ‘n dik growwe
pels wat hom beskerm! Toe hy uiteindelik tot stilstand kom draai sy kop en hy
voel effe snaaks.
Versigtig maak hy
eers sy een oog –en toe sy ander oog oop. Alles om hom lyk ‘n bietjie vreemd!
Hy was nog nooit in hierdie deel van die grot nie! Hy knip sy oë ‘n paar keer
en dan sien hy ‘n dun ligstraaltjie wat op die vloer van die grot ‘n ronde
kolletjie maak. Hy trek sy kop en sy pote in en rol al agter die ligstraaltjie
aan.
Die lig raak al
hoe helderder en tot sy groot verbasing rol hy tot by ‘n gaatjie in die
rotswand waardeur die lig skyn. Die gaatjie is koeël rond! Perfek vir sy ronde
lyfie! Hy steek eers sy agterpoot deur, toe sy voorpoot en toe sommer sy hele
lyfie. Dit pas perfek! Opgewonde rol hy na buite en daar sien hy vir die heel
eerste keer die pragtige Jasbos! Daar is plante van allerhande kleure en klein
ogies wat vriendelik om elke bossie en blaartjie loer.
Êrens hoog bo-kant
hom kan hy vir Pampierie hoor sing! Hy maak sy ogies toe om te luister en skrik
nogals toe ‘n diep stem hier langs hom sê: “Hallo daar Trantralie! Ons het vir
jou gewag!”
Trantralie probeer
sien wie dit is wat nou met hom praat. Eers kyk hy langs hom dan agter hom en
toe loer hy tussen sy bene deur…maar hy sien niemand nie.
“ Hier is ek. Hier
bo,” sê die die stem weer. Trantralie kyk op. Langs hom staan ’n massiewe boom.
Hy kyk stip daarna en dan sien hy dit…die boom het ’n glimlag...groot
vriendelike oë en… die takke is sy arms! “Ek is Kasper, die oudste boom in die
Jasbos.” “E..e.. hoe weet jy wat my naam is?” vra Trantralie baie braaf. Die ou
boom glimlag en sê: “Almal in die Jasbos het ’n werkie om te doen. Ons almal is
spesiaal en verskillend gemaak. Van die begin van tyd af is daar gediertes hier
in die bos wat sorg dat almal gelukkig en tevrede kan saamleef. Die dag toe jy
uitgebroei het, het daar ‘n klomp saadjies onder die grond gaan lê. Hulle lê en
wag vir jou sodat hulle blomme, bome en selfs vrugte kan word!” Trantralie
verstaan nie lekker nie. Kasper verduidelik verder: “Trantralie, ek weet jy hou
daarvan om met jou lyfie in ‘n bolletjie rond te rol-” “ O ja!” val Trantralie
hom in die rede. “ Dis die lekkerste ding op aarde!” “Nou ja,” verduidelik
Kasper, “as jy oor die woud se vloer rol met jou growwe pels, tel jy stuifmeel
op en versprei dit deur die Jasbos. Dan kan die plante daardie stuifmeel
gebruik om nuwe saadjies te maak. Die saadjies wat onder die grond vir jou lê
en wag, het ook nodig dat jy oor hulle rol. Met jou pels maak jy die grond
bokant hulle los en kan die reën en sonlig by hulle uitkom. Hulle het dit nodig
om te groei!”
Trantralie kan sy
ore nie glo nie. Vir hóé lank het hy in die grot gewens hy kan soos Pampierie
lyk! Hy het so baie keer probeer om sy lyfie plat te maak en hy wou so graag
ook help om bessies bymekaar te maak!! Boon-op het Pampierie geraas as hy so
rondrol en al die stof in die grot in die lug opskiet.
“Jy sien
Trantralie, sonder jou is daar ’n klomp dinge in die Jasbos wat nie werk nie!
Ek stel voor dat jy sommer dadelik met jou spesiale werk begin!”
Trantralie maak
opgewonde sy lyfie bol en begin rol. Dit is die lekkerste holderste-bolderste-
bollemakiesie-rol wat hy nog ooit gerol het! Hy sien nuwe plante, kleure,
eienaardige diertjies en vlinders. Dis asof sy lyfie sommer self die rondrol
pad ken! Hy rol hiernatoe en daarnatoe en al die rondte todat hy weer teen
Kasper se stam te lande kom.
Trantralie lag uit
sy ronde magie uit. Hy weet sommer, daardie gaatjie in die grot, was net vir
hom bedoel. Hy sal nou elke dag vir Pampierie in die Jasbos kan gaan luister.
Hy sal kan help om bessies bymekaar te maak en hy het ook nou ‘n belangrike
werk. Hy kan nie wag om dit vir sy maat te vertel nie. En dit is presies wat hy
daardie middag, toe Pampierie by die rotsskeur invlieg, doen! Pampierie is so
bly, dat hy sommer ‘n spesiale liedjie vir Trantralie sing, tot vroeg die
volgende oggend.
Dit is die mooiste
lente wat die Jasbos in ‘n lang tyd gesien het. Al die gediertes is verstom oor
die nuwe kleure en blomme en later, toe
die somer kom, smul hulle aan die lekkerste nuwe vrugte. Alles te danke aan
Trantralie wat ondek het wat sy werkie is en hoe spesiaal hy gemaak is.
Van daardie dag af
woon almal gelukkig en tevrede in die Jasbos. Tussen hier en daar en wie weet
waar!