('n Kortverhaal)
Martie buk
vieserig af om die blikkies kos en pasta wat nou oor die hele parkeerterrein
gestrooi lê, op te tel. “Kan
die ou nie kyk waar hy loop nie!” dink sy hardop terwyl ‘n mansstem agter haar
om verskoning probeer vra. Sy besef dat dit deels ook haar skuld was dat hulle
in mekaar vas geloop het. Haar kop is deesdae gereeld op ‘n ander plek. Sy gaan
staan regop en draai stadig om, om die ander helfte van die ongelukkie in die
oë te kyk.
Dan word sy
yskoud.
Voor haar
staan haar gewese tuinman in sy volle glorie en glimlag tandloos-verleë. Hy lyk
heeltemal anders as die laaste keer dat sy hom gesien het…hy ruik ook sommer
beter! Sy skrik half vir haar gedagtes en glimlag terug.
“Skuus Johannes..ek…” Sy sukkel om woorde te
vind terwyl die gedagtes deur haal kop maal: Hy lyk so selfversekerd. Sommer
jonger ook. Stukkende klere, maar darem skoon… “ Nee wat mevrou,” help hy haar
uit haar woordelose verknorsing “ ek het okkie mooi gekyk wa ek loepie. Ek help
gou optel.”
Hulle buk
altwee af, vermy ‘n kop-stamp net-net en ontmoet mekaar se oë toe hulle weer
opstaan.
“Sjoe, dankie
Johannes. Dit is lekker om jou weer te sien! Jy lyk goed!” sê-vra sy amper en
sy bedoel dit. (Al klink dit bietjie vreemd in haar ore.) Sy kan haar nuuskierigheid nie bedwing nie.
Hierdie man is defnitief nie dieselfde een wat sy twee jaar tevore moes wegjaag
omdat hy vir die soveelste keer dronk by die werk opgedaag het en boonop ‘n
vrag tuingereedskap gesteel het - waarmee sy hom op heterdaad betrap het nie!
Hy sien haar
verbasing en sê amper met ‘n ondeundheid in sy stem :” Ja mevrou, ek wiet! Dis
die Hére se werk die!” Hy gaan staan ewe kordaat met sy hande langs sy sye,
kierts regop – soos iemand wat op aandag staan – asof Martie maar
inspeksie kan
kom doen om behoorlik te sien hoe baie ánders hy nou eintlik is.
“ Hy het my
kô vat da yt die modder en gemorste. Sommer net soe!” Hy klap sy bruin
knobbelrige vingers voor haar oë en toe sy effens terugdeins kan sy sien hoe sy klein ogies glinster.
“Ja,
Johannes? Hoe so?” Sy kan nie help om skepties
te wees nie, maar is tog nuuskierig om uit te vind hoe dié metamorfose moontlik
kan wees.
Hy vertel al
te gretig: “ Kyk hie, Mevrou wiet mos lat ek als wat ek gehad het verloor het
virrie bottel.” Martie knik instemmend en dink aan die dronkverdriet party
saterdae oggende voor haar tuinhekkie…“mevrou se werkie wassie laatste ene wat
ek gehad het. Ek was so diep in daai gat vannie drink dat ek nie eens kon swem
tot bo nie!” Hy verduidelik dramaties
met sy hande asof hy dié gat nog kan
sien. Martie glimlag effens. Sy onthou nog sy eiesoortige manier van praat en
sy sin vir humor wat haar ‘n hele paar dinge laat oorsien het, in die tyd wat hy
by haar gewerk het.
Hy borduur
voort: “ nou soe is ekke toe maar op straat. Als verloor en niemand soek Joe se
lyf naby nie. Die moeilikgeit trek agter my aan soes ‘n trop bieste. Ek slaap
waar ek kan
en hou die koue en die hongerte weg mettie bottel. Partydae is ek soe getjarra
ek wietie wa ek was of hoe ek daar gekom hettie. Ek en my tjommas da steel amal
vir ‘n ietsie te ete en ons hol heeldag weg vir polieste en securities.” Hy
swaai weer sy hande wild, asof hy dié herinneringe wil wegwaai. Dan kyk hy af
na sy stukkende skoene en sê skaars hoorbaar. “ Dit was nie goeie tye daai nie,
mevrou…ek was oep my laaste” die spyt en selfverwyt wil net-net deurskemer toe
hy skielik opkyk en glimlag. Hy weet dit is die deel van die storie waarvoor
Martie staan en wag en rek die dramatiese stilte ekstra lank uit voor hy verder gaan. :
“ek loep toe eendag hier neffens toe die dors my weer vat en ek vra vir ‘n
meisietjie in die parking vir ‘n geldjie vir kos. Ma ek lieg. Ek wiet mos dis
vir drank. Ek dink toe sy maak of sy my nie horie. Mense doen dit. Dan hou ek
maar bietjie aan – maak ‘n grappie of so – en dan gee hulle maar ietsie omlat
ek my soe vermakerig hou. Maar dié meisie…” en Johannes kyk haar reguit in die
oë “ sỳ kyk in my oge tot hier diep binne in my hart in..” hy rek sy ogies so
groot dat Martie vir die eerste keer die wit om die donker bruin kan sien
terwyl hy met sy wysvinger op sy hart druk. “Sy sê sy hettie geld nie, maar sy
gaat vir my bid! Mevrou! Ek skrik sommer my dors helemal weg! Ek had mos anner
planne en ek is ôk nie lus virrie storie nie. Ek sê sommer nei, dis nie nodig
nie. Ek is bekeerd en mense het al gebid virrie drankduiwel mar dit het niks
gemaak nie.”
Hy staan ‘n
tree nader asof hy nou vir Martie ‘n groot geheim gaan meedeel en sê dan amper
vererg: “Maar die meisietjie het seker gesien ek glo nie wat ek sê nie, want
toe ek weer sien vat sy my hanne en vra wat my naam is. Ek en my hanne bewe so
vannie dop en die dors dat dit amper lyk asof ons twee nou gaat dans! Maar sy
lossie!” Martie keer haar glimlag toe sy die erns op sy gesig sien.
“ Ek sê toe
maar dis "Johannes", soos mevrou my ken en my ma my genoem het. Ek bedoel – dis
mos ‘n kind van die Here dié– netnou slat die weerlig my of kom Hy my straf as
ek nie reg sê nie!Virrie mense oppie straat was ek sommer net Joe of Johnny ma
meeste mense da worry nie wie jy issie almal het maar hulle dinge so ons vra
okkie yt nie.” Hy wag 'n oomblik sodat dié inligting kan insink en dan vertel hy verder:
“Maar mevrou,
dinge gebeur mos nie soes ons dink nie… Ek koes nog virrie lightning toe vra sy
of ek weet lat my naam beteken ‘die Here is Genadig’ ? Ek sê toe nei, hoe bedoel sy dan nou? Sy sê, sy wiet ek dink die Here wil my straf vir alles wat ek aldag aanvang, maar Hy
het klaar sy eie Seun gestraf in my plek…” Hy kyk weer af na sy skoene en dis
asof hy daardie oomblik weer herleef : “ My mond wat altyd soe baie tjol praat
was stil…en my hanne ôk...”
Toe hy opkyk kan Martie sien dat sy
oë vol trane skiet. Hy kyk stip na haar en vat aan sy hart. “ Vir my, Johannes
Arendse, het Hy nie kom straf nie. Hy het my net kom haal en vir my gekom wys hoe
lief Hy vir my is! Reken biejtie! Na al die goeterse wat ek al gemaak het!”
Martie sluk aan die knop in haar keel terwyl hy die trane, wat nou vrylik oor sy
verkreukelde wange met die baie myle op, vloei wegvee.
Dan maak hy
sy keel skoon en sê weer met nuwe ywer : “ Die meisietjie was toe nie klaar nie
hoor! Sy bid toe sommer laaank vir my…enne…ek gaan sit toe sommer langs die
muur en die trane loep! En mevrou wiet, sy bid en sy sê vir my goeterse van my
kleintyd wat net die Here vir haar kon fluister...en sy bid vir áls! Ek sit da teen
die muur en dit voel asof iemand ‘n hele bottel soetwyn in my binneste in
oepmaak.” Sy ogies blink weer ondeund. “ Soe ‘n warm gevoel wat oor my hele liggaam
van my mag af sprei.” Hy vryf in vervoering oor sy maag met sy oë toe. “ en dié
warm vat somma die dronk weg wat nog in my lyf was en ek voel skoon! Soes ‘n
nuwe sikspens! Helemal skoon! Daar teen die muur en die vullis en als is ek ‘n
Witgewaste Johannes! Ek kon sommer die nuwe wit klere sién wat Hy vir my gegee
het!” hy
klink trots en steek sy arms na Martie toe uit asof sy ook die nuwe klere moet
raaksien.
Sy staan versteen en luister. Alhoewel sy onder ander
omstandighede ongemaklik sou wou omdraai en wegloop, kry sy dit nie hierdie
keer reg om haarself te verskoon en te loop nie. Hy gee haar ook nie eintlik ‘n
kans nie,
maar sy is nie ondankbaar daarvoor nie...
“Mevrou, ek wiet nie hoe lank ek daar gesit het nie. Toe
ek weer my oë oepmaak is dié meisietjie weg en ek is helemal nugter! My hart
brand. Rêrig! Vuurwarm in my borskaste. Sommer nou nog as ek van my Here praat!
”
Sy gesig
verhelder soos hy verder gaan: “Dis toe lat ek besluit om shelter toe te gaan
en daar te slaap en ek vra toe ôk somma of daar nie iemand is wat oor die Here
wil praat nie. Mies Stander wat mos altyd sop skep is toe hoeka daar en ons het
weer gebid en als en later het sy my by haar kerk gedoop. Nou help ek daar by
hulle. Somma los werkies van verf of tuinmaak en so. Dit hou my lyf uit die
moeilikgyt en ek bid sommer vir die mensies wat daar kom slaap. Van my tjommas
was ook al daar…” hy glimlag en lag dan so lekker dat sy ogies op klein
skrefies trek en die kepe diep om sy haasbek mond sit. “ Hulle sien nie eens
die nuwe Joe nie. Party stap somma verby! Ma ek blame hulle nie. Ek is mos ‘n
nuwe mens!” Dan kry hy ‘n ver-af kyk in sy oë en sê heel ernsig: “ Ek dink
baie aan die vroeëre dae en wat van my sou gewôrre het as daai meisietjie nie
my hanne kô vat hettie…”
Vir ‘n
oomblik – wat vir haar soos ‘n ewigheid voel – kyk hulle woordeloos vir mekaar
en glimlag.
Dit is Martie
wat eerste die stilte breek: “Ek is bly Johannes. Sjoe, dit is wonderlik…” en
dan is dit haar beurt om die trane weg te vee.
Hy kyk na
haar en dit voel asof sy blik reg deur haar “grêndgeit” en voorgee sny tot diep
in haar hart.
“ Mevrou
wiet, as Hy, wat die Here is, dit vir Johannes kon doen – dan kan Hy dit mos somma maklik vir Mevrou ôk
doen! Ek het noggie soe ‘n liefde gevoel nie. Nie eens by my eie ma nie. Rêrig.
Dit maak als bieterer en bieterer. Promise. Ons amal kan ma ons smile opsit virrie mense ma Hy
wiet als. Hy sien onse modder en Hy wil dit wegvat. Mevrou se grênd modder ôk!”
Hy glimlag toe sy bietjie ontspan. “ Ek sal bid lat Hy met mevrou ôk moet kô
dans!”
Sy soek na
haar sonbril in haar handsak om haar trane weg te steek en kry net ‘n
flouerige: “Dankie, Johannes..” uit. Met daardie
woorde draai hy om en stap terug in die rigting van die winkel, sonder om weer
om te draai.
Skielik voel
die verstrooide kruideniersware en die ander goed waarmee haar kop só besig
was, nie meer belangrik nie.
Terug in die
motor skakel sy die radio aan en probeer nog sin maak van die vreemde middag
toe die liedjie se woorde haar agter die stuurwiel laat versteen: “ …nuwe
wyn…minder woorde…nuwe wyn…Skinker Gees bring nuwe wyn…dis ‘n teengif vir die
passie wat so kwyn…beste wyn… soetste wyn...U Nuwe Wyn…”
“Johannes”
dink sy, “die Here is Genadig”… en sy weet sommer dat dié Soetwyn-warmte wat sy
nou voel, ook besig is om al die modder van haar lyf af te was…