Dinsdag 02 Junie 2015

Hoe diep?

Hoe diep wil jy liefgehê word?

Die laaste ruk is ek nogals gekonfronteer met hierdie vraag in my eie lewe.

Hoe diep wil ek Liefde toelaat?
Wat beteken dit om "diep" Liefde te ontvang?

Die eerste beeld wat by my opgekom het was die een in Openbaring 3:20. Jesus staan by die deur van ons harte en klop, sodat Hy 'n feesmaal saam met ons kan hou...

MAAR dis asof Hy hierdie keer nie net aan my voordeur of "huisbesoek sitkamer" -deur kom klop het nie. Hy wil ook inkom in die kamers waar ek dalk nie so gemaklik is met Hom daar nie. Dalk die badkamer waar die pype al lank verstop is en dit sleg ruik, of die slaapkamer waar die mure kraak. Die braai-kamer met die vorige aand se paartie en al die kaste waar jare se geraamtes vol stof lê...

Hy wil in elke hoekie van die huis 'n feesmaal hou, maar Hy is 'n gentleman. Hy wag vir ons om die deure oop te maak sodat Hy al die geraamtes en plumbing kan uitsorteer. Ons moet Sy Gees daar toelaat. Hulle Drie maak die perfekte make-over span.

Die tweede beeld waaraan ek gedink het, is dié van 'n spons. Ons is emosionele en ervarings-sponse. Deur die loop van ons lewens absorbeer ons dit wat oor ons pad kom en wat infiltreer deur ons spesifieke persoonlikheid en menswees. Goeie en slegte dinge. Goeie en slegte filters. Dit maak ons wie ons is.

Ons sponse groei en verhard (of versag) op sekere plekke soos ons sekere emosies toelaat en vasvang in ons netwerk van Self.

Wanneer ons dan onder druk is, vloei dit wat ons oor die jare vasgevang / ge-absorbeer het, na buite. Binne elke situasie is daar dan ook die potensiaal om nuwe dinge te absorbeer. 'n Spons vol seerkry, lek seerkry na buite en die seer kan dalk weer in 'n ander spons invloei...

MAAR daar is 'n alternatief. Sy Teenwoordigheid. Wanneer ons ons 'sponse' bring na die emmer van Sy Teenwoordigheid en toelaat dat ons seerkry daar uitvloei, kan ons Sy perfekte liefde absorbeer.  Dit neutraliseer die seerkry en maak plek vir vars Lewende Water. Wat is nodig in die proses? Om toe te laat dat Hy saggies op die seer dele van ons sponse druk. Hy weet dat ons dalk net 'n bietjie op 'n slag kan hanteer. Hy is liefdevol, genadig, lank-moedig en Goed. Volgende keer druk Hy dalk 'n bietjie harder sodat Sy liefde dieper kan invloei. Hy wil ons liefhê tot in die diepste-diep van ons wese. Tot daar waar jy gevorm is en waar jy dalk nie eers weet van die harde dele of skewe filters wat jy opgebou het oor die jare nie.

En die uiteinde van dit alles? Wanneer ons toelaat dat Hy invloei en ons vul met Sy Volheid en elke dag lewe in Sy Teenwoordigheid, neem ons daardie emmer saam, waar ons ook al gaan. Ons verander die atmosfeer en raak 'n plekkie waar ander se seerkry kan uitvloei en kan neutraliseer.

Ons raak sponse vol van Hom en Sy Lewende water, sodat ander ook dieper Liefgehê kan word.

Mag ons WEEK in Hom vandag en emmers vol perfekte liefde ronddra sodat ons ander met Sy liefde kan verkwik al vat dit 'n bietjie DRUK van Sy kant af.

2 Corintihans 1: 3-4

3-4 What a wonderful God we have—he is the Father of our Lord Jesus Christ, the source of every mercy, and the one who so wonderfully comforts and strengthens us in our hardships and trials. And why does he do this? So that when others are troubled, needing our sympathy and encouragement, we can pass on to them this same help and comfort God has given us. 5 You can be sure that the more we undergo sufferings for Christ, the more he will shower us with his comfort and encouragement. 6-7 We are in deep trouble for bringing you God’s comfort and salvation. But in our trouble God has comforted us—and this, too, to help you: to show you from our personal experience how God will tenderly comfort you when you undergo these same sufferings. He will give you the strength to endure.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking